
landbou-ekonoom,
Graan SA,
heleen@grainsa.co.za
05/08/2025
SOJABOONPRODUKSIE WAS EENS WEGLAATBAAR KLEIN TEENOOR ANDER SOMERGRANE SOOS MIELIES EN SONNEBLOM. HIERDIE OLIESAAD HET EERS REDELIK ONLANGS IN DIE KOLLIG GETREE – NIE NET IN SUID-AFRIKA NIE, MAAR OOK WÊRELDWYD. SOJABONE HET ’N STRATEGIESE GEWAS GEWORD WAT WISSEL TUSSEN PROTEÏENWAARDEKETTINGS, BRANDSTOFPOLITIEK EN VERANDERENDE DIËTE.
Hoewel sojabone gereeld die hoofopskrifte in Brasilië, Amerika en China haal, is dit in Suid-Afrika waar dit stilletjies gehelp het om graanmarkte te stabiliseer.
Globale speler in ’n hoë-insetspel
Sojaboonproduksie het ’n belangrike stabiliserende krag in globale graanmarkte geword. As beide ’n voedsel- en veevoerbron help sojabone om markskokke te absorbeer wanneer ander kommoditeite, soos mielies en koring, produksie- of handelsontwrigting ervaar.
Sojabone se rol in wisselboustelsels het bygedra tot die verbetering van grondgesondheid en opbrengsstabiliteit. Handelsnetwerke het ook voordeel daaruit getrek dat die twee groot produsente, die VSA en Suid-Amerika, in verskillende seisoene stroop. Amerika se oes word tussen September en November gestroop, terwyl Suid-Amerika tussen Januarie en Julie stroop. Dit het ’n meer deurlopende en voorspelbare voorraad verseker, wat ook natuurlik lei tot minder wisselvallige wêreldpryse.
Met die groot toename in wêreldsojaboonproduksie was dit noodsaaklik dat verbruik dieselfde tendens volg, anders is daar ’n opbou van voorraad wat pryse onder druk plaas. Figuur 1 beeld die tendense in wêreldsojaboonverbruik oor die afgelope vyf seisoene uit. Dit is merkbaar dat sojaboonverbruik sedert 2022 met elke bemarkingseisoen ’n nuwe rekord bereik het, met dieselfde tendens wat verwag word vir die nuwe seisoen. Hoewel verbruik nuwe hoogtes bereik, neem dit stadiger toe as produksie en gevolglik bou wêreldeindvoorrade op, wat druk op pryse plaas.
Met globale geopolitiese druk wat toeneem, word brandstof- en energiepryse gereeld negatief beïnvloed. Sojabone is ’n gewas wat ook geskik is vir biobrandstofproduksie. Uit Figuur 1 is dit verder duidelik dat globale persgetalle toegeneem het, gedeeltelik om politieke skuiwe te verskans en die impak van hoër produksie te absorbeer. Dit het bygedra tot ’n toename in die totale vraag, wat gevolglik eindvoorraad verminder.

Bron: GSA; IGC
Plaaslike mark
Sojabone het in die wêreldmark ’n groot mate van diversifikasie en stabiliteit gebring, maar in Suid-Afrika het dié kommoditeit ’n belangriker rol gespeel. Sojabone het nie net ’n toename in plaaslike proteïen na die Suid-Afrikaanse mark gebring nie, maar ook ’n balans vir die graanmarkte:
- Gewasrotasie en grondgesondheid: Vir vele produsente – veral in die somerreënvalgebiede – het sojabone die mieliemonokultuur gebreek, of dan as ’n alternatiewe gewas na vore gekom. Sojabone se stikstofbindende towerkrag verbeter grondgesondheid en verminder kunsmiskoste vir die volgende oes.
- Risikoverskansing: Hoewel prystendense van mielies en sojabone naby verwant is, korreleer dit nie perfek nie. Geel- en witmielies bereik tradisioneel ’n pryshoogtepunt in Desember, waar sojabone eers in Januarie ’n hoogtepunt bereik. Omdat pryse nie perfek korreleer nie, beteken dit dat wanneer mielies ’n slegte jaar beleef (byvoorbeeld ooraanbod of uitvoerbottelnekke), sojabone steeds kan presteer. Dit versprei die risiko en laat produsente met nog ’n kaart in die pak.
- Voer vir die veevoermark: Die groei in plaaslike sojaboonpersing het gehelp om proteïenpryse te stabiliseer asook die afhanklikheid van sojameelinvoere, ’n noodsaaklikheid vir vee- en pluimveeprodusente. Figuur 2 beeld die invoer- en produksietendense van sojabone uit. Invoeronafhanklikheid het weer die wisselvalligheid in voerkoste verminder en voedselsekerheid verbeter. Dit bevoordeel die hele landbouwaardeketting.
- Uitvoere en handel: Suid-Afrika het in die 2022/2023-seisoen met diepseesojaboonuitvoere begin en vertroue opgebou as ’n internasionale sojaboonverskaffer. Verskeie nuwe markte is sedertdien betree, soos Bangladesj, China, Maleisië, Portugal, Thailand en Viëtnam. Dit maak deure oop vir streekshandel en gee ons ’n buffer teen wêreldwye aanbodskokke.

Bron: SAID, Graan SA, SAGIS
Samevatting
Hoewel sojabone ’n groot mate van balans gebring het vir beide internasionale en plaaslike markte, kan die huidige toename in produksie lei tot baie druk op internasionale markte. Internasionaal absorbeer sojabone wanbalanse wat deur weersomstandighede, handelsonrus en ’n verskuiwende energievraag geskep word. Plaaslik het sojabone nie net ’n stabiliserende invloed op graanmarkte gehad nie, maar het dit ook die bedryf versterk deur grondgesondheid te verbeter, risiko te versprei en Suid-Afrika se selfstandigheid in proteïenbronne te bevorder.
Terwyl sojabone ’n beduidende rol in die landbousektor sal bly speel, sal toekomstige uitdagings, insluitend klimaatsverandering en die wêreldwye vraag na landbouprodukte, nietemin die balans van die mark kan beïnvloed. Deursigtigheid en beplanning sal bepaal in hoe ’n mate Suid-Afrika afhanklik kan wees van die volhoubaarheid van sojaboonproduksie.
Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.

















