Wanpersepsies oor byvoegmiddels

Dr Brian de Villiers, onafhanklike byvoegmiddelkonsultant
Gepubliseer: 9 Junie 2026

61

Byvoegmiddels speel ’n belangrike rol tydens bespuitings en sorg dat die gewasbe-skermingsproduk (GBP) sy potensiaal bereik. Dit help in die spuitoplossingfase, die spuit­druppelfase asook die plantfase en is ’n onmisbare deel van die spuitproses.

Hoewel dit wyd in Suid-Afrika met verskeie toedienings gebruik word, is daar ongelukkig nog heelwat wanpersepsies oor byvoegmiddels. Hierdie wanpersepsies veroorsaak verkeerde gebruik, wat een van die hoofredes is vir oneffektiwiteit, onverenigbaarheid en selfs gewasskade.

In die spuitoplossing
Die aspek in die spuitoplossing wat die meeste verwarring veroorsaak is die pH. Dit is ’n bekende feit dat verskeie insekdoders en ander GBP’s deur ’n alkaliese spuitoplossing benadeel word. Produkte word teen ’n hoë pH aan alkaliese hidrolise blootgestel of sekere produkte word swakker teen ’n hoë pH opgeneem. Hierdie nadele van ’n alkaliese pH skep egter verwarring en die persepsie is dat alle spuitoplossings versuur moet word. Dit is nie waar nie, en buf­fers behoort net gebruik te word om een van hierdie aspekte aan te pak. Indien buffers standaard gebruik word, kan hulle die oplosbaarheid van sekere GBP’s benadeel wat tot onverenigbaarheid en oneffektiwiteit kan lei (Foto 1). Die onverenigbaarheid wat deur lae pH veroorsaak word is nie ’n unieke probleem met buffers nie. Dit geld ook vir enige komponent in die spuittenk wat die pH uitermatig versuur.

Verenigbaarheid van glifosaat en MCPA-mengsels teen verskillende pH.

pH word dikwels as die enigste aanduiding van bufferkapasiteit beskou. Daar word byvoorbeeld verkeerdelik aanvaar dat water met ’n lae pH altyd min bufferkapasiteit het en dus ’n lae dosis buffer benodig. Indien ’n lae dosis buffer gebruik word met water wat ’n hoë buf­ferkapasiteit het, sal die pH nie genoeg versuur word nie. Die teendeel is egter ook waar, waar daar aangeneem word dat water met ’n hoë pH ’n hoë buffer-
kapasiteit het. ’n Hoë dosis buffer sal dus gebruik word om die pH te versuur. As die bufferkapasiteit egter laag is, sal die water dalk oorversuur word. pH en bufferkapasiteit is dus gewoonlik nie gekorreleerd nie.

Nog ’n wanpersepsie oor pH is dat dit dikwels as maatstaf vir die katiooninhoud van water beskou word. Indien die pH hoog is, word daar aanvaar dat die katioonvlakke hoog is, asook die teenoorgestelde. Hierdie is ’n gevaarlike wanpersepsie omdat water met ’n neutrale pH nog steeds baie brak of hard kan wees. pH kan dus ook nie as maatstaf vir katioonvlakke dien nie. As produsente die katioonvlakke en buffer-
kapasiteit van water wil bepaal, moet ’n volledige wateront­leding gedoen word.

Die grootste wanpersepsie oor katione in water is dat net harde water, wat hoë konsentrasies kalsium en magnesium bevat, antagonisties vir onkruiddoders soos glifosaat is. Dit is waar dat die divalente (dubbel positief-gelaaide) katione meer antagonisties as die monovalente katione is, maar katione soos natrium en kalium is ook antagonisties. Inteendeel, bloot oor die hoë vlakke van natrium in baie Suid-Afrikaanse water, is dit heel waarskynlik die belangrikste anta­gonistiese katioon in sekere streke. Soutbyvoegmiddels moet dus ten minste kalsium, magnesium, natrium en kalium teen hoë vlakke kan hanteer om effektief te wees. Dit is die hoofrede waarom ammoniumsulfaat-bevattende byvoegmiddels so wyd en suksesvol met glifosaat en ander katioon-sensitiewe onkruiddoders gebruik word. Dit hanteer al vier hierdie katione teen hoë vlakke en verbeter die effektiwiteit van glifosaat met verskeie waterkwaliteite en tenkmengsels.

Op die plant
Alhoewel benatters wat baie effektief versprei, ’n belangrike rol in sekere toedienings speel, is daar ’n wanpersepsie dat hoë druppelverspreiding altyd die beste opsie is. Daar is wel sekere GBP’s wat hoë druppelverspreiding verkies, maar dit is nie altyd die geval nie. Die feit dat sekere GBP’s met spesifieke benatters of olies ge­registreer is, beteken dat dit die effektiefste byvoegmiddel vir die betrokke produk is. Daarom is dit altyd belangrik om by die etiketaanbevole benatter of olie te hou.

