Terwyl ons na die einde van die jaar beweeg, dink ons dikwels aan die twaalf maande wat verby is en die besluite en gebeurtenisse wat plaasgevind het.
Ons is geneig om wanneer ons die Kerstyd binnegaan, voorraad van ons eie lewens en die mense daarin te neem. Ten spyte van ‘n besige 2025 dink ek elkeen van ons het rede om dankbaar te wees – ongeag die jaar wat verby is en hoe ons dit individueel ervaar het. Te danke aan ons geloof en as ons onthou hoekom ons Kersfees vier, sal dankbaarheid dieper in ons harte lê oor ons omstandighede en die familie en vriende om ons.
‘The early bird catches the worm’ first appeared in a book of proverbs by William Camden in 1605. While there is no direct reference to this in the Bible, Proverbs 8:17 says: ‘I love them that love me: and those that seek me early shall find me.’’
“Ek het dié lief wat my liefhet; dié wat my soek, vind my.”
My hoop vir elke persoon wat vanjaar hierdie boodskap lees, is dat julle die liefde wat die Here in ons lewens teweegbring vroegtydig sal ervaar en ondervind. Geniet die tyd saam met familie en vriende. Soos met Jesus Christus en die Here is familie ook belangrik in ons lewens. Maak tyd en luister na hul gebede en hul drome. Dink aan jou eie gesondheid én geestelike gesondheid.
Die koms van Jesus in ons lewens is iets wat meer as een maal kan gebeur. Die eerste keer is wanneer jy jou lewe aan Hom oorgee en Hom as jou Verlosser aanvaar. Nog ’n keer is wanneer jy besef jy is gemaak vir meer (Efesiërs 2:10: “Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het). God het ’n unieke doel met jou op aarde en Hy wil jou gebruik daar waar jy is, beweeg, leef en werk. Dan begin die verwesenliking van daardie roeping – jóú roeping. Dan kom die dag van Christus se koms in en deur jou lewe op groot en klein maniere al nader.
Vanjaar was nie sonder sy uitdagings nie. Ons sal egter die nuwe jaar aanpak met nuwe planne, nuwe geesdrif en sterker geloof. Ons sal meer gefokus wees op die uitkomste en die strategie van Graan SA.
Baie van ons sal egter nie heeltemal kan uitspan en rus nie, maar sal huis en plaas oppas of besig wees om die oes op hande te bestuur of nog te plant. Ek wens almal voorspoed en seën toe oor die tydperk en vir die nuwe jaar, nie omdat ons dit verdien nie, maar uit die Here se genade.


















