Graanmark meer mededingend danksy die heffing

Magda du Toit, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 5 September 2022

592

Die reg van produsente om saad van oopbestuifde gewasse terug te hou om in die volgende seisoen te plant, het mettertyd daartoe gelei dat baie van hierdie gewasse gestagneer het ten opsigte van opbrengs en dat produsente tevrede moes wees om sonder die nuutste tegnologie en kiemplasma klaar te kom.

Ses jaar gelede het die graanbedryf ’n innoverende manier gevind om kultivar- en tegnologie-ontwikkeling in oopbestuifde gewasse te befonds. Die Suid-Afrikaanse Kultivar- en Tegnologie-agentskap (SACTA) is in 2016 tot stand gebring om heffings op selfbestuiwende gewasse in te vorder en te administreer. SA Graan/Grain het met verteenwoordigers van SACTA en die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR) gaan gesels om uit te vind waar die teling-en-tegnologieheffing sy ontstaan gehad het en wat die impak op die bedryf is. Dr Lukeshni Chetty, algemene bestuurder van SANSOR, en Gert Heyns, uittredende bestuurder van SACTA, wys ook op die invloed wat die regulatoriese omgewing op die heffing en die toekoms van oopbestuifde gewasse het.

Geskiedenis van die heffing
Die Suid-Afrikaanse Wet op Planttelersregte (Wet Nr. 15 van 1976) laat produsente toe om graan vir plantdoeleindes op hulle eie plase terug te hou. Volgens SANSOR word ongeveer 80% van sojaboonaanplan­tings en ongeveer 65% van koring met terughousaad geplant. Hierdie praktyk het meegebring dat saadmaatskappye nie ’n voldoende rendement op hul belegging in navorsing en kultivarontwikkeling verdien het nie – ’n nadelige tendens vir veral die sojaboon- en koringsaadbedryf in Suid-Afrika. Die situasie se negatiewe uitwerking is gevoel in die waardeketting (veral in die olie- en veevoerbedryf) en het veroorsaak dat vernaam sojaboongraanopbrengste oor tyd gestagneer het. Nuwe biotegnologie wat reeds in lande soos die VSA, Brasilië en Argentinië gebruik is, kon nie plaaslik vrygestel word nie.

Ses jaar gelede is ’n statutêre heffing op graanlewerings ingestel vir die spesifieke doel van nuwe kultivarontwikkeling en vrystelling van biotegnologie waar van toepassing. In ’n gesamentlike bedryfs­aksie is SACTA in 2016 op die been gebring om heffings op selfbe­stuiwende gewasse in te vorder en te administreer. Aanvanklik was die heffing slegs van toepassing op koring en gars (en later hawer), maar sedert 1 Maart 2019 is die heffing op sojabone en op 1 Oktober 2021 op lupiene ook ingestel. Die Wet op die Bemarking van Landboupro­dukte (Wet Nr. 47 van 1996) maak voorsiening vir die implemente­ring van statutêre heffings en die teling-en-tegnologieheffing is met inagneming hiervan ingestel.

Doel en werking van die heffing
Die doel van dié heffing is om saadmaatskappye aanvullend vir die ontwikkeling van nuwe kultivars en die deregulering van nuwe toepaslike biotegnologie te vergoed. SACTA is nie aan enige spesifieke kommoditeite verbind nie. Die proses berus op ’n regverdige en volhoubare invordering van die heffing en is daarop gemik om innove­ring en vooruitgang in die hele waardeketting te bevorder.

Volgens dr Chetty glo SANSOR dat alle kultivars ’n gesonde balans moet handhaaf tussen opbrengs en kwaliteit en dat alle partye gelykwaardige voordeel uit die proses moet trek. “Die sisteem word deur die vrye mark gedryf en aanvraag dikteer die hele proses,” meen sy.

Heffings word volgens elke saadmaatskappy se markaandeel uitbetaal. Wanneer produsente hulle graan lewer, moet hulle ver­klaar watter kultivar van watter saadmaatskappy geplant is. “Produsente kan deur hierdie verklaring ’n waardevolle bydrae lewer,” sê Heyns.

Die teling-en-tegnologieheffing wat ingevorder word, word ná aftrekkings volgens hulle markaandeel in die sojaboonsaadmark aan saadmaatskappye uitbetaal. Die biotegnologiegedeelte van die heffing word aan die eienaar van die betrokke tegnologie betaal. Die markaandeelberekening kan gedoen word deur verskillende gewigte aan die inligting wat verskaf is, toe te ken.

Beide die koring- en sojaboonbedrywe sien hierdie goedkeuring en implementering van die heffing as ’n deurbraak en ’n positiewe stap om te verseker dat Suid-Afrikaanse produsente toegang verkry tot die nuutste kultivars en biotegnologie wat beskikbaar is. Dit stel plaaslike produsente in staat om met ander lande mee te ding.

