Belê in TEGNOLOGIE

Gepubliseer: 12 Desember 2025

1047

Modderbult-boerdery se sukses is oor geslagte gevestig. Die pa-en-seun-boerderyspan van Pieter Brits en sy seun, Dawie, boer al amper ’n dekade saam in die Balfour-distrik op die oostelike Hoëveld. Pieter boer al vir meer as 40 jaar op die plaas terwyl Dawie, wat eers ’n beroepsvlieënier was, die afgelope agt jaar saam met sy pa boer.

Dawie het vanjaar vir die tweede keer deelgeneem aan die Groei vir Goud- nasionale opbrengskompetisie in die afdeling sojabone wat verbou word in die oostelike Hoëveld. Hy neem deel omdat hy meen dit aan hom die geleentheid bied om sy praktyke te toets, sy ervaring te deel, en ook om insig te kry in hoe ander produsente dinge aanpak. “Ek het baie geleer uit hierdie kompetisie en idees gekry wat ’n mens kan gaan toets.”

Brits het sy wenprestasie behaal met ’n sojaboonvariëteit van Agricol, DM 53i54 RSF IPRO, met ’n opbrengs van 7,12 t/ha. Hy het nie net die afdeling gewen nie, maar ook ’n kompetisierekord opgestel deur ’n ton per hektaar meer te stroop as die vorige rekord wat in hierdie afdeling behaal is.

Dawie Brits saam met sy gesin. Van links is Riana, Pieter, Dawie en David.

Dit was die eerste jaar wat hy die betrokke variëteit geplant het – 200 ha daarvan is aangeplant. In totaal het hy die afgelope seisoen 457 ha sojabone geplant waarvan 257 ha met ’n ander Agricol Don Mario-variëteit, DM 5953 RSF, geplant is.

Die afgelope seisoen het hulle 734 mm reën ontvang. “Die jaar het droog begin en dit het eers ná 16 Desember behoorlik begin reën. Die reënvoorspellings was uiters onbetroubaar en temperature hoog, wat beplanning moeilik gemaak het.”

Volgens Brits het hulle aanvanklik net met mielies geboer, maar mettertyd gediversifiseer deur sojabone en beeste tot die boerdery by te voeg. Die Britse het ’n Bovelder-beeskudde van 750 beeste. “As gevolg van ’n skaarste aan grond hier in ons omgewing het ons besluit om ook op pluimvee te fokus, wat vandag ’n groot deel van ons onderneming uitmaak.”

Brits het vanjaar vir die tweede keer deelgeneem aan die Groei vir Goud-kompetisie in die afdeling sojabone wat verbou word in die oostelike Hoëveld. Hy het sy wenprestasie behaal met ’n sojaboonvariëteit van Agricol, DM 53i54 RSF IPRO, met ’n kompetisierekordopbrengs van 7,12 t/ha.

Modderbult-boerdery se pluimvee-afdeling bestaan uit 24 hoenderhuise wat elk sowat 44 000 braaikuikens huisves. Hulle maak elke 45 dae byna 1 100 000 hoenders groot, wat hulle aan Astral verkoop.

Wanneer Brits moet besluit watter produk om in die komende seisoen te plant, hou hy ’n oog op daardie produkte wat in sy omgewing op ander produsente se plase presteer.

“Ek kyk altyd wat werk die beste in my omgewing. Hoewel ek nie formele proewe plant nie, toets ek nuwe kultivars op kleiner skaal op so 30 tot 50 ha. So kan ek bepaal of dit op my grond presteer. Ek kies dan die twee topprodukte en plant net daardie twee in die komende seisoen.”

Nuwe benadering op sojabone
Volgens Brits het hy die afgelope seisoen (2024/2025) ’n nuwe benadering op die sojabone gevolg. “Ek het ’n negetand-Rovic Inlyn-skeurploeg met rollers agter gekoop. Die skeurploeg versteur die grond minimaal. Dit is ook steeds moontlik dat die beeste die mieliereste ná ons geoes het kan benut. Ek doen ’n diep tandbewerking 38 cm regs van die plantlyn, direk agter die stroper.”

Hy het ook ’n Fendt Momentum-planter aangeskaf wat hy net vir die sojabone gebruik. “Die planter is toegerus met presisietegnologie wat vir my uitstekende gewigsverspreiding gee. Dit het dubbelwiele om kompaksie te verminder. Verder is daar 1,67 m beweegruimte (flex) op die planterkarretjies wat dit in staat stel om maklik oor kontoere te beweeg. Die Furrow Force-toetrapwiele het ’n groot verskil gemaak en ons kon ons plantdiepte konsekwent en presies hou. Dit het daartoe bygedra dat die saad goed bedek is.”

