Sprekers en paneelgesprekke gee dieper insig by Reitz-konferensie

Dr Hendrik Smith, bewaringslandbounavorser, ASSET Research, Liane Erasmus, ASSET Research en prof Karin Jacobs, mikrobioloog, Sporatec
Gepubliseer: 7 Mei 2026

45

Sowat 300 produsente het op 3 en 4 Maart in Reitz in die Vrystaat byeengekom vir Landbouweekblad se herlewingslandboukonferensie met die tema “Oorleef jy of floreer jy?”. Verskeie kenners het oor relevante onderwerpe gepraat en paneelgesprekke het verdere insig gebied.

Prof Karin Jacobs (Sporatec) – mikrobiologie
Prof Jacobs het genoem dat hulle navorsing wat in die 1990’s begin het, die volgende vrae ondersoek: “Hoe bestuur ons mikrobiese gemeenskappe in die grond? Hoe vergelyk goeie grond met slegte grond onder die mikroskoop? Hoe kry jy goeie grond en wat dryf dit aan?” Sy sê dit is moeilike vrae wat lank neem om te bestudeer.

Deur verskillende plase te bestudeer het hulle gevind dat konvensionele bewerking slegter vaar as herlewingslandbou. Die mikrobiese spesiediversiteit en ensiemvlakke is beter onder herlewingslandbou, en daar is ook groter funksionaliteit.

Wat is die toekoms van hierdie studieveld? Sy sê dit is ’n komplekse en moeilike veld. “Ons moet baie navorsingselemente in plek hê. Ons moet goed ontleed en beter verstaan. Ons moet herlewings­landboupraktyke ondersoek en help dat dit korrek geïmplementeer word. Dit gaan uiteindelik die grondmikrobiome baie positief beïnvloed.”

Die Reitz-herlewingslandboukonferensie is deur sowat 300 produsente bygewoon.

Dr Rikus Kloppers (Ribogalia CropCare) – herlewingslandbou en siekterisiko in rygewasse
Dr Kloppers het begin deur te sê dat daar konflik is tussen herle­wingslandbou en plantsiektes as gevolg van die permanente grondbedekking wat plantsiektes bevorder. “Hoe moet ons anders dink onder herlewingslandbou? Die grootste ‘siekte’ is eintlik die groot klem op hoë opbrengste, en die prys daarvoor is die verlies aan stabiliteit en veerkragtigheid.”

Hy het beklemtoon dat ’n mens na die risikoprofiel van ’n kultivar moet kyk en nie net na opbrengs nie. Risikobestuur beteken om anders na kultivarkeuses te kyk deur verskillende faktore in ag te neem. Die produsent dra die risiko en moet uiteindelik die besluite neem. Basterkultivars lewer hoër opbrengste, maar is meer sensitief vir siektes.

In die verlede was plantteling meer gefokus op stabiliteit en laer insette, maar tans fokus kultivarteling meer op opbrengs. Laasgenoemde kan deur siektes beïnvloed word. ’n Balans is nodig.

Gewasreste in herlewingslandbou is ’n uitdaging aangesien plantsiektes en sekere blaarpatogene so versprei word. Herlewingslandbou beteken nie noodwendig dat produsente sonder plaag­doders kan gaan nie, maar inderdaad met minder, want daar is meer natuurlike, voordelige biologiese organismes wat kan help met beheer. Chemiese produkopsies raak baie vinnig minder en die nuwe produkte kom onder groot druk om te presteer. Biologiese saadbehandeling is ’n goeie praktyk, veral teen iets soos kop­vrot. Daar is baie goeie biologiese produkte, maar ook baie vals aansprake, wat regtig skadelik is vir hierdie produkte. Hy waarsku dat produsente hul verwagtinge in hierdie verband moet temper.

Verskeie veldpunte het belangrike onderwerpe hanteer.

Prof Juan Vorster (Universiteit van Pretoria) – onkruidbestuur in herlewingslandbou met ’n spesifieke fokus op skraalhans (Conyza)
Volgens prof Vorster het “elke bestuurspraktyk voordele, maar ook nadele”.

Hy het ’n paar insigte oor skraalhans gegee. “Hoe ouer die onkruid, hoe moeiliker is dit om te beheer, en hulle ontwikkel ook weerstand. Weiding is ’n goeie beheerpraktyk, maar skep ook pro­bleme. Ons moet die biologie van die plant verstaan. Byvoorbeeld, elke plant kan 230 000 sade produseer wat drie jaar oorleef.”

Die allelopatiese effek van skraalhans op gewasse is redelik hoog. Die dosis van onkruiddoders is belangrik, sowel as die mengsels.

Met onkruidbeheer in herlewingslandbou probeer produsente chemiese onkruiddoders verminder, dus moet die fokus wees op die vermindering van die onkruidsaadbank. Die onkruidsaadbank is ’n belangrike faktor. Vergelyking word getref tussen ’n vlakker en meer aktiewe saadbank teenoor ’n dieper en dormante saadbank. Gesonde grond help om onkruidsaad af te breek.

