Wat leer ons uit historiese mielie-aanplantings?

Gepubliseer: 12 Desember 2025

720

DIE VOORNEME OM TE PLANT WORD ELKE JAAR NA ’N OPNAME ONDER PRODUSENTE IN OKTOBER DEUR DIE NASIONALE OESSKATTINGSKOMITEE (NOK) VRYGESTEL. DAARNA PLANT DIE SOMERGRAANSTREKE, AFHANGENDE VAN DIE REËN, VANAF OKTOBER TOT BEGIN JANUARIE. IN FEBRUARIE WORD DIE EERSTE PRODUKSIESKATTING EN DIE AANGEPASTE HEKTARE VRYGESTEL. NA DIE VRYSTELLING VAN DIE VOORNEME OM TE PLANT, STEL GRAAN SA EINDE OKTOBER VOORLOPIGE VRAAG- EN AANBODSCENARIO’S BEKEND.

Daar is dus in die tydperk tussen November en Februarie heelwat spasie vir onsekerheid in die mark. Hierdie artikel ondersoek die historiese data van die voorneme om te plant, sowel as die verskil tussen die Februarie- en Maart-produksieskattings oor die afgelope paar jaar om sodoende ’n mate van onsekerheid uit te skakel.

Definisies:

  • Voorneme om te plant: Dit word gedoen deur ’n opname onder produsente in al die verskillende streke van die land deur die NOK. Dit word in Oktober elke jaar vrygestel.
  • Aangepaste oppervlakte: Dit word jaarliks in Februarie bekendgemaak nadat produsente geplant het en ’n tweede opname deur die NOK gemaak is. Die eerste produksieskatting word ook vrygestel tydens dié periode.
Witmielies: historiese aanplantings

As daar gekyk word na Grafiek 1 kan gesien word dat daar meestal nie merkwaardige verskille tussen die voorneme om te plant en die aangepaste hektare van die eerste oesskatting is nie. Die 2005/2006-seisoen het die minste aangeplante hektare in die geskiedenis gehad met ’n totaal van 973 000 ha. Dit was 228 640 ha of 31% meer as die voorneme op te plant daardie seisoen. In die 2015/2016-seisoen was die voorneme 389 150 ha of 27% minder as die werklike hektare aangeplant. In die jaar daarna (2016/2017) was die voorneme 188 100 ha of 13% minder as die aangepaste oppervlakte. Uit die 26 jaar aangedui in die grafiek was daar slegs drie jare waar dit wel tot ’n groot mate verskil het. Grafiek 2 toon dat daar in die tienjaartydperk van 2015 tot 2025 slegs twee jaar was waar die eerste en tweede produksieskatting noemenswaardig van mekaar verskil het.

Grafiek 1: Voorneme om te plant teenoor die aangepaste oppervlakte vir witmielies.
Grafiek 2: Eerste produksieskatting teenoor die tweede produksieskatting vir witmielies.
Geelmielies: historiese aanplantings
Grafiek 3 toon die verskil in die voorneme teenoor die aangepaste area vir geelmielies aan. Uit die 26 jaar wat in die grafiek uitgebeeld word, is daar slegs vier jare waar die verskil merkbaar is. Die 2009/2010-seisoen is die eerste uitskieter wat sigbaar is in die historiese aanplantings van geelmielies. Die voorneme was 12% of 109 200 ha minder as die aangepaste oppervlakte.
Grafiek 3: Voorneme om te plant teenoor die aangepaste oppervlakte vir geelmielies.
Tydens die 2015/2016-seisoen het produsente aangedui dat hulle 1 129 000 ha gaan aanplant, met die aangepaste oppervlakte wat getoon het dat slegs 945 000 ha aangeplant is, wat 184 000 ha of 16% minder is. Dieselfde tendens word waargeneem in Grafiek 4, waar daar vier jare is met ’n beduidende verskil tussen die eerste en tweede produksieskatting.
Grafiek 4: Eerste produksieskatting teenoor die tweede produksieskatting vir geelmielies.
Totale mielies: historiese aanplantings
As daar na totale mielies gekyk word wat in Grafiek 5 en 6 uitgebeeld word, kan gesien word dat daar vier uit die 26 jaar in die grafiek is waar verskille opgemerk kan word. Grafiek 6 wys dat daar drie jaar was waar ’n verskil tussen die eerste en tweede produksieskatting gesien kon word. In die 2024/2025-seisoen was daar een van die grootste verskille in die eerste teenoor die tweede produksieskatting. In Februarie teenoor Maart was daar ’n 12%- of 1 103 550 ha-verskil gewees. Dit was as gevolg van die sterk El Niño en wydverspreide droogte wat in die grootste gedeelte van die somergraangebied ervaar is.
Grafiek 5: Voorneme om te plant teenoor die aangepaste oppervlakte vir totale mielies.
Grafiek 6: Eerste produksieskatting teenoor die tweede produksieskatting vir totale mielies.

Slotsom

Die NOK het ’n riglyn om binne 8% vir die eerste vier skattings te wees en dan binne 5% vir die laaste skattings. Die data wat in hierdie artikel gebruik is, toon aan hoe akkuraat die oesskatting is op lang termyn as dit kom by aanvanklike aangeplante hektare. Wat ons ook kan aflei van die data is dat wanneer die voorneme van die aangepaste oppervlakte en/of die eerste van die tweede produksieskatting verskil, dit die uitsondering is eerder as die norm. Dit kan wees as gevolg van weerstoestande wat verander of uitermatige droogte of reën wat nie voorspel kon word nie. Die akkuraatheid van dié verslae is belangrik omdat dit die eerste aanduiding gee oor die moontlike voorraad wat na die mark toe kan kom. Na die vrystelling van die voorneme om te plant kan markdeelnemers voorlopige vraag-en-aanbod-state opstel om te bepaal of Suid-Afrika genoegsame voorraad beskikbaar sal hê.

Die noodsaaklikheid van invoere en uitvoere om plaaslike vraag te bevredig het ’n direkte impak op Suid-Afrika se prysbepaling. Produsente kan help om die verskille in die uitskieterjare kleiner te maak deur deel te neem aan die oesskatting.