Nuwe rekords verhoog die opbrengsplafon

Magda du Toit, namens Graan SA
Gepubliseer: 12 Desember 2025

61

Die wyer keuse van nuwe, verbeterde kultivars, asook aangepaste produksie- en bestuurspraktyke en goeie weersomstandighede wat in die 2024/2025-seisoen geheers het, het alles daartoe bygedra dat produsente oor die algemeen hoër graanopbrengste kon realiseer en uitsonderlike opbrengsprestasies behaal het.

Graan SA se jaarlikse Groei vir Goud- nasionale opbrengskompetisie, het vanjaar weer ’n platform daargestel waar graanprodusente met hul eweknieë in verskillende kategorieë kon meeding om te bepaal wat die opbrengsplafon is.

Nou in sy sesde jaar, is die Groei vir Goud-kompetisie sinoniem met vooruitgang en speel dit ’n belangrike rol om opbrengsgrense te verskuif. Die doel van die kompetisie is om die genetiese potensiaal van die graanprodukte wat in die mark beskikbaar is te bepaal en ook om te meet wat moontlik is as dit kom by produksie. Nog ’n doelwit is dat produsente by mekaar kan kers opsteek deur beste praktyke met mekaar te deel. Die toekenningsgeleentheid is vanjaar op 25 September by die Thaba Eco-hotel in Johannesburg gehou.

“Die toekennings is meer as syfers op ’n spreiblad. Die prestasies is ’n getuienis van produsente se vasberadenheid om te verbeter saam met hul vermoë om by wisselende omstandighede aan te pas. Dit is ook ’n viering van die wetenskap agter kultivarontwikkeling. Hoewel die afgelope seisoen se natter tweede helfte mielie- en sojaboonopbrengste ’n hupstoot gegee het, het dit ook siekte-uitdagings soos Sclerotinia vir sonneblomproduksie tot gevolg gehad wat opbrengste negatief beïnvloed het.

“Ons produsente kan met die bestes in die wêreld meeding,” het Graan SA se hoof van Toegepaste Ekonomie en Lededienste, Corné Louw, gesê.

Hy het bygevoeg dat die kompetisie ingestel is om uitnemendheid in opbrengs te erken, maar ook om die innovasie, rentmeesterskap en veerkragtigheid agter daardie syfers uit te lig.

Wenners in die onderskeie kategorieë het produsente uit KwaZulu-Natal, die oostelike Hoëveld, die Vrystaat, Noordwes asook besproeiingsgebiede ingesluit.

Die wenners in al die kategorieë van Graan SA se jaarlikse Groei vir Goud- nasionale opbrengskompetisie het ’n seisoen van harde werk en die oorkom van uitdagings gevier tydens die toekenningsgeleentheid by die Thaba Eco-hotel in Johannesburg.

Mielies
Dit is merkwaardig dat ses van die wenners in die mielie-afdeling nuwe opbrengsrekords behaal het. Dit is ’n weerspieëling van gunstige seisoenale toestande in die sleutelproduksiestreke saam met presisieboerderypraktyke en gevorderde genetika. Die wenners in die mieliekategorieë was soos volg:

KwaZulu-Natal
Brian du Toit van Dundee het die eerste
posisie met die Pioneer-baster P1225PW behaal met ’n rekordopbrengs van 18,3 t/ha. Bruce Gibbings van Winterton, verlede jaar se wenner, was tweede met ’n opbrengs van 14,75 t/ha met die Pioneer-baster P1197. Tyson Zunckel van Bergville het derde gekom deur ’n opbrengs van 14,66 t/ha met die Pioneer-baster P1225 te realiseer.

Oostelike Hoëveld
Danie Bester van Balfour het beide die eerste en die tweede posisie in hierdie kategorie beklee. Die wenblok het ’n allemintige rekordopbrengs van 20,05 t/ha gelewer. Bester het ’n Pioneer-baster, P1197PW, geplant en daarmee ook die tweede plek met ’n opbrengs van 19,01 t/ha behaal. Martin van Jaarsveld van Greylingstad het derde gekom met die DEKALB-baster DKC72-66BR van Bayer met ’n opbrengs van 12,07 t/ha.

