Die regte kalk teen die regte prys

Gepubliseer: 4 Februarie 2026

40
Marguerite Pienaar,
landbou-ekonoom,
Graan SA, marguerite@grainsa.co.za

GRONDGESONDHEID IS DIE GRONDSLAG VAN VOLHOUBARE LANDBOUPRODUKSIE. TOG WORD HIERDIE BELANGRIKE ASPEK DIKWELS DEUR SUUR GRONDTOESTANDE BEDREIG – VERAL IN STREKE WAAR INTENSIEWE PRODUKSIE EN HOË REËNVAL VOORKOM.

Die gebruik van landboukalk is een van die doeltreffendste maniere om grondversuring teen te werk, voedingstofbeskikbaarheid te verbeter en die effektiwiteit van kunsmis te verhoog.

Deur die regte tipe en hoeveelheid kalk toe te dien, kan produsente nie net hul opbrengste verhoog nie maar ook die langtermynvrugbaarheid van hul grond beskerm.

Die werklikheid is wel dat die koste-knyptang produsente oor die jare begin inhaal. Dus is dit belangrik om seker te maak dat jy ’n regverdige prys vir kwaliteit-insette, wat kalk insluit, betaal. Hier is ’n paar waardevolle wenke vir die aankoop van insette.

Belangrike wenke vir die aankoop en gebruik van insette 

  • Maak seker dat die verskaffer ’n erkende maatskappy met ’n bewese rekord is.
  • Sorg dat alle aanbevelings op skrif gestel en bewaar word.
  • Probeer so ver moontlik rekord hou van alle aankope.
  • Gaan die kwaliteit van die insetmiddel na.
  • Saadbehandelings moet deur die saadmaatskappy self of met gesertifiseerde saadbehandelingstoerusting gedoen word.

Prysbedinging

  • Maak seker dat die beste markgerigte prys betaal word.
  • Kry soveel moontlik kwotasies en moenie sommer net die eerste beste prys aanvaar nie.
  • Vra jou buurman wat hy vir die inset betaal het.
  • Koop insette gesamentlik aan.
  • Lede kan Graan SA gerus skakel in verband met insetprystendense.

Wanneer kalk aangekoop word, maak seker dat die volgende koste so deursigtig as moontlik is:

  • die koste van die kalk self;
  • die kommissie van die kunsmisverspreider;
  • die landboukundige se kommissie; en
  • die vervoerkoste wat saam met die aflewering betaal moet word.

Wanneer oorweeg word om ’n nuwe insetmiddel te gebruik, moet op die volgende gelet word:

  • Maak seker dit is volgens Wet Nr. 36 van 1947 geregistreer.
  • Dring aan op langtermynstatistieke en verkieslik onafhanklike, plaaslike proef-resultate.
  • Moet nooit só ’n insetmiddel dadelik op groot skaal gebruik nie.
  • Maak eerder gebruik van kleinskaalse strookproewe wat statisties geëvalueer kan word.
  • Bepaal of dit koste-effektief is om die insetmiddel te gebruik.

Kalkkeuse
Volgens die Fertasa-bemestingshandleiding kan produsente die volgende manier gebruik om die mees gepaste kalkbron te kies wat prys, kwaliteit en afstand betref.
Die volgende inligting word gebruik:

Die reaktiwiteit van die kalk word deur die harswaarde (KKE (hars)) aangedui. Indien laasgenoemde syfer nie bekend is nie, kan die fynheid van die kalk (% < 0,25 mm) tesame met die KKE (HCl) gebruik word. Hierdie waarde word as ’n persentasie uitgedruk.
Die effektiewe relatiewe koste (ERK) van elke kalkproduk word as volg bereken:

’n Voorbeeld van so ’n berekening indien die harswaarde 70% is:

Indien die fynheid van die landboukalk bekend is, kan die reaktiwiteit soos volg bereken word:
a) % growwer as 0,25 mm x 0,5/100 (Ra)
b) % fyner as 0,25 x 1/100 (Rb)

Die reaktiwiteit is dan (a+b) KKE (HCl) = R

Die waarde van R kan dan in die berekening van ERK ingevoeg word. Die ERK word in R/ha uitgedruk.

Die produk wat die laagste ERK het behoort voorkeur te kry. Daar is verskeie faktore wat die werklike reaktiwiteit van landboukalk in die grond beïnvloed.

Dit is dus noodsaaklik om opvolggrondmonsters te neem om vas te stel wat die werklike resultaat van bekalking op ’n land was. Sodoende kan rekords van kalkreaktiwiteit opgebou word en toekomstige besluitneming oor watter kalkbron om te gebruik, vergemaklik word.
(Bron: Fertasa-bemestingshandleiding, 2019)

Topwenk
Gebruik klein kontrolepersele om nuwe insetmiddele te toets alvorens dit op groot skaal gebruik word.