NAMPO 2026 bekragtig landbou se veerkragtigheid deur innovasie

Alzena Gomes, kommunikasie- en skakelbeampte, Graan SA
Gepubliseer: 9 Junie 2026

47

Die 58ste NAMPO Oesdag, met trots aangebied deur Graan SA vanaf 12 tot 15 Mei op NAMPO Park, het op ’n hoë noot afgesluit en weer eens sy posisie as die grootste buiteluglandbouhandelsuitstalling in die Suidelike Halfrond en een van die belangrikste landboubyeenkomste ter wêreld bevestig.

Met die tema “Veerkragtigheid deur innovasie” het NAMPO 2026 oor vier dae 81 822 besoekers verwelkom, met Woensdag waarop die hoogste enkeldagbywoning van
24 579 besoekers aangeteken is. Meer as 910 uitstallers het die nuutste landbou-
masjinerie, tegnologie, insette, dienste en innovasies aan produsente en belang-
hebbendes vanuit die hele landbouwaardeketting ten toon gestel.

Die lugruim bo NAMPO Park was net so bedrywig soos die terrein self, met 311 vliegtuie, 100 helikopters en ’n totaal van 657 lugbewegings wat gedurende die week aan­geteken is – nóg ’n bewys van NAMPO se nasionale en internasionale relevansie en reikwydte.

NAMPO Park het vanjaar 81 822 besoekers verwelkom.

Weeruitdagings en verkeersdruk suksesvol bestuur
Ten spyte van swaar reënval in die aanloop tot die skou wat groot druk op die terrein en omliggende padinfrastruktuur geplaas het, is die geleentheid suksesvol aangebied danksy uitgebreide voorbereiding en gekoördineerde operasionele beplanning.

“Die aanloop tot NAMPO vanjaar was uitsonderlik. ’n Week voor die skou was gedeeltes van die terrein steeds erg versuip ná beduidende reënval; tog het die span dag en nag gewerk om seker te maak die park is gereed vir uitstallers en besoekers,” het dr Dirk Strydom, be­sturende direkteur: Nampo (Pty) Ltd, gesê.

Vroegoggend op die park.

Hy het bygevoeg dat die nat toestande ook verdere druk op verkeersvloei geplaas het aangesien meer as 30 km se grondtoegangspaaie nie benut kon word nie, insluitend ’n bykomende toegangspunt na die noordelike parkeerarea, wat veroorsaak het dat die meeste verkeer deur die R30-korridor moes beweeg. Die NAMPO-span ondersoek reeds nuwe moontlikhede om toegang tot die terrein te verbeter en beplan om potensiële oplossings met SANRAL, die eienaar van die R30, te bespreek. Die druk verkeer is Woensdag vererger deur Toyota South Africa Motors se Toyota Hilux Guinness-wêreldrekordpoging wat op NAMPO Park aangebied is. Dit het ’n totaal van 1 545 Hilux-bakkies na die gebied gelok en tydelik die verkeersvloei beïnvloed.

“Hoewel die verkeersopeenhopings verstaanbare frustrasie vir sommige besoekers veroorsaak het, waardeer ons opreg die geduld en ondersteuning van die publiek. Ons spanne het nou saam met verkeersowerhede gewerk om die situasie so vinnig moontlik te stabiliseer. Ons is ook trots dat NAMPO só ’n unieke wêreldklasrekordpoging saam met die Oesdag kon aanbied,” het Strydom gesê.

‘n Arendsblik van NAMPO 2026, met vanjaar se meer as 910 uitstallers.

Landbou se veerkragtigheid ten toon gestel
Volgens Danie Minnaar, voorsitter van Graan SA se Oesdagkomitee, het vanjaar se NAMPO weer die veerkragtigheid en aanpasbaarheid van Suid-Afrikaanse landbou in moeilike ekonomiese en klimaatstoestande bewys.

“Produsente funksioneer in ’n omgewing van stygende insetkoste, infrastruktuur-
uitdagings, globale onsekerheid en druk op wins­gewendheid. Wat vanjaar uitgestaan het, was hoe die bedryf steeds aanpas, innoveer en praktiese oplossings vind,” het Minnaar gesê.

“Oor die hele terrein kon ’n mens sien hoe uitstallers fokus op tegnologie, toerusting, presisiestelsels en produksiemetodes wat daarop gemik is om produsente te help om doeltreffendheid te verbeter en volhoubaar te bly in moeilike toestande. Daardie gees van veerkragtigheid was oral by NAMPO sigbaar.”

Hy het ook die NAMPO Oesdagkomitee, uitstallers, besoekers, organiseerders, personeel, nooddienste, verkeersowerhede en vennote bedank vir hul bydrae tot die sukses van die geleentheid.

“Die toestande voor die skou was uiters uitdagend, tog het die span ’n uitstaande NAMPO aangebied. Landbou kan trots wees op wat hierdie week bereik is,” het hy bygevoeg.

Tydens die vier dae het 311 vliegtuie en 100 helikopters die pad na NAMPO Park vir die lug verruil.