Indien die geregistreerde byvoegmiddel met ’n bepaalde sprei­vermoë met ’n ander produk vervang word, kan opname van GBP’s benadeel word. Hierdie beginsel is meer van toepassing op sekere GBP’s, maar dit bly ’n risiko om benatters te vervang.

’n Verdere wanpersepsie is dat indien twee benatters dieselfde spreivermoë het, hulle mekaar effektief kan vervang. Produsente het dikwels ’n benatter in die stoor wat hulle in plaas van die geregi­streerde produk gebruik. Navorsing het bewys dat selfs benatters met dieselfde spreivermoë se effektiwiteit met GBP’s kan verskil, bloot omdat dit verskillende chemiese samestellings het (Foto 2). Benatters met dieselfde spreiver-
moëns kan dus verskillende behouds-, herbe­nattings-, en opname-eienskappe hê. Dit beteken dat twee benatters met presies dieselfde druppelverspreiding dus totaal verskillend met ’n GBP kan presteer – net nog ’n rede om by die etiket te hou! Daar word dikwels vergeet dat benatters en olies nie net oppervlakspanning verlaag nie, maar ’n belangrike rol op die plant vervul lank nadat die water verdamp het. Behoud en druppelverspreiding met twee produkte is dalk presies dieselfde, maar die opnamevermoë in die onkruid of gewas verskil beduidend.

Byvoegmiddels met soortgelyke spreivermoë is nie altyd ewe effektief nie.

Daar is ook mense wat glo dat benatters en olies die hoofrede vir gewasskade is. Dit is moeilik om te verstaan dat byvoegmiddels die skuld vir gewasskade kry as daar veel-
vuldige komponente in die spuittenk is. Dit is belangrik om te besef dat byvoeg-
middels se uitsluitlike doel is om die GBP te help om meer van sy potensiaal te realiseer. Dit verminder dus die impak van omgewingsfaktore soos waterkwaliteit, lae humiditeit en temperatuur. Indien daar gewasskade is, moet eerder na faktore soos ongeregistreerde tenkmengsels, toediening of te lae watervolume gekyk word. Byvoegmiddels is uiters selde die sondebok en daarom moet alle faktore in ag geneem word voordat dit die skuld kry.

Algemene wanpersepsies
Aangesien byvoegmiddels dikwels verkeerdelik as ’n luuksheid beskou word, gebruik produsente dit soos die finansies toelaat. Byvoegmiddels word dus dikwels heeltemal weggelaat of met ’n goedkoper produk vervang. Daar moet besef word dat byvoeg-
middels ’n integrale deel van bespuitings is en bepaalde beperkings van die GBP hanteer. Dit sluit watergevoeligheid, deposisie, behoud, verspreiding en opname in. Indien ’n GBP met ’n byvoegmiddel geregistreer is en dit word weggelaat of met ’n ander produk vervang, kan probleme soos oneffektiwiteit en onver­enigbaarheid voorkom. Die waarde van byvoegmiddels word dikwels onderskat, daarom word dit verkeerd gebruik of selfs weggelaat. ’n GBP wat sonder sy geregi­streerde byvoegmiddel toegedien word het ’n goeie kans om te misluk.

Soms word byvoegmiddels weer as wonderprodukte beskou wat alles regmaak. Dit skep dus die geleentheid om van etikette af te wyk, juis omdat dit swak omgewings-
toestande teiken. Etiketriglyne soos watervolume, aanvaarbare omgewingstoestande, tenkmengsels en waterkwaliteitsvereistes word verontagsaam omdat ’n byvoegmiddel gebruik word. Byvoegmiddels behoort nooit ’n verskoning te wees om van die etiket af te wyk nie. Dit is bedoel om met gesonde gewasbe­skermingspraktyke gebruik te word om aanvaarbare beheer te verkry. Dit is dus ’n integrale deel van die tenkmengsel, net soos al die ander produkte.

Slot
Byvoegmiddels is ongelooflike produkte wat GBP’s help om hul potensiaal te bereik. Dit verminder die invloed van die omge­wing om die beste moontlike beheer te kry. Daar is egter heelwat wanpersepsies oor byvoegmiddels, daarom word dit dikwels wanaan-
gewend. Dit is juis oor hier­die wanpersepsies en wanpraktyke dat byvoegmiddels dikwels as foefies en ’n onnodige koste beskou word.

Dit is belangrik om byvoegmiddels kor­rek volgens etiketriglyne te gebruik. Enige afwy-
king hiervan kan oneffektiwiteit of onverenigbaarheid veroorsaak. Dit is egter soms moeilik om ’n byvoegmiddel vir ’n bespuiting te kies, veral as dit ’n veelvuldige tenk-
mengsel is. Indien daar enige onsekerheid is, maak eers by die agent seker of dit die korrekte keuse is. Gebruik ook produkte wat deeglik beproef is.