50% van nasionale tonne in die visier

Johan Smit, besturende redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 16 April 2026

50

Graan SA het in 2026 ’n inkomste van R33,5 miljoen uit lede se vrywillige heffings op grane en oliesade verkry. Die ingesamelde heffings het met 26% jaar op jaar toegeneem en verteenwoordig nagenoeg 30% van die nasionale oes. Die doelwit is om by 50% van die totale tonne uit te kom aangesien dit die organisasie se posisie as kollektiewe stem van die land se graanprodusente sal verstewig.

“Help ons om die tonne waarop lede se heffings verhaal word, te verhoog. As dit gebeur, kan die heffing vasgepen en selfs verminder word. Dit gaan nie bloot oor geld nie, maar veral oor effektiewe verteenwoordiging en om die finansiële las op lede om die organisasie te befonds te ondersteun. Dra asseblief die boodskap uit sodat ons dié mikpunt kan behaal,” het Graan SA se voorsitter, Richard Krige, kongreslede in sy hoedanigheid as voorsitter van die Bemarkingswerkgroep versoek.

Hoewel die organisasie se kommersiële aktiwiteite, soos die NAMPO-skoue, ’n bydrae lewer om die inkomste te ondersteun, het hy gesê dit bly belangrik om die hoeveelheid tonne waarop die heffing jaarliks betaal word, te verhoog.

“Ons kan nie sonder Graan SA boer nie. As jou bemarker, opberger of handelaar nie die vrywillige heffing wil aftrek en oorbetaal nie – en dus nie die organisasie wil ondersteun nie – moet jy jouself afvra of hy ernstig is oor jou toekoms,” het Krige gesê. Drie nuwe insamelingsagente het vanjaar aan boord gekom, naamlik AgriSA Commodities, COFCO Trading en Cargill.

Krige het daarop gewys dat Graan SA een van die laagste hef­fings in die landbousektor het. Die organisasie het dit gaan toets en is gemaklik met die vlak waarop dit is. Gegewe die geskiedenis van hef­fingsinvorderings oor die tydperk 2021 tot 2026 was daar stabiliteit ra­kende die tonne graan waarop die heffing gevorder is (sien Grafiek 1).

Grafiek 1: Historiese invordering van Graan SA se vrywillige heffing.

Geen verhoging in heffings vir 2027
Gegewe die heersende landboutoestande, het die Raad aanbe­veel dat geen verhoging in die heffingsbedrag vir 2027 plaasvind nie, wat met dank deur die Kongres aanvaar is. Die minimum heffing vir lidmaatskap is wel verhoog tot R1 500 plus BTW terwyl die koste vir studiegroeplede asook studenteledegeld op R50 gelaat is.

Outomatisering
Die verhaling van die heffing by die eerste punt van verhandeling werk makliker as fakturering deur Graan SA, maar fakturering is ook doeltreffend. Heffings ingesamel deur middel van fakture het ’n jaar-op-jaar groei van 11% getoon.

Die organisasie is in die proses om ’n ledeportaal te ontwikkel waarop lede hul staat en opsomming van betalings kan sien. “Ons hoop om binnekort die goeie nuus te gee dat lede hul heffingstatus op die Graan SA-ledeportaal kan nagaan,” het hy afgesluit.

Met betrekking tot die heffings is die volgende prestasies uitgelig:

  • Streek 15, met Paul Zietsman as verkose Raadslid, het ’n groei van 99% in heffings­inkomste op ’n jaar-tot-jaar basis bereik. Die bemarker vir dié streek is Werner Vos.
  • Die enkele grootste invorderaar van somergraanheffings vir die jaar was VKB.
  • SSK was die grootste invorderaar as dit kom by wintergraangebiede se heffings.
  • Die grootste groei in jaar-tot-jaar persentasie en randwaarde-invordering is deur Agri­Serve Commodities behaal.