Graan SA-verskilmakers dink terug en groet

Rentia Mynhardt, SA Graan/Grain-redakteur
Gepubliseer: 4 Augustus 2025

585

Wanneer jy as Raadslid van Graan SA verkies word, is dit nie bloot ’n titel wat jy dra nie. Daar gaan baie onbaatsugtige ure en kilometers in hierdie portefeulje in om die spreekbuis tussen jou streek se produsente en Graan SA te wees. Op 25 Junie is daar in styl van uittredende Raadslede afskeid geneem, sommige met jare lange dienstermyne.

In sy verwelkoming het dr Tobias Doyer, hoof- uitvoerende beampte van Graan SA, genoem dat die leierskapsrol wat Raads­lede vervul die aktiwiteite van Graan SA stuur. “Yster slyp yster. Vriende vorm mekaar. Ons werk in ’n gebroke wêreld, maar ons hou aan dien, bemoedig en bid, en ons bly instrumente in God se hand. Ons vat dit waarmee julle begin het verder saam met die nuwe span vorentoe.”

Hy het ook die ondersteunende rol wat ’n Raadslid se gesin gedurende sy termyn speel, uitgelig. “Dit gaan nie ongesiens verby nie. Die trots wat ’n Raadslid-huishouding teenoor Graan SA het, is enorm. Raadslid-gesinne vorm behoorlik ’n linie om Suid-Afrikaanse landbou te verteenwoordig en saam uitdagings aan die horings te gryp.”

Nico Vermaak (links) en Corné Louw het onderskeidelik langdienstoekennings vir 30 en 20 jaar diens ontvang.

Richard Krige, voorsitter van Graan SA, het die belangrikheid van eerlikheid beklemtoon. “Sonder eerlikheid kan jy nie vertroue wen nie. Diegene in Graan SA wat ons vooruitgegaan het, het met eerlikheid en deursigtigheid te werk gegaan, en dit is wat vertroue by mense wen. Ek het soveel respek vir die verhoudings en brûe wat hulle oor die jare gebou het, maar dit was net moontlik met eerlikheid.”

Derek Mathews, uitgetrede voorsitter, het na die familieband verwys wat hy binne Graan SA ervaar. “Ons moet dit wat ons het koester, want dit is regtig iets besonders. Bou die band onder mekaar. Bou die vertroue. Dit is wat Graan SA uniek maak. Hou altyd Graan SA se enigste bestaansrede voor oë: volhoubare, wins­gewende graanproduksie. Ek is trots om Graan SA my familie te noem. Hou net aan om die regte dinge te doen. Om as voorsitter van Graan SA te kon dien, was ’n ongelooflike deel van my lewe.”

Jaco Breytenbach het die trofee vir uitnemendheid ontvang vir die bydrae wat hy by Graan SA lewer.

Jozeph du Plessis van Streek 2 het na 22 jaar uitgetree. Krige het na hom verwys as ’n man wat altyd reguit en eerlik met kalmte en wysheid praat, ’n man met sterk beginsels en ’n man van God. Du Plessis het na die leuse van Kovsies se landboufakulteit verwys: “’n Volk wat vir sy landbou sorg, sorg vir sy toekoms.” Hy het ook tot groot vermaak van die saal na landboustudente se weergawe hiervan verwys: “As jy wil boer, moet jy roer, anders is jy in jou moer.”

“Ek was by die stigting van Graan SA betrokke. Dit was ’n voorreg om met hierdie organisasie te kon voortgaan nadat ons voorgangers die fondament gelê het. Die rede hoekom Graan SA is wat hy is, is omdat daar met integriteit en eerlikheid opgetree word. Dit is ’n organisasie wat hoop gee en nuwe planne na die tafel bring. Hou aan om eerbaar en onbaatsugtig te dien.”

Uittredende Raadslede is op ’n elegante en stylvolle wyse bedank vir hulle diens aan die organisasie.

Danie Reichel van Streek 4 het na nege en ’n halwe jaar die tuig neergelê en het groot respek vir die Graan SA-personeel. “Die paar jaar wat ek op die Oesdagkomitee gedien het, sal my altyd bybly.”

Sarel Haasbroek van Streek 7 het sy dank uitgespreek aan Graan SA-personeel wat al die harde werk agter die skerms doen om die dinge te laat gebeur. “In my 13 jaar wat ek op die Raad gedien het, sal ek veral die vriendskappe wat ek en my vrou gebou het, koester.”

André Kirsten van Streek 26 het na twaalf jaar as Raadslid uitgetree.
Danie Reichel van Streek 4 het na nege en ’n halwe jaar die tuig neergelê.
Derek Mathews (tweede van links) het die voorsitterstoel na ’n termyn van vyf jaar aan Richard Krige (links) oorgegee. Saam met hulle op die foto is Derek se vrou, Karin, en dr Tobias Doyer, hoof- uitvoerende beampte van Graan SA.
Jozeph du Plessis van Streek 2 het na 22 jaar as Raadslid uitgetree. In sy toespraak het hy gesê dat die rede hoekom Graan SA die organisasie is wat hy is, is omdat daar met integriteit en eerlikheid opgetree word.
Patrick Stuurman is oortuig dat hy ’n beter leier is as gevolg van die dissiplines wat Graan SA hom geleer het.
Pierré van Zyl van Streek 21 is geprys vir die verskil wat hy in sy gemeenskap maak.
Sarel Haasbroek van Streek 7 het in sy 13 jaar as Raadslid die vriendskappe wat hy en sy vrou gevorm het, uitgesonder.

Krige het Pierré van Zyl van Streek 21 geprys vir die verskil wat hy in sy gemeenskap maak. “Ek het die bydrae wat jy in Graan SA gemaak het, beter verstaan nadat ek gesien het hoe betrokke jy in jou gemeenskap is.”

André Kirsten, of “Kraai” soos almal hom ken, het na twaalf jaar uitgetree as Streek 26 se Raadslid. Sy waardering vir Graan SA-personeel is groot. “Die toewyding, vriendelikheid en passie waarmee hulle werk, is ongekend en besonders. Om op die Raad te dien, is baie keer ’n ondankbare werk, maar iemand moet dit doen. Vat die pak slae, want dit is al hoe ons op ons plase gaan bly.”

Patrick Stuurman, addisionele lid, het vertel hoe hy ’n beter leier is weens die dissiplines wat hy by die organisasie geleer het. “Graan SA staan vir produsente. Dit was ’n voorreg om deel van Graan SA te wees en so baie te kon leer.”

Tydens die funksie is Jaco Breytenbach vereer vir die bydrae wat hy by Graan SA lewer, spesifiek in die Produksie/Inset-werkgroep en as voorsitter van SA Graan/Grain. Die trofee vir uitnemendheid, wat jaarliks deur die personeelspan aan ’n Raadslid toegeken word, is aan hom oorhandig.

Nico Vermaak en Corné Louw het onderskeidelik vir 30 en 20 jaar diens in Graan SA langdienstoekennings ontvang. Om so ’n lang tydperk vir ’n maatskappy te werk is nie net ’n groot prestasie vir die personeellede nie, maar onderskryf ook wat die Raadslede in hulle toesprake oor die organisasie gesê het: Graan SA is ’n orga­nisasie met integriteit en inbors; ’n instansie waarop enigeen wat daarmee geassosieer word, trots kan wees.