Sy kernboodskap was dat ’n toename in onkruiddruk lei tot hoër onkruiddodergebruik en dat die sukses van herlewingslandbou benadeel kan word sonder ’n geïntegreerde onkruidbestuursbenadering.

“Die groot finansiële kloof: Boere vs bankiers”, was een van die

Paneelgesprekke – uit die perd se bek
Paneelgesprekke tydens die konferensie het gesorg vir lewendige debat. Elke nuwe produksieseisoen het unieke uitdagings wat
deeglike aandag eis van elke produsent om objektief, proaktief en innoverend te reageer.

“Hoe lyk die oeste vanjaar?” is deur lede van die Riemland-studiegroep bespreek. Vir sommige van die produsente het die omstandighede van die seisoen guns­tige toestande geskep vir die insluiting van dekgewasse in hulle spesifieke konteks.

Insig en ervaring in herlewingsboerdery het ’n paar belangrike stellings en ontdekkings bevestig:

  • ’n Nat seisoen gekombineerd met nie-Roundup Ready-mielies maak die beheer van onkruide moeilik.
  • Verminderde bewerking lei tot aansienlike brandstof- en meganiese (kW/uur) besparings.
  • Grondbedekking het stabieler grondtemperature tot gevolg wat tot beter ontkiemingskoerse lei asook plante met veerkragtigheid en bestandheid teen hitte en droogtes.
  • Besparing en effektiewe benutting van kunsmiselemente soos fosfaat en stikstof het toegeneem soos die grondgesondheidstoestande verbeter het.
  • Alhoewel dekgewasse in hierdie nat seisoen goed presteer het moet die inslui­ting van dekgewasse in ’n stelsel steeds benader word as ’n geleentheidskoste. Die keuse van ’n dekgewasstelsel moet ’n inkomste toon indien dit in die plek van ’n kontantgewas geplant word. Goeie biomassa is in die laasgenoemde geval ’n groot dryfveer van wins­gewendheid van dekgewasse.
  • Al was opbrengste twee ton onder normale opbrengspeile, het die toediening van biologiese produkte opbrengste verhoog op lande waar geen chemiese kunsmis toegedien is nie en het dit bygedra tot ’n verhoging in grond­koolstofvlakke.

Nagmuise
Die skade wat nagmuise aanrig is kommerwekkend. Produsente het hulle unieke be­naderings om die muise te beheer gedeel. Dit sluit in:

  • die uitskiet, vergassing of vergiftiging van nagmuise op verskeie maniere, asook
  • verhoogde stroopeffektiwiteit sodat so min as moontlik graan op die lande agterbly wat as voedselbronne kan dien.

Enige aksie wat geneem word teen die natuur het ’n rimpeleffek. Die doelwit van bewaringstelsels is nie om die natuurlike elemente uit te roei nie, maar om dit met ’n geïntegreerde holistiese plan te benader.

Die vraag wat gevra moet word is: “Regverdig die ekstra wins of opbrengs wat nagejaag word die newe-effekte van die pogings of koste wat aangegaan is om die muise te verminder?”

Magnus Theunissen van die Ottosdal-area was een van die genooide produsente wat herlewingslandbou toepas.

Die groot finansiële kloof: Produsente versus bankiers
Volgens landbou-ekonoom van ASSET Research, Mary Maluleke, is die teenwoordigheid van ’n J-kurwe by enige verandering wat in ’n boerderystelsel gemaak word, ’n feit soos ’n koei. Die oorgang van een stelsel na ’n ander eis meestal groot finansiële insette wat die wins­gewendheid van ’n boerdery kan knou. Die intensiteit en risiko van hierdie verskynsel verskil van boerdery tot boerdery. Die groot vraag is of bewaringslandboupraktyke werklik winsgewend is en of finansiële instansies en produsente wat hierdie bewaringsbeginsels toepas, dieselfde taal praat as dit kom by die produsent se finansiële behoeftes.

Ervare bewaringsprodusente en proewe het getoon dat bewa­ringsboerdery oor tyd positiewe winsmarges toon. Die grootste uitdagings lê in die oorgangsfase. Nedbank-verteenwoordiger, Desry Lesele, het gesê dat banke hulle kennis moet opskerp oor bewa­ringslandboubeginsels, die proses van oorskakeling en die spesifieke behoeftes wat daarmee gepaard gaan. Eerlike terugvoer soos dié van Izak Dreyer, bewaringsprodusent van Vrede, wat gesê het dat bewaringsboerderypraktyke lei tot verlaging in insetkoste sonder om opbrengste in te boet, is die tipe stories wat banke moet hoor en verstaan. Hierdie inligting is belangrik sodat banke die regte finansiële en risikomodelle kan bou.

Dr PG Strauss, besturende direkteur van VKB, het gesê dat produsente op soek is na geduldige kapitaal as bron van finansiering tydens oorgangsfases, aangesien die oorskakeling en aanpassings van enige stelsel tyd neem.