

redakteur, SA Graan/Grain
Die Graanprodusent van die Jaar-toekenning, wat uitnemendheid definieer en meet, is vir die 26ste keer op 31 Oktober tydens ’n swierige geleentheid by die Birchwood-hotel aan Hansie Viljoen van Viljoen Boerdery buite Leeudoringstad oorhandig. Dit was ’n byeenkoms waar die reusebydrae van graan in die Suid-Afrikaanse landbousektor opnuut waardeer en gevier is.
Jeremia Mathebula, visevoorsitter van Graan SA, het die geleentheid geopen en gesê dat elke oes met geloof en vertroue begin.

Dr Tobias Doyer, hoof- uitvoerende beampte van Graan SA, het gesê dat produsente nie vir glans of glorie gevier word nie. “Ons doen dit om te bestudeer wat dit beteken om van die mees mededingende produsente in die wêreld te wees – ons doen dit om te oorleef, om te leer, om die maatstaf vir volhoubaarheid te stel en om die regte dinge rég te doen.”
Hy het daarop gewys dat ’n groot plaas deesdae vier dinge moet regkry: geld maak, grond bou, mense en gemeenskappe ontwikkel en aanspreeklik bly. “Dít is waarom Graan SA hierdie tradisie voortsit – om die standaard vir uitnemendheid te ontdek, te definieer en te deel.”
Die geskenk van energie
Dr Doyer het na die broodrolletjie op die tafels verwys as die geskenk van energie. “Dit lyk eenvoudig, maar dit is vasgevange, suiwer sonenergie – versigtig versorg tot korrels van energie, geberg en gekoester, van die son tot op jou bord. Dit is energie wat nie in ’n bakkery begin het nie, maar in die kern van die son – waar waterstof in helium omsmelt onder ondenkbare toestande met temperature van sowat 5 miljoen °C en druk wat meer as 200 miljard keer hoër is as die lug om ons. Daardie energie bereik jou koringland wat op ’n kultivar val wat noukeurig deur wetenskaplikes en saadmaatskappye soos Syngenta, hierdie funksie se hoofborg, ontwikkel is. Dit is wanneer jy as produ-sent jou grond, vog, genetika, kontantvloei, risiko-bestuur en tydsberekening in plek het dat energie later in ’n happie omgeskakel kan word.”


Uitnemendheid vereer
Produsente in verskeie afdelings is tydens die galafunksie vereer, insluitend die wenners van die Phahama Grain Phakama-program wat in September tydens die Dag van Feesviering, na afloop van die PGP Ukukhula-konferensie, aangewys is. Hulle is:
- Nuwe Era Kommersiële Boer van die Jaar: Botlhale Jacob Tshabalala
- Potensiële Kommersiële Boer van die Jaar: Madinda Jabulani Matshinini
- Kleinskaalse Boer van die Jaar: Ithumeleng Naphtaly Mongane
- Bestaansboer van die Jaar: Rameshego Sarah Mahladi



Anlie Hattingh, wat as seremoniemeester opgetree het, het na die spoggeleent-heid verwys as ’n geleentheid waar nie slegs die oes van die lande gevier word nie, maar ook die ritme van seisoene. “Daar is ’n goue draad verweef in elke suksesverhaal, naamlik die kuns van tydsberekening. Ons bring hulde aan produsente wat verstaan dat elke groot oes begin lank voor die eerste druppel reën val. Dit begin in geloof, in dissipline en in leierskap wat groei – geslag na geslag.
“Hulle is mans en vroue wat nie net die grond bewerk nie, maar die toekoms koester. Hul sukses lê daarin om te weet wanneer om op te tree, wanneer om te wag en wanneer om te vertrou dat die sade wat hulle gesaai het hul seisoen sal vind.” Sy het die volgende voorgelees:
Die hart van ’n boer
klop op die ritme van die natuur,
verbind met die grond,
vloei deur die lande,
spring van verrassing,
en smelt in die aangesig van genade
– met onoorwinlike dankbaarheid
John Steenhuisen, Minister van Landbou en hoofspreker van die aand, het tydens sy toespraak gesê dat produsente nie net graan verbou nie, maar ook produsente van hoop is in ons mooi land. “Wanneer landbou floreer, floreer ’n land. Die bestes word nie uit gemak gebore nie, maar uit moed.”
Danie Minnaar, visevoorsitter van Graan SA, het die Inspirasie-toekenning aan Jozeph du Plessis, oud-Graan SA-Raadslid, oorhandig wat die gelykenis in Lukas 12 as sy maatstaf gebruik.
Du Plessis sien die graanbedryf as die grondslag van landbou en het verwys na twee tipes mense wat jy kry: dié wat meer vat as wat hulle gee en diegene wat meer gee as wat hulle vat. In sy oë val produsente sonder twyfel in laasgenoemde kategorie.


Die Goue Graan-toekenning, Graan SA se hoogste toekenning vir uitstaande leierskap binne die organisasie sowel as in verskeie nasionale beleidstrukture, word toegeken aan individue wie se jare van toegewyde diens ’n blywende nalatenskap in die graanbedryf agterlaat. Hulle is die draers van Graan SA-waardes en die mentors wat ander gehelp het om hul pad te vind. Richard Krige, voorsitter van Graan SA, het hierdie toekenning aan Jaco Minnaar en Derek Mathews oorhandig.
Minnaar sien die toekenning as iets wat hy namens alle produsente ontvang en beskou dit as ’n voorreg om in leiers voor hom se voetspore te volg. Mathews het genoem dat die toekenning sy gesin net soveel toekom as vir hom. Dit was duidelik dat hier-die twee vorige Graan SA-leiers spanspelers is en die waarde van diegene wat hulle hande versterk, waardeer – waardig om die Goue Graan-lapelwapen te dra.


Die hoogtepunt van die aand het aangebreek nadat 2025 se drie Graanprodusent van die Jaar-finaliste se pad in landbou kortliks gedeel is: JP Truter van Moorreesburg, Hansie Viljoen van Leeudoringstad en Riaan Taljaard van Hoopstad.
Hansie Viljoen van Viljoen Boerdery is as wenner aangewys – ’n man wat trots is op sy wortels, maar ook op die volgende generasie wat deesdae deel uitmaak van die Viljoen-wenspan. Hy het erkenning gegee aan sy vrou, Wilmarie, wat “die drie seuns reg geslaan het”, asook aan sy ma, ’n “kort tannietjie en formidabele vrou” wat hom baie van boerdery geleer het. Hy het die belangrikheid van vennote beklemtoon wat waarde tot jou besigheid toevoeg, asook die waardevolle verskil wat mentors in jou lewe kan maak.
“Ons moet winsgewend wees om volhoubaar te bly. Deel jou kennis met jongmense wat landbou in die land vorentoe vat, want ons is bouers, nie brekers nie.”





















