
Graan SA
Marguerite Pienaar, landbou-ekonoom,
Graan SA
Graderingsregulasies speel ’n sleutelrol om konsekwente kwaliteit in die waardeketting te verseker. Die bestaande kanolagraderingsregulasies is tans onder hersiening. Om te verstaan waar die hersiening sy oorsprong het, is dit belangrik om die totale kanolaproduksieprentjie in Suid-Afrika te verstaan.
Sedert die 2020/2021-produksieseisoen was daar jaar na jaar rekordkanola-aanplantings. In Grafiek 1 sien ons dat daar 165 200 ton kanola in 2020/2021 geproduseer is. Dit het met 88,75% gestyg tot ’n verwagte 311 850 ton in 2025/2026. Dit beteken dat meer kanola na die mark toe kom asook dat meer rolspelers en aankopers deelneem.

Een van die rolspelers wat ’n groot rol in die kanolabedryf speel is SOILL. Dié maatskappy is hoofsaaklik ’n verwerker van kanola. SOILL, wat goedgesind is teenoor plaaslike produsente, het aangepaste graderingsregulasies begin toepas soos wat die bedryf en die kennis van produsente en aankopers oor kanola gegroei het. Dit het mettertyd duidelik geword dat die amptelike kanolagraderingsregulasies van 5 Junie 2009 strenger regulering en minder toleransie bied as die huidige praktyk in die mark.
Die veranderinge in die regulasies is aanvanklik bespreek tydens ’n kanolawerkgroepvergadering wat deur verskeie rolspelers soos SOILL, Graan SA, Agbiz Grain en ander bygewoon is. Die hoofbesprekingspunt het gehandel oor ’n voorstel om die regulasies nader te bring aan dié wat tans in die mark geïmplementeer word. Met die kanolabedryf wat jaar na jaar goeie groei toon, het meer rolspelers die mark betree, wat verdere duidelikheid oor die amptelike graderingsregulasies vereis.
Wat is die voorgestelde veranderings?
’n Handjievol veranderings is voorgestel vir die bedryf om oor te besluit. Hierdie voorstelle het gehandel oor onder meer hittebeskadigde pitte, ’n tweede graad vir kanola, die sif wat gebruik word en dat sand gedefinieer word.
In die 2009-regulasies word sand nie gedefinieer nie. Die voorstel vir die aangepaste graderingsregulasies is om sand te definieer as ’n korrelrige materiaal wat voortspruit uit die erosie van rotse en saamgestel is uit fyn verdeelde mineraaldeeltjies, wat wissel in grootte van 0,0625 tot 2 millimeter, wat growwer is as slik maar fyner as gruis; met die kleur afhangende van die bron van die oorspronklike materiaal.
Een van die ander voorgestelde veranderings was om ’n tweede graad vir kanola in te bring. ’n Tweede graad in ’n gradering bring sekere risiko’s vir produsente – produsentepryse kan negatief beïnvloed word en vreemde materiaal kan afgradering veroorsaak. Dit is belangrik om uit te lig dat ander oliesade in Suid-Afrika, soos sonneblomme en sojabone, elk ook net een graad het. Die bedryf het gesamentlik besluit om hierdie voorstel uit te haal en sodoende net een graad vir kanola te behou.
Waar staan ons nou?
Aan die einde van verlede jaar het die bedryf die voorgestelde aansoek tesame met kommentaar daarop by die regering ingedien. Sodoende is die proses begin om die vorige graderingsregulasies van 2009 meer in lyn te bring met die realiteite van die kanolagradering wat op grondvlak plaasvind. Die aangepaste regulasies kan moontlik al in die 2026/2027-bemarkingseisoen in werking tree.

