NAMPO bly ’n strategiese bedryfsplatform
Richard Krige, voorsitter van Graan SA, het gesê NAMPO dien steeds as ’n kritieke platform vir die hele landbouwaardeketting om oor die toekomstige volhoubaarheid en mededingendheid van Suid-Afrikaanse landbou gesprek te voer.

“NAMPO is veel meer as net ’n uitstalling. Dit is waar landbou bymekaarkom om oplossings te bespreek, vennootskappe te bou, innovasie te dryf en die realiteite waarmee produsente gekonfronteer word, aan te spreek,” het Krige gesê.

Graan SA-lede is oudergewoonte in die ledelokaal met heerlike eet- en drinkgoed bederf. Hierdie ruimte bied die geleentheid om tussendeur al die Oesdag-opwinding te ontspan en te kuier.

“Vanjaar se gesprekke het gefokus op oplossings vir huidige winsgewendheid en toekomstige volhoubaarheid – die uitvoer van graanoorskotte asook die uitbreiding van markgeleenthede deur dierlike proteïen en biobrandstof. Dit het weer eens beklemtoon dat produsentewinsgewendheid sentraal staan tot voedselsekerheid, belegging en die langtermynvolhoubaarheid van die landbousektor. Produsente kan nie onbepaald aanhou om stygende insetkoste, logistieke mislukkings en beleidsonsekerheid te dra nie.”

Hy het bygevoeg dat NAMPO steeds die belangrikheid van samewerking en eenheid tussen georganiseerde landbou, landboubesighede, die regering, navorsers en finansiële instellings demonstreer in die aanpak van die sektor se uitdagings.

Die NAMPO Oesdag bly ‘n geleentheid waar families saam kosbare herinne­ringe kan maak.

Bek-en-klouseer en vee-uitstallers
Die uitbreking van bek-en-klouseer (BEK) tesame met voortge­sette siektebeheer-
maatreëls, het beduidende uitdagings vir die veebedryf geskep en groot druk op uitstallers en organiseerders geplaas.Ten spyte van hierdie beperkings het die veerkragtigheid, aanpasbaarheid en toewyding wat deur vee-uitstallers getoon is, verseker dat die veekomponent by NAMPO steeds insiggewend, relevant en vol impak gebly het.

Uitstallers het innoverende benaderings tot deelname gevolg deur alternatiewe uitstallingsmetodes, opvoedkundige demonstrasies, tegnologiegedrewe uitstallings en nuwe maniere van betrokkenheid met besoekers te implementeer. Hierdie pogings het nie net voldoening aan dieregesondheidsregulasies verseker nie, maar het ook die veebedryf se vermoë beklemtoon om by moeilike omstandighede aan te pas.

Ter wille van protokol rakende biosekuriteit het persone wat die perseel betree het deur ’n voetbad geloop wat met wit poeier gevul is om skoene te ontsmet.

Deur hierdie inisiatiewe kon besoekers steeds die belangrikheid van veeproduksie, uitstekende genetika, dieregesondheidsbestuur en landbou-innovasie op ’n verantwoordelike en betekenisvolle wyse ervaar. Die kreatiwiteit en professionaliteit wat deur die geleentheid ten toon gestel is, weerspieël die vasberadenheid van die Suid-Afrikaanse veebedryf om voort te gaan om te groei en ontwikkel ondanks beduidende uitdagings.

Besoekers het ’n fees gehad – of daar nou uitdagings met die verkeer was of selfs fisieke uitdagings.

Kritieke gesprekke het die week oorheers
Benewens die kommersiële sukses van die ekspo, was NAMPO 2026 ’n sentrale platform vir van die belangrikste strategiese gesprekke wat tans die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou vorm.

Gedurende die week het Graan SA NAMPO gebruik om hoë­vlakbesprekings tussen georganiseerde landbou, die regering, finansiële instellings, landboubesighede en bedryfsrolspelers te fasiliteer oor die dringende druk waaronder graanprodusente verkeer en die langtermynmededingendheid van die sektor.

Sentrale temas wat gesprekke oorheers het, sluit in:

  • die toenemende druk op produsentewinsgewendheid te midde van stygende insetkoste en lae kommoditeitspryse;
  • die behoefte aan verbeterde uitvoermededingendheid en marktoegang om groeiende graanoorskotte te verskuif;
  • logistieke en infrastruktuurbeperkings wat landboudoeltreffendheid beïnvloed;
  • finansieringsdruk en die impak van skuldherstruktureringsvereistes op produsente;
  • die dringende behoefte aan responsiewe handelsbeleid en implementering van koringtariewe te midde van swaar gesubsidieerde globale mededinging;
  • die uitbreiding van plaaslike waardekettings en “graan-op-pote”-geleenthede deur die vee-, voer- en proteïenbedrywe;
  • die strategiese rol van biobrandstof in die skep van nuwe graanvraag en ondersteuning van langtermynvolhoubaarheid van produsente;
  • kommersialiseringsroetes en toegang tot titelaktes vir ontwikkelende boere; en
  • die groeiende behoefte aan landbou-tegniese vaardigheids­ontwikkeling deur inisiatiewe soos NAMPO-Tech.

