Veelsydigheid en vindingrykheid voorop by Boereplanne

Karina Muller, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 9 Junie 2026

39

Van ’n neutkraker tot ’n rotgeweer en Ouma se naaldwerkkassie wat jou papnat spuit – dit is maar enkele van die vindingryke planne wat vir die Boereplanne-kompetisie by die NAMPO Oesdag ingeskryf is. Daar was vanjaar 31 inskrywings van twaalf deelnemers.

Pa en dogter Bertus en Nicolene Goosen van Matlakeng in Botswana het vanjaar saam vir meer as die helfte van die inskrywings gesorg. Die Goosens is ou bekendes by die Boereplanne-kompetisie en hul inskrywings het weer nie teleurgestel nie.

By die prysuitdelingsgeleentheid het Richard Krige, voorsitter van Graan SA, gesê dit is ’n voorreg om by hierdie kompetisie betrokke te wees. Hy het die wenners gelukgewens en deelnemers vir hul inskrywings bedank. Op sy beurt het Louis Strydom, bemarkings­direkteur van Omnia, die deelnemers bedank vir die moeite wat hulle met hul inskrywings gedoen het. Vanjaar se beoordelingspan het bestaan uit Chris Schoonwinkel, Tom van Rooyen, Andries Theron en Willie Marais.

Wenners
Kategorie A – Masjinerie, implemente en landboutoerusting (nuut)
1 André en Daleen Dippenaar – Spaarbandpomp
2 Riaan Claasen – Laagspanning-heining
3 Michris Janse van Rensburg – Grasplanter
4 Bertus van der Linde – Boorgatslot-en-grendel

Kategorie B – Masjinerie, implemente en landboutoerusting (gemodifiseerd)
1 Petrus Taljaard – Kalfkanteltafel
2 Bertus Goosen – Tussenpaal-valkerf (dropper notch)
3 Jedri Janse van Rensburg – Outomatiese skaap- of beesspuit

Kategorie C – Alle gereedskap, elektries en nie-elektries
1 Willem van den Berg – Rotgeweer
2 Bertus Goosen – Extension strong
3 Bertus Goosen – Kompakteerder

Kategorie D – Huis en tuin
1 Nicolene Goosen – Neutkraker
2 Bertus Goosen – 3-in-1-houtwerktoestel
3 Nicolene Goosen – Mikrosprinkelaar

Kategorie E – Ope afdeling
1 Nicolene Goosen – Wielopligtoestel (wheel lift)
2 Nicolene Goosen – Siekbed vir kleinvee
3 Bertus Goosen – Mikrosproeier-paalplanter

Kategorie F – Skole en tersiêre instansies
1 Jedri Janse van Rensburg – Vakuum-saaduitmeter

Kategorie G – Kommersiële afdeling
1 Jan van Sandwyk – Boorgatsluittoestel (bore secure)

Spesiale pryse
Michris Janse van Rensburg – Voertuigsaniteringstoestel (bek-en-klouprotokol)
Werner Dreyer – Skrumtoestel

Bertus Goosen, wat reeds vir sowat 27 jaar aan die Boereplanne-kompetisie deelneem, het vanjaar met vyf pryse huis toe gegaan. Sy inskrywings het bestaan uit ’n toestel om heinings te span en drade maklik reg te maak, ’n masjien om te help met ontbossing op sy plaas, ’n verstelbare haak wat op enige trekstang pas, ’n uittrekker-en-planter, ’n 3-in-1-houtwerktoestel, ’n botteloopmaker, ’n houtwerkmasjien, ’n knip-en-buigmasjien en ’n verlengstuk vir ’n moersleutel. Wanneer Goosen ’n blink idee kry, teken hy dit in sy sakboekie aan om later te maak. Hy het steeds al sy sakboekies vanaf 1982.
Die 20-jarige Nicolene Goosen het vanjaar ses planne ingeskryf: ’n neutkraker (eerste prys), ’n wielopligtoestel (eerste prys), ’n siekbed vir kleinvee (tweede prys), ’n mikrosprinkelaar (derde prys), ’n plan om naalde en spelde maklik op te tel (magic pick-up) en ’n mikstok om te keer dat kleinvee onderdeur drade kruip. Sy vertel die neutkraker is eintlik ’n grap, omdat dit eenvoudig uit ’n moer (nut) en skroef bestaan.
Dr Dirk Strydom, besturende direkteur: Nampo (Pty) Ltd, tydens die prysuitdelingsgeleentheid van vanjaar se Boereplanne-kompetisie. Dit word gesamentlik deur Graan SA, Omnia en Landbouweekblad geborg.
Jedri Janse van Rensburg (links), ’n voornemende student aan Sol-Tech, het met hierdie vakuum-saaduitmeter in die Skole-afdeling gewen. Hy het ook ’n derde plek in Kategorie B met sy skaap- of beesspuit behaal. Hier is hy saam met Louis Strydom, bemarkingsdirekteur van Omnia.
Dié inwoners van Pella in Noordwes was baie beïndruk met Petrus Taljaard van Ermelo se kalfkanteltafel en meen so iets sal handig in hul boerdery te pas kom. Hulle is Kaelo Segano, Moilwa Motepe, Kearabilwe Lentswe en Lea Segano. Taljaard vertel hy het die toestel gebou om kalwers maklik te kon vriesbrand.
Hierdie oënskynlik eenvoudige naaldwerkboksie het menige NAMPO-besoeker laat wegspring en vir lekker lag gesorg. Die boksie spuit ’n straal water uit wanneer die deksel gelig word.