Nuwe genetika op pad, sê saadmaatskappye

Gepubliseer: 5 Maart 2026

33
Jaco Breytenbach, SA Graan/Grain-redak-sievoorsitter en voorsitter van die Produksie/Inset-werkgroep, Graan SA

Die Produksie/Inset-werkgroep vergader aan die einde van elke jaar met die onderskeie saadmaatskappye in Suid-Afrika. In November het dié reeks van vergaderings, wat ten doel het om verhoudings en kommunikasie met die maatskappye verder te verbeter en te sorg dat belangrike inligting heen en weer vloei, weer plaasgevind.

Net soos wat voedselsekerheid in Suid-Afrika noodsaaklik is, moet daar ook seker gemaak word dat daar insetsekerheid is.

Maatskappye wat besoek is, sluit in Pioneer, Syngenta, Bayer, Pannar, United Seeds en Agricol.

Al die maatskappye het genoem dat nuwe genetika op pad is – veral by sojabone. Hulle het beklemtoon dat die tegnologie opgepas moet word soos wat produsente dit begin gebruik. Daar is aan die mieliekant nuwe tegnologie op pad wat dit moontlik sal maak om hoër stande te plant.

Nuwe mieliekultivars wat op kort termyn na die mark toe kom, sluit wit en geel in met kultivars spesifiek vir die weste ook. Dit is goed vir beter genetika asook vir kompetisie in die mark. Sonneblomkultivars is ook op pad en daar word meer en meer gefokus op olie-inhoud.

Graan SA se Produksie/Inset-werkgroep besoek jaarliks verskeie saadmaatskappye om verhoudings en kommunikasie te versterk. Van die maatskappye wat besoek is, is Pioneer (Foto 1), Bayer (Foto 2), Syngenta (Foto 3) en United Seeds (Foto 4).

Die meeste van die saadmaatskappye is gekoppel aan ’n chemiese maatskappy en almal is ongelukkig oor registrasies wat sloer by die Registrateur van Wet Nr. 36 van 1947. Alle tegnologie wat beskikbaar is word nie goedgekeur nie, aangesien dit op ’n lang waglys lê. Dit veroorsaak dat van die tegnologie nooit die produsent bereik nie, en hierdeur verloor die maatskappye en die produsent geld.

Patentreg op ’n produk het ’n vervaldatum – teen die tyd wat die produk uiteindelik in Suid-Afrika geregistreer word, is daar te min tyd oor vir die maatskappy om geld daaruit te maak. Indien die produk nooit geregistreer word nie, verloor die chemiese maatskappy én die produsente.

Saadpryse, wat ’n groot kopseer is vir graanprodusente, behoort volgens die saadmaatskappye vir die 2026-seisoen met minder as inflasie te styg.

Deelname aan die Groei vir Goud-kompetisie is goed onder die maatskappye – nuwe voorstelle is op die tafel gesit om die kompetisie te laat groei en verbeter. Daar word wel gesukkel om deelname van koringprodusente te verkry.

Koringsaad gaan in die omgewing van 3% styg. Daar heers net soveel bekommernis oor die koringbedryf onder koringsaadmaatskappye as by die produsente self. Die scenario verswak boonop voedselsekerheid ten opsigte van koring ook (Suid-Afrika voer reeds ongeveer 50% van plaaslik verbruikte koring in). Met ’n koringbedryf wat al hoe minder winsgewend word, kan die invoer van koring heelwat meer as 50% word. Die maatskappye sê dat as dit met die produsent sleg gaan dan gaan dit met hulle ook sleg.

Die kanolabedryf se situasie is die teenoorgestelde van die koringbedryf – kanola is tans die snelgroeiendste gewas in Suid-Afrika. Alle kanolasaad word ingevoer, maar daar gaan genoeg saad wees en van die nuwe kultivars doen besonder goed. Ongelukkig kan kanolasaad nie plaaslik vermeerder word nie aangesien die mark te klein is om dit ekonomies lewensvatbaar te maak.

Graan SA het ’n beroep op die saadmaatskappye gedoen om die verskillende tegnologieë met kleur op die saadsakkies te onderskei. Van die maatskappye doen dit alreeds.

Die maatskappye is uiters opgewonde oor CRISPR-tegnologie. Geenredigering (gene editing) of nuwe teeltegnieke (new breeding techniques) gaan tot gevolg hê dat nuwe kultivars met gevorderde eienskappe aansienlik vinniger op die mark kom as voorheen.

Ongelukkig is dit op die oomblik nie vir Suid-Afrika beskore nie – ons is die enigste land in die wêreld waar die tegnologie in totaliteit as geneties gemodifiseerd (GMO) beskou word. Nog ’n skadukant daarvan dat nuwe teeltegnieke as GMO beskou word, is die feit dat graan nie van lande waar dit al gekommersialiseer is ingevoer kan word nie. Dit kan voedselsekerheid bedreig as ’n tekort aan koring ingevoer moet word en die invoerkoring deur CRISPR-tegnologie of nuwe teeltegnieke geteel is.

Die Graan SA-groep tydens hul besoek aan Pannar. Die groep was die heel eerste besoekers nadat die splinternuwe hoofkantoor in Pietermaritzburg sy deure oopgemaak het.

Terughouding van saad, maar veral die onwettige praktyk van sogenaamde brown bagging het heelwat besprekingstyd opgeneem. Brown bagging is ’n onwettige praktyk – dit is wanneer ’n produsent sonder die medewete en/of goedkeuring van die plantteler graan wat hy self geproduseer het as saad aan medeprodusente verkoop of ruil. Hierdie praktyk veroorsaak groot skade aan die saadbedryf.

Nog ’n saak wat aandag geniet het, is die aankoop van nuwe saad vir sojabone. Tans is dit in die omgewing van 15%, maar die bedryf wil dit by 25 tot 40% hê. Hulle voer aan dat hulle nie winste toon as aankope van nuwe saad so laag is nie. Die moontlikheid van laer saadpryse indien volumeverkope verhoog kan word, is as ’n moontlike oplossing bespreek.

Op ’n vraag aan die onderskeie maatskappye oor die toekoms van saad in die volgende twee dekades, is almal positief dat ons nog oorgenoeg voedsel gaan hê. Die maatskappye is dit eens dat die fokus op en suksesse van kleinskaalprodusente na alle waarskynlikheid in die toekoms gaan verander.

Digitale platforms, geenredigering (CRISPR) en kunsmatige intelligensie gaan volgens hulle ’n uiters groot rol speel, met die bydrae van die mens in al hierdie prosesse wat steeds belangrik gaan bly.