DIS HOE DIE WIELE IN 2025 DRAAI

Gerrie Smit, motorjoernalis en SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 14 November 2025

196

Voertuie wat moontlik ewe tuis op ’n plaas as op die oop pad sal wees, is werd om ondersoek te word. Vier modelle wat tydens omvattende toets-ritte uitgestaan het, word ge-volglik bespreek om produsente te help om ’n ingeligte besluit te neem.

Mercedes-Benz GLC 220d
Sedert die bekendstelling van die oorspronklike Mercedes-Benz GLC in 2015, het dit een van dié Duitse vervaardiger se gewildste modelreekse geword. Die GLC 220d 4MATIC-model word deur ’n turbodieselenjin van twee liter wat 145 kW en wringkrag van 405 Nm lewer, aangedryf. Hierdie enjin word gekoppel aan ’n 9 G-Tronic- outomatiese ratkas met nege gange. Mercedes-Benz se permanente vierwielaandrywingstelsel, bekend as 4MATIC, is deel van die pakket en daarom is hierdie GLC-model uitstekend toegerus vir lang grondpaaie.

Die GLC 220d 4MATIC-model kos R1 243 798. Daar is verskeie opsiepakkette wat uiteraard teen ekstra koste bygevoeg kan word. Die Mercedes Benz-handelaarsnetwerk bied tans ’n spesiale finansierings-pakket aan. Diegene wat die voertuig deur middel van finansiering koop, kan voordeel trek uit ’n voorkeurrentekoers van prima minus 2,5%. Die GLC 220d word gerugsteun deur ’n waarborg en instandhoudingsplan van vyf jaar of 100 000 km.

Die Mercedes-Benz GLC 220d.

Land Rover Defender 110 D 250 SE
Vir die produsent wat die gemak van ’n voertuig soos die GLC wil behou, maar ook slegte paaie en selfs in die veld wil ry, is die nuwe Defender 110 D 250 SE met die County-pakket ’n goeie oorweging.

Die Terrain Response 2-stelsel waarmee die Defenders toegerus word, pas outomaties aan by veranderende toestande terwyl die aandrywingstelsel en laestrekratkas maak dat die voertuig onstuitbaar in alle toestande is. Daarby kan ’n mens deur water van tot 900 mm diep ry.

Die D 250-model se drieliter-turbodiesel­enjin lewer 183 kW teen 4 000 opm en wringkrag van 570 Nm teen 1 250 tot 2 500 opm. Hierdie enjin word gekoppel aan ’n outomatiese ZF-ratkas met agt gange wat die Defender in staat stel om binne 8,1 sekondes van 0 tot 100 km/h te versnel ten spyte van symassa van 2,5 ton terwyl sy brandstofverbruik 8,1 liter/100 km is.

Die Defender word toegerus met veiligheidskenmerke soos ’n 360°-kamera, ’n blindekolmonitor, aanpasbare spoedbeheer op die pad en in die veld asook baandwaalwaarskuwing.

Sonder opsionele ekstras is die Defender 110 D 250 SE se prys R1 699 700. Die prys sluit ’n waarborg en instandhoudingsplan van vyf jaar of 100 000 km in.

Die Land Rover Defender 110 D 250 SE.

Isuzu D-Max 3,0 LSE 4×4
Isuzu se D-Max-reeks is reeds jare lank een van Suid-Afrika se gewildste bakkies en hy het hom die afgelope tyd byna permanent in die derde plek op die Suid-Afrikaanse verkoopslys vir bakkies bevind.

Die een Isuzu-bakkiemodel wat bo die res uitstaan wat be-voegdheid en veelsydigheid betref, is die D-Max 3,0 LSE 4×4. Daar is luukser modelle in die Isuzu-stal en selfs gemeet teen sy twee hoofkompeteerders, die Toyota Hilux en die Ford Ranger, mag dit lyk of die D-Max tweede kom.