Oostelike Vrystaat
Neul Menezes van Reitz het Pioneer P1975PW geplant en gewen met ’n kompetisierekord van 14,79 t/ha. JZ Scheepers van Fouriesburg het ook ’n Pioneer-baster, P1225PW, geplant en ’n opbrengs van 14,25 t/ha het hom in die tweede plek geplaas. Adriaan Odendaal van Petrus Steyn was derde in hierdie kategorie met ’n opbrengs van 13,99 t/ha met die Pioneer-baster P1975.

Sentrale streek
Emje Ferreira van Bronkhorstspruit het die DEKALB-baster DKC65-72 van Bayer geplant en ’n nuwe kompetisierekordopbrengs van 16,02 t/ha het aan hom die eerste posisie besorg. Stephan Potgieter van Heidelberg was tweede met ’n opbrengs van 15 t/ha met die Pioneer-baster-P1197PW. ’n Opbrengs van 12,65 t/ha met die DEKALB-baster DKC64-54BR van Bayer het verseker dat Jan Basson van Bapsfontein die derde posisie beklee het.

Noordwes
PG van Zyl van Schweizer-Reneke het die DEKALB-baster DKC75-65BR geplant en ’n kompetisierekordopbrengs van 14,25 t/ha behaal. Dit was genoeg om die eerste plek te verseker. Jannie du Rand van Mareetsane was tweede met ’n opbrengs van 13,73 t/ha met die Agricol-baster VP8405BR. Derde was Janna du Rand, ook van Mareetsane, met ’n opbrengs van 13,47 t/ha met die Pannar-baster PAN5R-891BR.

Watertafel-gebied
Jan Botma (IBOT Boerdery) van Bothaville het eerste gekom met ’n kompetisierekord-opbrengs van 14,71 t/ha deur ’n DEKALB-baster, DKC76-77BR, te plant. Tweede was JT Ferreira Boerdery van Bultfontein met dieselfde baster, DKC76-77BR, en ’n opbrengs van 11,28 t/ha. LP Bredenkamp, ook van Bultfontein, het ook DKC76-77BR geplant en derde gekom met ’n opbrengs van 11,19 t/ha.

Besproeiingsgebiede
Braam du Plessis van die Hofmeyr-omgewing het met ’n opbrengs van 21,9 t/ha met die DEKALB-baster DKC65-60BR van Bayer die topposisie beklee. Eduard Snyman van Brits het tweede gekom met dieselfde baster en ’n opbrengs van 19,76 t/ha. In die derde plek was Attie Scholtz van Douglas wat die Pioneer-baster P1197PW geplant en ’n opbrengs van 18,9 t/ha realiseer het.

Sojabone
Produsente het drie nuwe rekords behaal, met uitsonderlike opbrengste wat oor besproeiings- en droëlandstreke gerapporteer is. Die wenners in die sojaboonkategorieë was soos volg:

KwaZulu-Natal
Kobus Louw van Paulpietersburg was eerste met ’n opbrengs van 5,74 t/ha met die Agricol DM 61i63-variëteit.

Verlede jaar se wenner in hierdie kategorie, Bertie Pretorius van Newcastle, was tweede met ’n opbrengs van 5,2 t/ha met die Pioneer-variëteit P51T42R. 4,829 t/ha het Erasmus Albertse van AL-DI Agri in Dundee, wat Agricol DM 59i60 RSF IPRO geplant het, in die derde posisie geplaas.

Oostelike Hoëveld
Dawie Brits van Balfour het gewen met ’n kompetisierekordopbrengs van 7,12 t/ha deur Agricol DM 53i54 RSF IPRO te plant. Danie Bester, ook van Balfour en die 2024-wenner, was tweede met ’n opbrengs van 7,06 t/ha met Agricol DM 5351 RSF.

In die derde posisie was Rian Maree van Piet Retief wat ’n opbrengs van 6,72 t/ha behaal het met Agricol DM 61i63 RSF IPRO.

Oostelike Vrystaat
Daniël Slabbert van Harrismith het hierdie kategorie gewen met die Pioneer-variëteit P64T39R en ’n opbrengs van 5,55 t/ha. Wessel Heymans van Reitz het beide die tweede en derde posisie behaal. Hy was tweede met die Pioneer-variëteit P64T39R met ’n opbrengs van 5,42 t/ha en derde met Agricol DM 59I60 RSF IPRO met ’n opbrengs van 5,139 t/ha.

