Weerstandigheid by onkruide: ekonomiese gevolge en praktiese maatreëls

Gepubliseer: 9 Junie 2026

52
Prof Juan Vorster, Plant- en Grondweten-skappe, SAHRI, Universiteit van Pretoria

Onkruiddoderweerstand is een van die dringendste uitdagings wat graanprodusente moet trotseer. Wat begin het as geïsoleerde gevalle van plante wat onkruiddoderbespuitings oorleef, het ontwikkel tot ’n wydverspreide verskynsel wat winsgewendheid bedreig, produksiekoste verhoog en dekades van landbou-innovasie ondermyn. Vir graanprodusente in somerreënvalstreke is dit nie meer opsioneel om die drywers van weerstand te verstaan en voorkomende strategieë toe te pas nie – dit is noodsaaklik vir langtermynvolhoubaarheid.

Onkruiddoderweerstand is die oorgeërfde vermoë van ’n plant om ’n onkruiddoder-
toediening te oorleef wat normaalweg die plant sou doodmaak. Oormatige vertroue op enkele metodes van onkruidbeheer het geweldige seleksiedruk geskep, wat hierdie evolusionêre proses wêreldwyd versnel.

Hoe onkruiddoderweerstand ontwikkel
Onkruiddoderweerstand by onkruide ontstaan deur ’n evolusionêre proses wat gedryf word deur seleksiedruk as gevolg van onkruiddodergebruik. Wanneer onkruiddoders aangewend word om onkruide te beheer, besit ’n paar individuele plante natuurlike genetiese varia­sies wat hulle toelaat om die onkruiddoder te oorleef.

As hierdie weerstandbiedende individue toegelaat word om saad te maak, gee hulle hul weerstands­eienskappe aan die volgende generasies deur. Met verloop van tyd en met herhaalde en dikwels eksklu­siewe gebruik van dieselfde onkruiddoder of onkruiddoders met dieselfde meganisme van werking, neem die weerstandbiedende onkruiddoderpopulasies toe, wat lei tot wydverspreide weerstand.

Figuur 1: Hoe herhaalde gebruik van dieselfde onkruiddoders seleksie dryf.
Figuur 2: Wêreldwye unieke gevalle.

Koste van onkruiddoderweerstand
Die finansiële impak van onkruiddoderweerstand strek veel verder as die onmiddellike koste van ekstra on­kruid­dodertoedienings. Internasionale studies toon ’n ernstige prentjie van die ekonomiese las wat weerstand op boerderye plaas. Toe glifosaat-weerstandige gewasse vir die eerste keer bekendgestel is, het dit beduidende kostebesparings en vereenvoudigde onkruidbeheer gebied, wat produsente in staat gestel het om grondbewerking en arbeid te verminder. Die ontstaan van weerstandige onkruide het egter baie van hierdie voordele omgekeer. Produsente wat met onkruiddoderweerstand te kampe het, ervaar dikwels verhoogde koste soos die noodsaaklikheid van ekstra onkruiddodertoedienings, dikwels met duurder produkte. Meganiese beheermaatreëls soos grondbewerking moet soms herhaal word, wat brandstof- en arbeidskoste verhoog. In vele gevalle lei kompetisie tussen weerstandige onkruide en gewasse tot opbrengsverliese wat winsgrense wat reeds onder druk is verder verlaag.

Onkruiddoderweerstandskuld verwys na die situa­sie waar huidige landboupraktyke toestande skep wat onvermydelik in die toekoms sal lei tot verhoogde weerstands-
probleme. Dit verduidelik die vertraagde perio­de tussen seleksiedruk wat deur onkruiddodergebruik uitgeoefen word en die werklike ontstaan en opspo­ring van weerstandbiedende onkruidspesies. Hierdie konsep beklemtoon dat hoewel weerstand dalk nie onmiddellik sigbaar is nie, die toestande reeds in plek is vir weerstandbiedende onkruide om toe te neem, wat mettertyd tot groter weerstandsprobleme lei indien geen voorkomende maatreëls getref word nie.

Vir graanprodusente is die praktiese gevolg duidelik: Verwag stygende insetkoste waar weerstand voorkom of vererger. Strategiese beplanning moet begrotings insluit vir moniteringsprogramme, alternatiewe onkruiddoders, meganiese beheermetodes asook moontlike opbrengsverliese. Bewyse dui egter aan dat beleggings in gediversifiseerde gewasrotasies en taktieke wat die onkruidsaadbank verminder, langtermynwins-
gewendheid kan beskerm deur die ontstaan van weerstand te vertraag.

