NAMPO fokus op veerkragtigheid en innovasie

Rentia Mynhardt, SA Graan/Grain-redakteur
Gepubliseer: 7 Mei 2026

36

Almal is dit eens dat landbou tans onder bogemiddelde druk verkeer. Dit is die rede hoekom die NAMPO Oes­dag vanjaar selfs meer as ooit die feit beklemtoon dat ’n boer ’n plan kán maak. Die tema, “Veerkragtigheid deur innovasie”, fokus op die vermoë van Suid-Afrikaanse produsente om aan te pas en op ’n ander manier te kyk na hoe besluite geneem kan word met die oog op volhoubaarheid en winsgewendheid.

NAMPO word gesien as die belangrikste ontmoetingspunt vir produsente, landboubesighede en die breër waardeketting – ’n platform waar tegnologie, kennis en praktiese oplossings bymekaarkom. In tye waar klimaatsrisiko, insetkoste, peste en plae asook mark- en beleidsonsekerheid aan die orde van die dag is, gee hierdie landbouskou – die grootste in die land – die produsent moontlike opsies om te oorweeg om in sy boerdery toe te pas en risiko’s beter te bestuur.

Hier is iets vir almal – jonk en oud.

Soos altyd kan jy by die uitstalruimtes van ’n groot verskeidenheid maatskappye inloer om jou vrae oor toerusting en tegnologie direk beantwoord te kry, maar ook te sien wat nuut in die mark is. Jy het nie nodig om dit op ’n leë maag te doen nie, want die kosstalletjies beloof weer eens om iets vir alle smake te bied. Rus die bene by een van die tafels beskikbaar op die grasperke, of bederf jouself met ’n aansitete en iets om te drink.

Die Santam Landbou-vroueprogram in samewerking met rooi rose gaan vir vele hoogtepunte sorg terwyl ’n nuwe toevoeging, die Wingerdhuis, ’n ruimte skep waar jy met daardie vriende wat jy nog nie weer sedert laas jaar se NAMPO gesien het nie, stories kan uitruil.

As jy ’n Graan SA-lid is, kan jy deur die dag ’n draai by die Lede­lokaal gaan maak waar jy met heerlike verversings bederf sal word.

NAMPO is nou die één geleentheid waar die kleinspan nie sommer verveeld sal raak nie.

Woon een van die Nasie in Gesprek-sessies by wat oop is vir die publiek en moenie vergeet om steeds die veeafdeling te besoek nie.

Daar mag dalk nie vanjaar gespletehoefdiere wees nie, maar die telersgenootskappe sal steeds op innoverende wyse uitstal. Boerboele, miniatuurperdjies en -donkies asook skilderdonkies sal steeds die besoek die moeite werd maak. Boonop kan jy by die TAU Meule-veering tydens hulle sterkmankompetisies wys wat nou éintlik in jou steek.

NAMPO bly die belangrikste ontmoetingspunt vir produsente, landboubesighede en die breër waardeketting.

Die Muur van Herinnering, Engen-museum, hommeltuig- en 4×4-demonstrasies, boereplanne en handgemaakte items – alles vorm deel van die lekker onthou waarmee jy hierdie jaar by NAMPO gaan wegry.

Kry jou gedrukte weergawe van die NAMPO-Gids met al die inligting hier:

  • Graan SA-ledelokaal
  • Graan SA-inligtingstoonbank
  • Mediasentrum
  • Graan SA-museum
  • Voorsitter-onthaalarea

Of laai jou digitale weergawe hier af: https://sagrainmag.co.za/nampo-gids-2026/, om met jou voorafbeplanning te help.