Sentrale streek
’n Kompetisierekordopbrengs van 6,46 t/ha met die Pioneer-kultivar P52T52R het Johann Pistorius van Nigel se eerste plek verseker. Mike van Niekerk van Derby was tweede met die Agricol DM 61i63 RSF IPRO-kultivar en ’n opbrengs van 6,02 t/ha. Van Niekerk behaal ook die derde posisie met ’n opbrengs van 4 t/ha met die Pioneer-kultivar P64T39R.

Noordwes
Theodor van Rensburg van Delareyville het die eerste plek behaal met ’n opbrengs van 5,37 t/ha met die Agricol DM 61i63 RSF IPROPG-variëteit. Tweede was Henro Pieterse van Biesiesvlei met ’n opbrengs van 4,83 t/ha met die Agricol DM 61i63 RSF IPRO-variëteit. Hector van Wyk van Gerdau het die derde plek behaal met ’n opbrengs van 4,71 t/ha met die Agricol DM 61i63 RSF IPRO-variëteit.

Watertafel-streek
Greyling van Niekerk van Makwassie het die Agricol Don Mario-variëteit DM 6,8i RR geplant en sy opbrengs van 6,06 t/ha het hom bo-aan die lys geplaas.
Tweede was Warie Cilliers van Bultfontein wat Agricol DM 61i63 RSF IPRO geplant het en ’n opbrengs van 5,21 t/ha behaal het. Arno Wessels van Wesselsbron het ’n Agricol Don Mario-variëteit, DM 61i63 RSF IPRO, geplant en derde gekom met ’n opbrengs van 4,93 t/ha.

Besproeiing
Roubel Thomas van Cookhouse het eerste gekom met ’n rekordopbrengs van 7,7 t/ha. Hy het Agricol DM 53i54 RSP IPRO geplant. Pieter Becker van Warden het Agricol DM 53i54 RSF IPRO geplant en die opbrengs van 6,52 t/ha het hom die tweede posisie besorg. Ross Braithwaite van Bergville was derde met ’n opbrengs van 6,3 t/ha met die Pioneer-variëteit P55T86R.

Sonneblom
Die wenner in die sonneblomkategorieë vir graanopbrengs en oliepersentasie was Ernst Jonker van Makwassie. Hy het eerste gekom met ’n opbrengs van 3,33 t/ha met die Agricol AGSUN 5106CLP-baster. Hy het ook die eerste posisie in die olie-opbrengs/ha-afdeling behaal met 41,3% olie (1,38 ton olie-opbrengs/ha).

PE Kotze van Delareyville is tweede geplaas met ’n opbrengs van 2,755 t/ha met dieselfde baster. Hy het ook die tweede plek in die olie-opbrengs/ha-afdeling behaal met 39% olie (1,07 ton olie-opbrengs/ha). PE Kotze het ook derde in die opbrengs/ha-kompetisie geëindig met ’n ander Agricol-baster, AGSUN 5111CLP, met ’n opbrengs van 2,67 t/ha. Hy was ook derde in die olie-opbrengs/ha-afdeling met 38,5% olie (1,03 ton olie-pbrengs/ha).

Koring
Beide die noordelike en suidelike besproeiingskategorieë het nuwe rekordopbrengste opgelewer, wat die voordeel wat verbeterde kultivars en bestuurspraktyke inhou, beklemtoon. Die wenners in die koringkategorieë was soos volg:

Besproeiing: Noordelike streek
Willem Kruger van die Loskop-Noord-besproeiingskema het die eerste posisie behaal met ’n kompetisierekordopbrengs van 11,345 t/ha met ’n Sensako-variëteit van Syngenta, SST 8205.

Neels en Joseph Swanepoel van Koedoeskop was tweede met ’n opbrengs van 10,61 t/ha met die Agricol-variëteit IS TORDO. Sitrusrand Boerdery van Hofmeyr was derde met ’n opbrengs van 10,33 t/ha, ook met SST 8205.

Besproeiing: Suidelike streek
Hannes Bruwer van Hopetown het die hoogste eerbewys ontvang met ’n opbrengs van 13,96 t/ha met die Agricol IS TORDO-variëteit. In die tweede plek was JH Maree van Prieska met dieselfde variëteit en ’n opbrengs van 13,3 t/ha.

In die derde plek met ’n opbrengs van 11,57 t/ha was Joël le Roux van Hopetown met ’n Sensako-variëteit van Syngenta, SST 8227.