Volgens ’n onlangse studie deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het opbrengste van sojabone per jaar oor ’n 20-jaarperiode in die VSA met 1,63%, in Brasilië met 1,56% en in Argentinië met 0,62% toegeneem. Oor dieselfde tydperk het Suid-Afrika se opbrengste met slegs 0,71% per jaar toegeneem. In hierdie periode was Suid-Afrika se sojaboonopbrengste gemiddeld 40% laer as die gemiddelde opbrengste in hierdie drie groot sojaboonproduserende lande, wat dit moeilik gemaak het vir plaaslike produsente om in die wêreldmark mee te ding.

Voordele van die heffing
Die heffingstelsel word positief deur saadmaatskappye ervaar en die afgelope tyd het dit reeds verskeie voordele vir produsente tot gevolg gehad:

  • Met die instel van die heffings het die koring- en sojaboonsaadmark meer mededingend geraak en het saadmaatskappye oor die algemeen hulle saadpryse verlaag.
  • Maatskappye het nie op hul louere gerus nie en dadelik begin met proewe om die nuutste biotegnologie in Suid-Afrika gedereguleer te kry.
  • In Augustus 2021 is die eerste nuwe biotegnologie, INTACTA Roundup Ready2 Pro®, vir algemene plaaslike produksie vryge­stel. Dit beteken dat plaaslike produsente nou toegang het tot biotegnologie wat reeds die afgelope ses jaar in die VSA en Suid-Amerika beskikbaar was.
  • Nuwe sojaboonkultivars wat hierdie biotegnologie bevat en ’n hoër opbrengspotensiaal het, is ingevoer en is tans in die no­dige proewe om die kultivars plaaslik vir produksie te registreer. Klein volumes saad kan dalk reeds tydens die 2022-plantseisoen beskikbaar wees.
  • Twee saadmaatskappye het reeds ver gevorder met plaaslike proewe om die nodige data vir die vrystelling van hulle nuwe biotegnologie te verkry en produsente kan verwag dat van hierdie produkte in 2025/2026 in die mark sal wees.
  • Buitelandse saadmaatskappye het sedert die instelling van die heffing heelwat in hulle plaaslike infrastruktuur belê om sodoende hulle nuwe genetika deeglik onder plaaslike toestande te evalueer. Baie belowende resultate is verkry en produsente kan na die nuutste kultivars met ’n aansienlik hoër opbrengspotensiaal uitsien.
  • Plaaslike teelprogramme het ook nou toegang tot meer materiaal uit internasionale teelprogramme.
  • Sedert 2018 is daar meer as 50 nuwe sojaboonkultivars geregistreer.

Dit is egter ook belangrik om weer te kyk na hoe lank dit neem om nuwe kultivars vry te stel. Volgens SANSOR neem dit ongeveer tien tot twaalf jaar om ’n nuwe kultivar te ontwikkel, te registreer en in die mark vry te stel teen ’n koste van sowat R16 miljoen. Vir maatskappye wat oor ’n goeie navorsingspyplyn beskik, is dit egter moontlik om ’n nuwe produk binne vier tot ses jaar vry te stel met behulp van ’n groot finansiële inspuiting.

“Produsente moet onthou dat telingsprogramme uiters duur is en dat dit tyd neem teen groot onkoste om so ’n program op die been te bring en ook deurentyd in stand te hou,” verduidelik dr Chetty. Heyns beaam dit en wys daarop dat produsente hierdie heffing moet beskou as ’n belegging in die toekoms en volhoubaarheid van die oopbestuifdesaadbedryf.

Reguleringsproses
In Suid-Afrika moet ’n nuwe produk – baster of variëteit – eers op die variëteitslys geplaas word voordat dit verkoop kan word. Telers moet ook die investering beskerm deur planttelersregte te verkry. “Dit neem ongeveer twee tot drie jaar minimum vir planttelers­regte en variëteitslysplasing (die twee dinge kan gelyk gebeur) om toegestaan te word,” sê dr Chetty.

Die hele reguleringsproses van nuwe kultivars en variëteite word deur die nasionale Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) hanteer. Die toetse om ’n nuwe kultivar op die va­riëteitslys te regi­streer, neem ten minste twee groeiseisoene. Eers nadat hierdie toetse uitgevoer is waarin die departement sekermaak dat ’n kultivar aan die nodige vereistes voldoen, kan dit kommersieel aan produ­sente verkoop word. Selfs kultivars wat direk ingevoer word, moet hierdie proses deurgaan voordat dit verkoop kan word. “Dit is teen die wet om saad te verkoop wat nie deur hierdie proses gegaan het nie,” sê dr Chetty.

Geentegnologie moet ook eers deur die proses gaan wat deur die GMO-wet geadministreer word. Dit neem ook tyd en geen nuwe tegnologie mag in die mark vrygestel word voordat dit nie deur hierdie proses gegaan het nie.

“Al hierdie toetse en regulatoriese regi­strasieprosesse dra by tot die geweldige koste wat maatskappye moet aangaan om nuwe produkte na die produsent se plaas te bring. Die teling-en-tegnologieheffing help saadmaatskappye om hierdie koste te dra en maak dit vir hulle moontlik om nuwe produkte en tegnologie aan die Suid-Afrikaanse produsent te bring,” beklemtoon dr Chetty.