Samewerking sterk beklemtoon tydens NAMPO-gesprekke

Theo Vorster, hoof- uitvoerende beampte, Galileo Capital
Gepubliseer: 1 Julie 2022

675

Ek is nou reeds ’n dekade lank betrokke by die Nasie in Gesprek-besprekings tydens Graan SA se NAMPO Oesdag. Hierdie gesprekke gee ’n baie goeie idee van die temas wat jaarliks vir landbouers belangrik is en bepaal dan ook sommer hul gemoedstoestand.

Teen hierdie agtergrond moet ons onthou dat NAMPO nie gedurende die COVID-grendeltydperk plaasgevind het nie en dat daar dus nie Nasie in Gesprek-besprekings in 2020 en 2021 was nie.

Wat vir my uitstaan as ek hierdie jaar se gesprekke met dié van vorige jare vergelyk, is dat die klem verskuif het van onderwerpe soos “onteiening sonder vergoeding” en “nasionalisering” na ’n fokus op oplossings en hoe die regering en landbou kan saamwerk om te verseker dat die sektor volhoubaar groei en dat voedselsekerheid ’n gegewe sal wees.

Veral in die tweede termyn van die Zuma-regering en ook in die eerste paar jaar met Ramaphosa as president, is die gesprekke gekenmerk deur ’n gevoel van “ons” teenoor “hulle” – met beide partye wat geen vertroue in die ander se agendas en motiewe gehad het nie. Die onvermoë van die regering om dienste te lewer en infrastruktuur in stand te hou, tesame met besigheid se besef dat hulle sakebelange afhanklik is van ’n funksionerende staat, het die partye genoodsaak om met mekaar hande te vat – ’n boodskap wat reg deur hierdie jaar se gesprekke na vore gekom het.

Dit is duidelik dat Suid-Afrika se grootste probleem tans die verval van logistieke infrastruktuur is, spesifiek die pad- en spoorinfrastruktuur asook die onvermoë van ons hawens om die uitvoer van landbou-, mynbou- en ander produkte te hanteer. As die hawens nie die uitvoervolumes kan hanteer nie, sal die produkte eenvoudig in die plaaslike mark verkoop moet word – en daar is nie naastenby ’n groot genoeg verbruikersvraag om hierdie volumes te absorbeer nie! Weer eens het die gesprek gedraai rondom samewer­king tussen die openbare en private sektor om oplos­sings te vind sodat Suid-Afrikaanse landbouprodukte hul weg na internasionale markte toe kan vind.

Tydens die NAMPO-week het die eerste maatskappye met bewese kapitaalondersteuning juis in gesprekke met Transnet besluit om private goedere­treine op die Transnet-infrastruktuur te bestuur – iets wat enkele jare gelede bykans ondenkbaar was!

Hoewel die waarde van die huidige somerreënvalgraanoes verreweg die grootste ooit in randterme is, veroorsaak die druk op insetkoste dat die volgende jaar met omsigtigheid hanteer moet word. Die gevoel was dat produ­sente baie versigtig moet wees om bloot aan te neem dat hoër kommoditeitspryse gaan opmaak vir die hoër insetkoste. Die risiko bestaan dat kommo­diteitspryse mettertyd kan daal en dat produsente hulself kan vasdraai tussen die hoër insetkoste en moontlike laer pryse vir kommoditeite. Uit ervaring is al geleer dat kommo­diteitspryse baie vinnig kan daal as die vraag-en-aanbod-verhou­ding eers uit balans raak, terwyl die insetkostekomponent (diesel en kunsmis) baie stadiger neem om te daal – hierdie knyptang is ’n risiko wat met sorg bestuur moet word.

’n Onderwerp wat elke jaar verder ontwikkel, is tegnologie. Vanjaar was die fokus baie meer op data en veral die data wat deurlopend deur verskillende partye – die produsent, die landboubesigheid en die toerusting – bymekaargemaak word. Die bespreking was hoe daardie verskillende bronne van data verwerk kan word tot inligting waarvolgens die produsent besluite kan neem. Die volgende groot sprong gaan wees om alle bronne van data te integreer en so te verwerk dat bruikbare inligting gegenereer word vir rasionele besluitneming. Tans praat die verskillende databronne nie met mekaar nie, met die gevolg dat die voordele van data nie behoorlik ontgin word nie.

Theo Vorster

Voormalige VSA-president Ronald Reagan, toevallig ’n baie groot ondersteuner van Amerikaanse produsente, het op ’n tyd die volgende kwytgeraak: “As jy met 80% van my standpunte saamstem, is jy my 80%-bondgenoot en nie my 20%-verraaier nie.” Hierdie is ’n vertrekpunt wat ek reken landbouers baie ernstig moet opneem. Ek praat hier spesifiek met die verskillende groeperings in georganiseerde landbou wat alewig enige konstruktiewe stappe probeer omkeer, net om goedkoop punte te probeer wen. Alle produ­sente se uiteindelike doelwit is om winsgewend en volhoubaar te boer vir die geslagte wat kom en enige aksies wat ons nader aan daardie doelwit bring, moet tog ondersteun word!

Net so praat ek van die verhoudings tussen georganiseerde landbou en die regering van die dag – ons het mekaar nodig om van Suid-Afrika ’n wenland met ’n goeie landbousektor te maak. Dalk is daar tog ’n silwer randjie in die regering se onvermoë om ’n gekompliseerde ekonomie en infrastruktuur suksesvol te bestuur – en dit lê in die besef van die regering dat die private sektor deel van die oplossing en nie die vyand is nie!