SOMERGRANE: moontlike scenario’s vir 2026

Gepubliseer: 12 Desember 2025

300

2025/11/06

DIE EERSTE STRATEGIESE BLIK OP DIE TOEKOMS WAT DIE MARK IN DIE VOLGENDE SEISOEN KRY, IS ’N VERSLAG WAT DIE NASIONALE OESSKATTINGS-KOMITEE (NOK) IN OKTOBER VRYSTEL, WAT DIE VOORNEMENS OM TE PLANT BEKENDMAAK. HIERDIE VERSLAG DUI AAN WAT DIE MOONTLIKE AANGEPLANTE HEKTARE VIR DIE VOLGENDE SOMERGRAANSEISOEN KAN WEES. OP 28 OKTOBER 2025 HET DIE NOK DIE VOORNEMENS OM TE PLANT VIR DIE 2026/2027-OES BEKENDGEMAAK. VERWYS GERUS NA DIE INSET-OORSIG OP BLADSY 85 VAN HIERDIE UITGAWE VIR INLIGTING HIEROOR.

Deursigtige markinligting is die hoeksteen van ’n vryemark-stelsel, waar vraag en aanbod grotendeels prysseine bepaal. Dié voornemens-om-te-plant-verslag laat markdeelnemers toe om voorlopige vraag- en aanbodscenario’s vir die komende seisoen saam te stel. Gevolglik het Graan SA se ekonomiespan drie moontlike scenario’s opgestel wat in die 2026/2027-seisoen kan uitspeel.

Die drie scenario’s bestaan uit ’n lae-opbrengs-, gemiddelde-opbrengs- en hoë-opbrengsvoorneme. Elke scenario word gebou sodat daar geen surplus bo die pyp-lyn is nie om sodoende die mees ekstreme scenario uit te beeld. Invoere en uitvoere word dan as ’n balanseringsyfer gebruik.

Geelmielies
Tabel 1 is ’n opsomming van die drie moontlike scenario’s vir geelmielies se vraag en aanbod in 2026/2027 tesame met die negende beraming vir die 2025/2026-seisoen. Meer volledige tabelle kan op Graan SA se web-tuiste gevind word.

In die 2026/2027-seisoen kan Suid-Afrika tussen 5,2 tot 7,5 miljoen ton se geelmielies deur kommersiële lewerings na die mark toe bring. Saam met beginvoorraad en invoere kan Suid-Afrika dus tussen 6,4 en 8,3 miljoen ton se geelmielies beskikbaar hê vir totale verbruik.

Die lae-opbrengsscenario is die enigste een waarin Suid-Afrika geelmielies sal moet invoer om plaaslike vraag te bevredig. ’n Lae-opbrengsscenario is onwaarskynlik.
Hierdie scenario is gemodelleer op ’n lae opbrengs van 5,4 t/ha, wat laas in die 2015/2016-seisoen gesien is. In beide die gemiddelde- en hoë-opbrengsscenario sal Suid-Afrika geelmielies moet uitvoer.

Dit is moontlik dat tussen 400 000 tot 1,6 miljoen ton se geelmielies in die 2026/2027 seisoen uitgevoer sal moet word. Indien die mielies nie uitgevoer word nie, kan plaaslike eindvoorraad opbou wat moontlik druk op pryse kan plaas. Die meeste geelmielies wat Suid-Afrika nog uitgevoer het, was 2,99 miljoen ton in die 2021/2022-seisoen, met die meerderheid wat deur die Durban-hawe uitgevoer is en die res oorgrens.

Volgens Tabel 1 sal Suid-Afrika geelmie-lies moet uitvoer in al drie scenario’s. Vrye-markbeginsels lei daartoe dat ’n surplusvoorraad pryse onder druk plaas. Vir mielies beteken dit dat pryse normaalweg nader aan uitvoerpariteit beweeg om sodoende uitvoere te fasiliteer. Graan SA se uitvoerpariteitsberekeninge vir 2026 het aan die begin van November getoon dat Maart en Julie 2026 se uitvoerpariteit vir geelmielies vanaf Randfontein tussen R3 332/ton en R3 377/ton verhandel. Op daardie stadium het 2026 se Safex-pryse nog bo uitvoerpariteit verhandel.

Witmielies
Tabel 2 is ’n opsomming van die drie moontlike scenario’s vir witmielies se vraag en aanbod in die 2026/2027-seisoen tesame met die negende beraming vir die 2025/2026-seisoen.

