Graan SA help lede met PCO-SERTIFISERING

Gepubliseer: 8 Oktober 2025

276

Die regulering van landboumiddels in Suid-Afrika het oor dekades ontwikkel om die veilige gebruik van gevaarlike chemikalieë in die land­bousektor te verseker. Die grondslag is gelê met die Wet op Mis­stowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels (Wet 36 van 1947) wat die Kantoor van die Registrateur gestig het om toesig te hou oor die registrasie en gebruik van hierdie middels.

In 1977 is die wet gewysig om die Regi­strateur meer beheer te gee oor die verkope, invoer en gebruik van landboumiddels. Dit het gelei tot strenger beheer oor gevaarlike chemikalieë. Teen 1980 is die konsep van plaagbeheeroperateurs (PCO’s) bekend­gestel – slegs gekwalifiseerde individue mag sekere gevaarlike middels gebruik.

In 2011 is die PCO-regulasies amptelik gepubliseer. Die regulasies het dit duidelik gestel dat enige persoon wat gevaarlike middels hanteer óf self ’n geregistreerde PCO moet wees óf onder direkte toesig van een moet werk.

Onlangse ontwikkelings: 2023 tot 2024
In 2023 het die destydse Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) nuwe regulasies gepubliseer wat twee klasse van middels gedefinieer het, naamlik “beperkte landboumiddels” en “kommerwekkende middels”. Hierdie middels is toksies en mag slegs deur geregistreerde PCO’s gekoop, gemeng en gebruik word. Die klassifikasie is ingestel om veiligheid en verantwoordelikheid in die hantering van landbouchemikalieë te verbeter.

Na tragiese sterftes in 2024 weens die onwettige verkryging, berging en gebruik van beperkte landboumiddels, het DALRRD saam met die Departement van Gesondheid begin met intensiewe inspeksies van die landboumiddel-voorsieningsketting. Dit het gelei tot die streng implementering van die PCO-regulasies.

Wat doen Graan SA vir produsente?
Graan SA het hande gevat met Aartappels SA (ASA) om die proses vir produsente te vergemaklik om ’n geakkrediteerde PCO te word. Met toestemming van die Registrateur van Wet 36 kon die twee organisasies ’n geakkrediteerde opleidingsprogram ontwikkel saam met ’n chemiese kenner. Hierdie program is eksklusief beskikbaar vir lede van Graan SA en/of ASA.

Die kursus is op 14 Augustus aan lede bekendgestel tydens ’n aanlyn geleentheid. Die Registrateur van Wet 36 het die sessie bygewoon, waar hy produsente toegespreek het en beskikbaar was om vrae te beantwoord.

Registrasie vir die kursus sowel as die volledige opleidingsprogram om ’n PCO-sertifikaat te bekom, is 100% aanlyn. Produsente kan die kursus dus op hul eie tyd en tempo voltooi.

Graan SA het ook ’n stap-vir-stap-gids saamge­stel wat verduidelik hoe registrasie vir die opleidings­program werk en wat verder deur die Departement van Landbou (DoA) van produsente verwag word. Hierdie gids is beskikbaar deur die QR-kode te skandeer of om die skakel te volg: https://shorturl.at/krDmu.

Indien produsente enige navrae het of vasval by een van die stappe, kan hulle die gids raadpleeg. Die gids bevat kontakbe­sonderhede van verskeie persone wat kan help met spesifieke pro­bleme, of kontak economist@grainsa.co.za.