Hierdie gesprekke het Graan SA se breër boodskap gedurende NAMPO 2026 versterk: Veerkragtigheid in landbou kan nie op optimisme alleen staatmaak nie, maar vereis mededingendheid, innovasie, beleidsekerheid, infrastruktuurdoeltreffendheid en winsgewende produsente.

Hoëvlakbetrokkenheid gedurende die week het strategiese gesprekke tussen Graan SA se leierskap, finansiële instellings, die regering en bedryfsrolspelers ingesluit wat gefokus het op praktiese ingrypings om die veerkragtigheid en langtermynvol-
houbaarheid van Suid-Afrikaanse graanproduksie te versterk.

NAMPO is bekend vir sy sappige sosaties wat jaarliks deur Oesdaggangers verslind word.
Terreinvervoer was soos altyd beskikbaar om die moeë voete ’n blaaskans te gee.

NAMPO-Tech beklemtoon toekomstige landbouvaardighede
’n Belangrike toekomsgerigte gesprekspunt tydens NAMPO 2026 was die groeiende belangrikheid van tegniese vaardigheidsontwikkeling en landboutegnologie deur Graan SA se NAMPO-Tech-inisiatief.

Dié inisiatief het die regering, opleidingsinstellings, landbou­be­sighede en bedryfsleiers byeengebring om die groeiende tekort aan geskoolde landboutegnici, ambagslui en tegnologiespesialiste wat deur moderne boerderystelsels vereis word, te bespreek.

Besprekings het beklemtoon hoe vinnig ontwikkelende megani­sasie, presisielandbou, digitale boerderystelsels en outomatisering die aard van landbouwerk verander en ’n dringende behoefte aan nuwe tegniese vaardighede oor die hele sektor skep. Belanghebbendes het die belangrikheid van praktiese werksplekgebaseerde opleidingsmodelle, sterker vennootskappe tussen die bedryf en opleidingsinstellings asook verbeterde toegang tot ontwikkelings­geleenthede in landbouvaardigheid vir jongmense, veral in landelike gemeenskappe, beklemtoon.

“NAMPO-Tech weerspieël die toekomstige rigting van landbou. Innovasie alleen is nie genoeg nie – ons benodig geskoolde mense wat hierdie tegnologieë binne die landbou-ekonomie kan toepas, onderhou en uitbrei,” het Strydom gesê.

Die gesprekke het ook die groeiende rol van entrepreneurskap, digitale landbou, datagedrewe boerderystelsels en tegniese vakleerlingskappe in die bou van ’n meer veerkragtige en globaal mededingende landbousektor vir Suid-Afrika beklemtoon.

Besoekers kan die terrein verken met die terreinkaart in die hekprogram of die gratis, handige NAMPO App inspan.

Innovasie en besigheid bly sentraal
Innovasie het deurgaans sentraal gestaan op NAMPO Park – van presisielandbou en masjinerietegnologie tot volhoubaarheidsoplos­sings, opleidingsinisiatiewe en toekomsgerigte landboutoerusting.

Soos altyd het uitstallers NAMPO gebruik as voorkeurplatform om nuwe tegnologieë, toerusting en landbou-oplossings bekend te stel, terwyl produsente direk met verskaffers, navorsers en diensverskaffers kon skakel oor praktiese oplossings om produktiwiteit en volhoubaarheid te verbeter.

Uitstallings het die NAMPO ’26-tema gekomplimenteer en waarlik aan feesgangers gewys hoe nuutste tegnologie ingespan kan word om “veerkragtig te wees deur innovasie”.

Positiewe terugvoer van uitstallers het sterk sakebetrokkenheid deur die totale waardeketting bevestig, met baie maatskappye wat betekenisvolle interaksies en beduidende kommersiële belangstelling gedurende die week gerapporteer het.

“NAMPO bly een van die belangrikste platforms vir landboubesigheid en -betrokkenheid enige plek in die wêreld. Die gehalte van gesprekke, innovasie en netwerkvorming wat hierdie week gesien is, bevestig die veerkragtigheid en langtermynpotensiaal van Suid-Afrikaanse landbou,” het Krige afgesluit.

Die NAMPO Oesdag het weer eens genoeg gebied vir oud en jonk. Ons sien reeds uit na NAMPO 2027!

Vooruitblik
Graan SA sien uit na NAMPO Kaap, wat van 9 tot 12 September in Bredasdorp plaasvind, asook NAMPO ALFA van 2 tot 3 Oktober op NAMPO Park.

NAMPO 2027
Die datums vir die 2027 NAMPO Oesdag is bevestig as 11 tot 14 Mei op NAMPO Park buite Bothaville. Vir meer inligting, besoek die NAMPO-webwerf of volg NAMPO op sosialemedia-platforms.

Hilux-eienaars het in hulle duisende aangemeld om deel te wees van die poging om vier Guiness-wêreldrekords op te stel.