Met die D-Max LSE 4×4-model val alles egter in plek. Sy aantrekkingskrag lê by sy gemaksitems, maar sy grootste pluspunt is sy meganiese eenvoud. Hoe meer truuks en foefies ’n voertuig het, hoe meer probleme kan opduik. ’n Bewys van hierdie stelling is juis Ford se herroeping van verskeie modelle hierdie jaar om verbroude tegnologie reg te maak. Die Hilux as die topverkoperbakkie raak egter nou lank in die tand. Isuzu se D-Max-bakkies is nuut en betroubaar.

Die 3,0 LSE word aangedryf deur ’n turbodieselenjin wat 140 kW teen 3 600 opm lewer en ’n wringkrag van 450 Nm teen 1 600 opm bied. Dit het ’n outomatiese ratkas met ses gange as standaardtoerusting.

Onder die veiligheidskenmerke waarmee die LSE toegerus word, is ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en nood­remhulp, wegtrek- en afdraandehulp, sleepswaaibeheer, voorste en kantlugsakke asook ’n tru-kamera.

Die Isuzu D-Max 3,0 LSE 4×4 kos R887 000; sy waarborg is vyf jaar of 120 000 km en sy diensplan is vyf jaar of 90 000 km.

Die Isuzu D-Max 3,0 LSE 4×4.

Tata Harrier Fearless
In Suid-Afrika is Tata bekend vir sy medium- tot swaar voertuie en selfs die Telcoline-bakkie het al sy merk gemaak weens sy absolute bekostigbaarheid en gehardheid. Iets wat ’n mens nie van Indiese vervaardigers soos Mahindra en Tata kan betwis nie, is dat hulle bekostigbare voertuie vir hul eie bevolking bou. Aangesien Indië se paaie blykbaar ook maar gruwelik is, moet hulle dus voertuie bou wat hou.

Tata het nou sy passasiervoertuigreeks vergroot met onder andere die Harrier.

Voordat ons ons neuse optrek, neem kennis dat die Harrier ’n volwaardige sportnutsvoertuig is wat op die Omega Arc-platform, wat op sy beurt weer op die Land Rover D8-platform gebaseer is, gebou word. Tata het Land Rover ’n paar jaar gelede gekoop en daar is duidelike kruisbestuiwing wat van Land Rover na die Harrier oorgewaai het.

Die Tata Harrier is luuks, kragtig, solied en waarde vir geld. Dit word aangedryf deur ’n turbo-aangejaagde tweeliterdieselenjin wat aan ’n outomatiese ratkas met ses gange gekoppel word. Hierdie enjin lewer 125 kW teen 3 750 opm en het ’n wringkrag van 350 Nm teen 1 750 opm.

Die Harrier Fearless is die vlagskip van die Harrier-reeks en word met die volgende kenmerke toegerus: ’n elektriese agterklap,dubbelsone-klimaatbeheer wat op stem­opdragte reageer, ’n opgegradeerde klankstelsel met nege luidsprekers, ’n 12,3 duim-vertoonskerm, Alexa Car 2 Home-verbinding met internettoegang, elektries verstelbare en geventileerde voorsitplekke en ’n dak in ’n kleur wat met dié van die bakwerk kontrasteer.

Alle Harrier-modelle word toegerus met veiligheidskenmerke soos ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding, ses lugsakke, elektroniese stabiliteitsbeheer, wegtrekhulp, agterste parkeersensors met ’n trukamera, vastrapbeheer, ’n agterruitveër en ’n banddrukmonitor.

Die Adventure+A se bykomende veiligheidskenmerke is ’n gevorderde bestuurshulpmiddelstelsel met omtrent 20 funksies, ’n 360°-kamera, ’n elek­troniese parkeerrem, skyfremme op al vier wiele, ’n agterruitverwarmer, outomatiese ruitveërs, outomatiese kopligte met ’n volg-my-en-lei-my-funksie, voorste parkeersensors, ligdiode-kopligte, sewe lugsakke en afdraandehulp.

Die Harrier 2,0 TD Fearless kos R699 900 en het ’n waarborg van vyf jaar of 125 000 km en ’n diensplan van vyf jaar of 75 000 km.

Die Tata Harrier Fearless.