Tong in die kies sê hy dat sy pa die planter se bestuurder was. “Hy het al 457 ha self geplant. Natuurlik na ek hom gewys het hoe!”

Brits beoog om die komende plantseisoen dieselfde praktyke te volg. Hy sê ook dat die blok wat ingeskryf is, presies dieselfde as die ander sojaboonlande behandel is. “Al wat ek so ’n bietjie anders gedoen het, is om die spuit op daardie blok te gaan leegmaak wanneer ek besig was om blaarvoeding op mielies of sojabone te spuit.”

Die sojabone is eers laat in November geplant met die Fendt Momentum 16 teen ’n plantestand van 290 000 plante/ha met ’n rywydte van 76 cm. Hulle het op 16 April met ’n Fendt Ideal 8T gestroop.

Die grootste gedeelte van die plaas bestaan uit rooi Hutton-grond. Hulle pas wisselbou toe. Op ’n derde van die lande word sojabone geplant en op die ander tweederdes mielies. “Die derde waar ons sojabone in die vorige seisoen geplant het, word ná stroop dadelik met ’n chemiese bespuiting skoongemaak, waarna kalk en kompos toegedien word. Ons werk dit met ’n hoëspoed-dis in,” verduidelik hy.

“Die derde waar daar mielies geplant is en waar daar in die opvolgende seisoen sojas geplant gaan word, word van die begin van die seisoen af 450 mm diep bewerk, 38 cm regs van die plantlyn, en met ’n hoëspoed-dis toegemaak. Op hierdie grond plant ek sojabone met ’n konvensionele planter.” Die laaste derde kry weer mielies wat direk in die stoppels geplant word sonder ’n bewerking.

Wat onkruidbeheer betref, bewerk hy die lande met ’n hoëspoed-dis om die skeurploeg se spore toe te maak en ’n saadbed te vorm. “Ek begin dan tien dae voor plant met met ’n deeglike bespuitings-program wat ek en my Laeveld Agrochem-vennoot saam uitwerk.” Om siektes te voorkom en beheer, volg hy ’n omvattende swamdoderprogram. Hy sê hy voeg ’n insekdoder by elke bespuiting, maar teen die einde van die seisoen sal hy ’n langwerkende insekdoder toedien.

As dit by bemesting kom, strooi hy normaalweg 200 kg Polisulfaat sowat 30 tot 60 dae voor plant. “Daarbenewens gebruik ek kompos wat ek self maak uit sowat 20 000 ton hoendermis per jaar. Op die lande waar ek die sojabone gaan plant, strooi ek 2 000 kg/ha kompos uit.”

Dawie en sy pa, Pieter, het met die nuwe Fendt-planter die totale sojaboonhektare geplant.

Saam met sy grondkundige, Martin Harris van Agropedo, neem hulle twee keer in die seisoen blaarmonsters en afhangende van die uitslag van die ontledings, sal hulle blaarvoeding spuit volgens die gewas se behoefte. Hy gebruik ook biologiese produkte wat hy in die voor toedien.

Die balans tussen wins en opbrengs is altyd belangrik en Brits verduidelik dat hy streef na maksimum opbrengs in verhouding tot wins. “Ek stel ’n begroting op en bestuur die jaar volgens die seisoen se verloop. Ek bestuur insette deur vooruit te beplan, pryse betyds vas te maak en presisieboerdery toe te pas. Ek verminder bemestingskoste deur self kompos te vervaardig uit ons hoendermis en insette doelgerig toe te dien.”

In 2021 het Pieter en Dawie besluit om hulle eie graansilo’s op die plaas op te rig. Die vervoer en brandstofkoste na die silo’s het hierdie besluit regverdig en boonop het dit Modderbult se opbergvermoë tot 15 000 ton verhoog. Hulle kan nou graan lewer wanneer dit hulle pas. Dit help veral wanneer sojabone gestroop moet word.

Volgens Brits woon hy graag boeredae by, maar beklemtoon dat hy hou by wat hy weet vir hom onder sy bestuursprogram werk. “Ek en Martin Harris het ’n goeie verhouding en saam met Laeveld Agrochem sorg ons dat ons altyd die nuutste produkte kry wat vir ons omstandighede werk.” Hy sê hy sien Harris as ’n mentor en maak baie staat op sy kennis.

Sy boerderyfilosofie is om volhoubaar te boer. “Ek gebruik die nuutste tegnologie waar moontlik en vervang toerusting elke vyf jaar sodat ek steeds waarde op die inruiltransaksie kan kry. Ek werk altyd met moderne toerusting.”

Sy raad aan jong produsente sluit hierby aan: “Spandeer elke sent wat jy het aan tegnologie.”

Hy meen produsente kan meer doen om mekaar te ondersteun deur idees uit te ruil. “Daar is te veel geheimhouding, asof medeboere mekaar se kompetisie is.”