In die 2025/2026-seisoen het Suid-Afrika ongeveer 1,4 miljoen ton bo die tienjaar- gemiddelde witmielieproduksie geproduseer. Mits Suid-Afrika se uitvoerprogram nie sterk spoed optel nie, kan dié seisoen afgesluit word met eindvoorrade van ongeveer 1,86 miljoen ton, wat die tweede hoogste is sedert die 2017/2018-seisoen. Hoër eindvoorraad lei tot ’n hoër beginvoorraad waarmee die volgende seisoen afskop. Gevolglik is daar ’n moontlikheid dat die 2026/2027-seisoen kan begin met hoër voorrade, tesame met ’n verwagte toename in aangeplante area. Die gunstige weerstoestande wat tans ervaar word, goeie oordragvog asook ’n swak La Niña-jaar kan bydra tot die waarskynlikheid dat ’n medium- of hoë-opbrengsscenario kan realiseer.

As Suid-Afrika die 2025/2026-seisoen met hoë voorraad eindig en ’n gemiddelde tot hoë opbrengs behaal, kan daar tussen 10,1 en 11 miljoen ton se witmielies in die plaaslike mark beskikbaar wees.

In al drie scenario’s sal dit nie nodig wees vir Suid-Afrika om in die volgende seisoen witmielies in te voer nie, maar die land sal wel genoodsaak wees om tussen 473 000 en 3,7 miljoen ton se witmielies uit te voer. Dit sal afhang van wat met ons buurlande se oeste gebeur, asook die kapasiteit by die hawens om die hoeveelhede te hanteer. Daar is ’n groot waarskynlikheid dat Suid-Afrika in die 2026/2027-seisoen ’n rekordhoeveelheid witmielies gaan moet verbruik of uitvoer om sodoende plaaslike pryse by uitvoerpariteit
te laat stabiliseer.

Sojabone
Tabel 3 is ’n opsomming van die drie moontlike scenario’s vir sojabone se vraag en aanbod in die 2026/2027-seisoen tesame met die negende beraming vir die 2025/2026-seisoen.

Indien die voorneme om te plant realiseer, dui dit aan dat Suid-Afrika in die volgende seisoen ’n rekord- aangeplante area vir sojabone kan verwag. Afhangend van die eindvoorraad vir die vorige seisoen, kan daar ’n beskikbare voorraad van tussen 2,2 en 3 miljoen ton in 2026/2027 se bemar-kingsjaar wees.

Suid-Afrika se vermoë om plaaslike sojabone te verwerk vir olie en oliekoek het oor die afgelope paar seisoene tot so ’n mate toegeneem dat ons afhanklikheid van uitvoere verminder het. Hoewel die groter meerderheid van Suid-Afrika se sojabone plaaslik verwerk kan word, sal ons steeds moet uitvoer om ’n opbou van voorraad te vermy en moontlike verligting aan pryse te bied.

In die 2025/2026-seisoen moet Suid-Afrika 350 000 ton se sojabone uitvoer om eindvoorraad te balanseer. Die 2025/2026-seisoen se uitvoerprogram was effens stadiger as benodig, met slegs 110 325 ton wat uitgevoer is teen einde September. Dit beteken dat Suid-Afrika ongeveer 239 675 ton oor ’n tydperk van vyf maande gaan moet uitvoer om nie volgende seisoen moet hoër voorrade te begin nie.

Al drie scenario’s dui aan dat Suid-Afrika sojabone gaan moet uitvoer en sodoende waarskynlik nader aan uitvoerpariteit verhandel vir die 2026/2027-seisoen. Graan SA se uitvoerpariteitsberekeninge na Randfontein vir 2026 het aan die begin van November getoon dat Maart en Mei 2026 se uitvoerpariteit vir sojabone tussen R7 461/ton en R7 521/ton verhandel.

Samevatting
Aan die begin van Oktober was die eerste produsente in Suid-Afrika al besig om te plant aan volgende jaar se oes. Die voornemens-om-te-plant-verslag gee vir die mark ’n aanvanklike idee wat moontlik in die volgende seisoen kan gebeur, maar dit is belangrik om in gedagte te hou dat daar verskeie veranderinge kan plaasvind gedurende die produksieseisoen. Al die scenario’s vir al die gewasse in hierdie artikel dui op die noodsaaklikheid vir uitvoere. Dit skep kommer en gaan kwaai druk plaas op die vermoë van Suid-Afrika se infrastruktuur om dié volumes uitvoere te hanteer.

Die meeste graan wat Suid-Afrika al vanuit die Durban-hawe verhandel het (dit sluit invoere en uitvoere in) was in die 2022/2023-bemarkingsjaar toe daar onge-veer 4,58 miljoen ton se graan deur die hawe beweeg het. Onder andere is 198 000 ton sojabone en 2,7 miljoen ton mielies uitgevoer en 1,6 miljoen ton koring ingevoer.

Tans verhandel die meerderheid grane reeds naby aan die 2026-uitvoerpariteitpara-meters. Dit gaan belangrik wees om internasionale tendense dop te hou vir moontlike skuiwe in die pariteitsparameters.

Voorspoed met die plantseisoen.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.