Die biologie agter die probleem
Om onkruiddoderweerstand effektief te bestuur, moet produsente die biologiese meganismes verstaan wat onkruide in staat stel om onkruiddoders te oorleef. Weerstand ontwikkel deur twee meganismes: teikenweerstand en nieteikenweerstand. Teikenweerstand vind plaas wanneer genetiese mutasies die aktiewe bestanddeel van die onkruiddoder se bindingsplek binne die plant verander, wat voorkom dat die onkruiddoder effektief bind. ’n Enkele aminosuurvervanging in kernensieme soos EPSPS (die teiken van glifosaat) of ALS (groep 2/B-onkruiddoders) kan weerstand teen die hele groep van onkruiddoders veroorsaak.

Nieteikenweerstand is meer kompleks en behels dikwels verskeie gene wat saamwerk. Verhoogde metabolisme is een van die belangrikste meganismes waardeur plante hul vermoë verhoog om die onkruiddoders af te breek voordat dit die teiken bereik. Hierdie tipe weerstand is veral kommerwekkend aangesien dit weerstand teen verskeie onkruiddodermega­nismes gesamentlik kan veroorsaak. Ander meganismes sluit in verminderde opname of translokasie van die onkruiddoder, isolasie van die onkruiddoder asook geenvermeerdering, waar daar meer van die teikenensiem geproduseer word as wat die onkruid­doder kan onderdruk.

Boerderypraktyke wat die ontwikkeling van weerstand bevorder
Die praktyke wat die meeste bydra tot die ontwikkeling van on­kruiddoderweerstand is goed gedokumenteer. Die belang­rikste drywer is die herhaalde gebruik van onkruiddoders met dieselfde werkingsmeganisme. Wanneer dieselfde onkruiddoder of onkruiddoders met dieselfde meganismes se produkte seisoen na seisoen gebruik word, neem seleksiedruk toe en evolusie van weerstand versnel. Vereenvoudigde gewasrotasies en monokultuursisteme vererger die probleem deur die dominansie van spesifieke onkruidspesies te bevorder.

Die vergelyking tussen konvensionele bewerkingstelsels en bewaringslandbou toon belangrike verskille. Konvensionele bewerking verminder oppervlaksaadbanke deur sade te begrawe, maar verhoog grondversteuring, brandstofkoste en erosierisiko. Bewaringslandbou soos geen- of minimumbewer­king bied voordele vir grondge-
sondheid en brandstofbespa­ring, maar dit maak dikwels meer staat op onkruiddoders omdat meganiese beheer verminder is. Sonder diversifikasie in on­kruid­d­odergebruik en ander beheermaatreëls soos gewasrotasies, kan weerstands­probleme in geenbewerkingstelsels toeneem.

Onkruidkenmerke wat weerstand versnel
Sommige onkruidspesies is meer geneig tot weerstandsontwikkeling as ander. Hoë saadproduksie gee meer geleenthede vir weerstandige mutasies. Spesies soos misbredie (Amaranthus spp.) en skraalhans (Conyza spp.) wat honderde duisende sade per plant produseer, is geneig om makliker weerstand te ontwikkel. Kort generasietye versnel seleksie omdat meer generasies binne ’n groeiseisoen kan voorkom. Wanneer onkruiddoders op verkeerde groeistadiums aangewend word, kan dit ook tot verlaagde effektiwiteit en uiteindelik na die ontwikkeling van weerstand lei.

Vroeë opsporing van weerstand
Vroeë opsporing van weerstand bied meer bestuursopsies en voorkom wydverspreide vestiging van weerstandbiedende plante. Dit begin met sorgvuldige veldopnames en goeie rekordhouding. Produsente moet spuitrekords hou en patrone van oorlewende onkruide oor seisoene identifiseer. Indien onkruiddoders nie konsekwent werk nie, moet verdagte voorvalle aangemeld word en blaarmonsters of saad vir toetsing ingesamel word. Molekulêre toetse kan spesifieke mutasies bevestig, veral vir glifosaat- en ALS-weerstand. Pak dus die bul so gou moontlik by die horings om langtermynpro-
bleme en verhoogde insetkoste te voorkom.

Kontak gerus vir SAHRI (South African Herbicide Resistance Initiative) by www.up.ac.za/sahri of dr Juan Vorster by juan.vorster@up.ac.za vir meer inligting.