Behalwe dat Graan SA se jaarlikse Kongres ’n platform skep waar relevante sake binne landbou bespreek word, bied dit ook ’n geleentheid om vir ’n oomblik stil te staan en terug te kyk.
Tydens Kongres word die beste artikelreeks (Foto 1) en wenartikel (Foto 2) in SA Graan/Grain aangewys. Daar word ook ’n prys toegeken vir die beste spreker van die vloer af (Foto 3).
Soms word daar ook stilgestaan wanneer daar erkenning aan ’n persoon of instansie gegee wil word met wie Graan SA ’n pad stap.
Vanjaar is daar spesiale erkenning gegee aan Infoworks Media Publishing (Foto 4) en professor Marena Manley (Foto 5).
Die Koster-skild word jaarliks deur die Koster Studiegroep aan die skrywer van die beste artikelreeks in SA Graan/Grain toegeken. Dit is vanjaar aan dr Tobias Doyer toegeken vir sy maandelikse Hoofartikel uit die hoof- uitvoerende beampte se stoel. V.l.n.r. is Jeremia Mathebula, dr Doyer, Pietman Botha (Streek 7) en Richard Krige.SA Graan/Grain wys maandeliks ’n wenartikel aan wat aan sekere kriteria voldoen. Die maandwenners dring outomaties deur na die groep artikels waaruit ’n algehele wenartikel aan die einde van die jaar gekies word. Die hoeveelheid kere wat die artikel op die webwerf (sagrainmag.co.za) gelees word, word as riglyn gebruik om die wenartikel te bepaal. Dons Jordaan (middel), bemarkingsbestuurder van Bastion, se artikel, “Grondversuring: SA het ’n krisis”, is as algehele wenner aangewys. By hom is dr Tobias Doyer, Jeremia Mathebula, Jaco Breytenbach (Redaksiekomitee-voorsitter) en Richard Krige.Daar word jaarliks tydens Kongres ’n spreker deur lede van die media aangewys wat die beste bydrae van die vloer af gelewer het. Vanjaar se prys is toegeken aan Koos Blanckenberg van Streek 26 wat sy kommer uitgespreek het oor die vervoerdifferensiaal en ‘n pleidooi gelewer vir ’n regverdige markplek vir elke produsent asook definitiewe antwoorde aan graanprodusente.Infoworks Media Publishing is vereer vir 25 jaar se ononderbroke dienslewering aan Graan SA vir die maandelikse publisering van SA Graan/Grain, die NAMPO-hekprogram, Pula Imvula, die Graan SA-jaarverslag en -kongresagenda en die uitgee van die boek, Die Graan- en Oliesadebedryf van Suid-Afrika – ’n Reis deur Tyd. Hier ontvang Johan Smit (regs), besturende direkteur, die toekenning van Jaco Breytenbach, voorsitter van die SA Graan/Grain-redaksiekomitee.’n Eretoekenning is aan professor Marena Manley oorhandig vir die werk wat sy as navorser in voedselwetenskap doen. Sy het beduidende bydraes gelewer tot die bevordering van naby-infrarooi- (NIR-)spektroskopie en hiperspektrale beeldvorming (HSI), veral in graannavorsing, wat verseker dat produsente en verwerkers toegang het tot betroubare hulpmiddels vir gehaltebepaling.