DIE WISSELKOERS: Wat kan gebeur en hoekom maak dit saak?

Gepubliseer: 11 November 2024

161
Heleen Viljoen,
landbou-ekonoom,
Graan SA,
heleen@grainsa.co.za

11/10/2024

In Suid-Afrika is die rand/dollar-wisselkoers ’n uiters belang­rike ekonomiese aanwyser vir verskeie bedrywe en markte. Nie net het die wisselkoers ’n effek op Suid-Afrika se makro-eko­nomiese omgewing nie, maar ook op die landbousektor. Wanneer die wisselkoers verswak, word mededingendheid in uitvoer negatief beïnvloed, produkte word duurder ingevoer en binnelandse pryse raak wisselvallig.

Die wisselkoers as makro-ekonomiese aanwyser is van belang vir verskeie redes:

  • Die wisselkoers affekteer die prys waarteen invoere en uitvoere kan plaasvind.
  • Dit beïnvloed inflasie omdat goedere goedkoper of duurder ingevoer kan word.
  • Wisselkoerse se stabiliteit beïnvloed direkte buitelandse beleggings.
  • Die wisselkoers het ’n beduidende effek op ekonomiese groei, monetêre beleid en globale ekonomiese verhoudings.

Aan die einde van 2024 het die wissel­valligheid van die rand/dollar-wisselkoers voortgeduur. In Januarie 2024 het die dollar verhandel teen R18,57 en ’n hoogtepunt in Februarie bereik toe die plaaslike geldeenheid teen R19,31/$ verhandel het. Oor die afgelope klompie seisoene het Suid-Afrika se landbou-omgewing geweldige wisselvalligheid ervaar, en die vraag kan met reg gevra word: Tot watter mate kan die wisselvalligheid van die rand/dollar-wisselkoers markte in 2025 affekteer?

Wat kan gebeur?
In die derde kwartaal van 2024 het die rand spoedig versterk teenoor die dollar (R17,09/$; 29 September) nadat Amerikaanse rentekoerse met 50 basispunte gesny is. Na dié vinnige versterking het die wisselkoers weer verswak (R17,64/$; 9 Oktober) as gevolg van ’n eskalasie in die konflik in die Midde-Ooste tesame met die versigtige toon wat deur die Amerikaanse voorsitter van die Federale Reserwe-stelsel oor toekomstige rente­koersverlagings gebruik is.

Groot finansiële instellings verwag dat die wisselkoers vroeg in 2025 met volgehoue wisselvalligheid kan verhandel. ’n Wisselkoers van R17,00/$ word gesien as ’n groot weerstandsvlak, wat uitdagend sal wees vir die rand om volhoubaar deur te breek. Die rand is hoogs wisselvallig: Investec se ergste scenario projekteer dat die wisselkoers teen die einde van 2024 tot R21,70/$ kan verswak en selfs verder verswak tot R21,90/$ teen die einde van 2025, maar die kans daarvoor is skraal.

Hoekom maak dit vir graanmarkte saak?
Die wisselkoers speel nie net ’n groot rol in plaaslike graanprysbepaling nie, maar dit affekteer ook die koste waarteen insette ingevoer word. Invoere speel ’n beduidende rol by insette, veral vir landbou-chemiese produkte, kunsmis en masjinerie. Die koste van insette – en dus om graan te produseer – speel ’n groot rol in die pryse waarteen daardie produk uiteindelik verkoop kan word.

In Suid-Afrika is daar grane wat in oormaat produseer word, maar in teenstelling ook graan waarvan daar nie genoeg geproduseer word om in plaaslike verbruik te voorsien nie. Graan wat met ’n surplus geproduseer word, moet uitgevoer word om plaaslike pryse te stabiliseer. Die wisselkoers affekteer die prys waarteen grane in- en uitgevoer kan word, wat dan plaaslike prysbepaling direk beïnvloed. Figuur 1 beeld die graanprystendens teenoor die rand/dollar-wisselkoers uit.

Grafiek 1: Graanprystendens teenoor die rand/dollar-wisselkoers.
Bron: Graan SA

Suid-Afrika het in 1936 ongeveer 425 000 ton se koring geproduseer en so­doende die plaaslike vraag van 422 000 ton bevredig. Teen die 1940/1941-seisoen is daar egter nie meer aan die plaaslike vraag vol­-doen nie en moes 81 000 ton se koring ingevoer word. Invoere het sedertdien gestyg na 1,68 miljoen ton (2023/2024), wat dié gewas veral kwesbaar maak vir wisselkoersveranderinge.

So vroeg soos 1924 het Suid-Afrika reeds mielies uitgevoer. In die 1924/1925-seisoen is ongeveer 165 000 ton se mielies uitgevoer, met ’n totale produksie van 1,2 miljoen ton vir daardie seisoen. Amper ’n eeu later, produseer Suid-Afrika ongeveer 15 miljoen ton mielies per jaar en word ’n gemiddeld van 3,6 miljoen ton uitgevoer. In teenstelling met mielies het Suid-Afrika se groot sojaboon­uitvoere eers onlangs, in die 2022/2023-seisoen, afgeskop. Voorheen, tussen 2009 en 2013, is ’n totaal van 480 000 ton sojabone uitgevoer. Mielies en sojabone word veral deur die rand/dollar-wisselkoers beïnvloed omdat dit die prys bepaal waarteen hierdie kommoditeite uitgevoer word.

Hoewel kommoditeitspryse (veral koring) ’n soortgelyke tendens as die rand/dollar-wisselkoers volg, is die wisselkoers nie die enigste faktor wat ’n impak op prysbepaling het nie. Tabel 1 beeld ’n eenvoudige uitvoer- en invoerpryssom uit.

As koring gebruik word as voorbeeld, begin die invoerprysketting by die vry-aan-boord-prys vanuit die buiteland. Tesame met skeepvragkoste word daar ’n gelande prys bepaal om die koring tot in Durban te kry. Daarna begin speel die wisselkoers sy rol om die koste van die buitelandse produk om te skakel na ons plaaslike geldeenheid. Dit is op hierdie punt waar ’n verswakte wissel­koers dit duurder maak om die produk in te voer – wat plaaslike koringpryse positief beïnvloed.

Wanneer grane – en veral grane wat in surplus geproduseer word – uitgevoer word, het ’n verswakte wisselkoers ook ‘n positiewe effek. Vir kommoditeite wat in surplus geproduseer word, is uitvoere uiters belangrik om plaaslike pryse te stabiliseer. Wanneer die wisselkoers verswak, kompeteer Suid-Afrikaanse mielies teen lande met sterker geldeenhede. ’n Verswakte wisselkoers maak dit goedkoper vir buitelanders om Suid-Afrikaanse mielies in te voer, wat die plaaslike uit­voerprogram ondersteun.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.