In die spore van die OU MANNE

Alzena Gomes, kommunikasie- en skakelbeampte, Graan SA
Gepubliseer: 3 Julie 2026

48

Daar is min dinge wat soveel waarde het soos ’n tafel vol mense wat dekades se ervaring, stories en wysheid deel. By Graan SA glo ons dat die toekoms nie net gebou word deur nuwe idees nie, maar ook deur die lesse van diegene wat reeds die pad gestap het.

Dit is juis waarom die jaarlikse Ou Manne-byeenkoms nou ’n vaste instelling op die Graan SA-kalender geword het. Vir die tweede agtereenvolgende jaar het voormalige voorsitters, direksielede, uitvoerende bestuur en huidige leiers op NAMPO Park bymekaargekom – nie net om ou herinneringe op te haal nie, maar om weer saam na die uitdagings én geleenthede van die graanbedryf te kyk.

Ervaring só oorgedra
Die atmosfeer is een wat moeilik beskryf kan word. Daar word hartlik gegroet, stories uitgeruil en baie gelag. Vriendskappe wat oor dekades gesmee is word weer versterk. Maar tussen die ligte oom­blikke deur gebeur iets baie besonders: Ervaring word oorgedra.

Elke organisasie het sy geskiedenis. Graan SA se geskiedenis is geskryf deur mense wat dikwels moeilike besluite moes neem, uitdagende tye moes trotseer en die organisasie deur politieke, ekonomiese en landboukundige veranderinge moes lei. Hulle het diep spore getrap waarop ons vandag met trots kan voortbou.

Daardie spore verdwyn nie wanneer iemand aftree nie. Inteendeel, Graan SA heg groot waarde aan die wysheid, insigte en raad van sy voormalige leiers. Hulle verstaan die ge­skiedenis van die organisasie, ken die redes waarom sekere besluite geneem is en bied perspektief wat slegs deur jare se ervaring verkry kan word.

Die Ou Manne-byeenkoms is daarom veel meer as ’n sosiale geleentheid. Dit is ’n manier waarop Graan SA erkenning gee aan die mense wat die organisasie help bou het. Dit is ons manier om dankie te sê vir hul diens en om te wys dat hul stemme steeds saak maak. Terselfdertyd bied dit aan die huidige leierskap ’n unieke geleentheid om te luister, vrae te vra en te leer uit dekades se praktiese ervaring. Só word waardevolle institusionele kennis bewaar en oorgedra na ’n nuwe geslag leiers.

Die gesprekke tydens vanjaar se byeenkoms het weer ge­wys hoe sterk die verbintenis tussen oud en nuut bly. Onderwerpe soos marktoestande, produsente se winsgewendheid, navorsing, belangebevordering, die behoud van ’n vryemarkstelsel en die betrokkenheid van jong produsente is openhartig bespreek. Soos altyd was die aanbevelings nie kritiek nie, maar konstruktiewe insette van mense wat steeds die sukses van Graan SA en Suid-Afrikaanse graanprodusente op die hart dra.

Wat opvallend is, is dat die kernboodskap deurgaans dieselfde bly as waarvoor Graan SA nog altyd gestaan het: om die stem van graan- en oliesaadprodusente te wees en hul belange met integri­teit te dien. Hierdie gedeelde waardes verbind geslagte van leiers met mekaar.

Vir jonger produsente is daar ook ’n belangrike les. Vandag se uitdagings mag anders lyk as dié van twintig of dertig jaar gelede, maar beginsels soos volharding, verantwoordelike leierskap, geloofwaardigheid en diens aan medeprodusente bly tydloos. Die geleentheid om by die “ou stamvaders” van die organisasie te sit en hul stories eerstehands te hoor, is ’n voorreg wat nie maklik in boeke of notules vasgevang kan word nie.

Ou Manne-byeenkoms nou ‘n tradisie
By Graan SA glo ons dat ’n organisasie wat sy geskiedenis respekteer, met groter selfvertroue sy toekoms kan aanpak. Daarom sal die Ou Manne-byeenkoms voortgaan as ’n jaarlikse tradisie op NAMPO Park – ’n geleentheid waar herinneringe gedeel word, vriendskappe hernu word, wysheid oorgedra word en die fondamente waarop Graan SA gebou is, weer bevestig word. Want uiteindelik gaan dit nie net oor waar ons vandag staan nie. Dit gaan ook oor die mense wat die pad voor ons oopgetrap het sodat die volgende geslag met moed en trots daarop kan voortbou.

Hulle nalatenskap leef voort – nie net in die geskiedenis van Graan SA nie, maar in elke produsent wat vandag voordeel trek uit die organisasie wat hulle help vorm het.

Die funksie is ’n spesiale geleentheid waar voormalige Raadslede herinneringe koester, maar ook die huidige uitdagings en geleenthede binne die graanbedryf bespreek.