Vervaardig plaaslik en knap infrastruktuur op, maan bedryf

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 8 April 2022

844

Met die buitengewoon hoë pryse van kunsmis en die kommer oor wat dit vir die volgende produksieseisoen inhou, het Graan SA besluit om ’n paneelbespre­king oor die onderwerp by Kongres aan te bied. Die vraag wat aan die paneel gestel is, was: “Kan die kunsmiskostestruktuur vir plaaslike graanprodusente meer koste-effektief wees?”

Suid-Afrika se toenemende afhanklikheid van invoere en Foskor se onvermoë om produksiemylpale te haal, is goed deur die paneel deurgetrap.

Die bespreking is deur Corné Louw, hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste van Graan SA, gefasiliteer. Op die paneel was Johannes Louw van Sasol, Louis Strydom van Omnia, Ncumisa Mxhalisa van die Departement van Handel, Nywerheid en Mede­dinging (DHNM) en Kgampi Bapela van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK).

André Kirsten, hoofbestuurslid en voorsitter van Graan SA se Produksie/Insetwerkgroep, wat die bespreking ingelei het, het sy teleurstelling uitgespreek dat Foskor se interimhoofbestuurder, Julian Palliam, op laat kennisgewing aan die paneel onttrek het.

Volgens Kirsten word meer as 2,2 miljoen ton kunsmis jaarliks ingevoer – dit is meer as Suid-Afrika se jaarlikse verbruik. Dit is een van die redes waarom Suid-Afrika se kunsmiskoste onder die hoogste ter wêreld tel. Ten spyte van genoegsame fosfaatbronne danksy Foskor se myne in Phalaborwa, bly Suid-Afrika die vierde duurste land wanneer dit kom by fosfaat en die tweede duurste wat stik­stofbronne aan betref.

Corné Louw, Johannes Louw, Ncumisa Mxhalisa, Kgampi Bapela, Louis Strydom en André Kirsten gesels by Kongres oor die kunsmiskostestruktuur in Suid-Afrika.

Fosfaatvoorrade
Kongresgangers het gehoor dat Foskor 2,6 miljoen ton fosfaatrots ’n jaar kan ontgin en dat die fosforsuurkapasiteit 690 000 ton is. Suid-Afrika het verlede jaar 300 000 ton MAP ingevoer ten spyte van die feit dat Foskor die kapasiteit het om 400 000 ton MAP te vervaardig. Hulle kon egter verlede jaar net 195 000 ton vervaardig. Pro­bleme met infrastruktuur soos spoorvervoer en gebreke by die hawe in Richardsbaai speel ’n groot rol hierin. (Lees gerus die artikel “Can Foskor produce a turnaround?” op bladsy 74 vir Foskor se verduideliking oor produksiestruikelblokke.)

Suid-Afrika se afhanklikheid van ingevoerde kunsmis is ’n groot risiko vir die volhoubaarheid en winsgewendheid van landbou en die hele waardeketting. Volgens Corné Louw word landbou in Suid-Afrika gewoonlik gekenmerk deur sy robuuste insetmark, maar vir die eerste keer begin daar nou gepraat word van insetsekerheid. “Dit is belangrik dat Suid-Afrika meer selfvoorsienend raak, veral wat die bronne betref wat geredelik beskikbaar is, soos fosfaat en stikstof. Dit sal die kunsmiskostestruktuur meer koste-effektief maak.”

Stikstofvoorrade
Volgens Johannes Louw is Sasol hoofsaaklik betrokke in die stik­stofwaardeketting wat kunsmis betref. Hy het gesê dat ten spyte van die feit die maatskappy teen volle kapasiteit produseer, daar steeds ’n groeiende tekort in die land is. Sasol vervaardig tans 600 000 ton ammoniak per jaar, maar steeds word sowat 200 000 ton ingevoer om in die behoefte te voorsien. Die ammoniak word verwerk tot ammoniumnitrate, wat dan gebruik word vir kunsmis asook vir mynplofstof.

As gevolg van klimaatsrisiko’s het Sasol onderneem om kweekhuisgasse teen 2030 met 30% te sny. Sasol se mikpunt is om in die toekoms “groen” produkte soos “groen ammoniak” te vervaardig deur gebruik te maak van hernubare energie en “groen waterstof”. Hoe vinnig dit gaan gebeur en of dit kommersieel uitgerol kan word, is nog nie duidelik nie. Hy het egter gesê dat daar na sy mening nie ’n beter toekoms vir die kunsmisbedryf as “groen” produkte is nie. “Dit is iets om na uit te sien en ’n manier om selfvoorsienend te raak, maar daar is nog ’n lang pad om te stap.”

Infrastruktuur
Die kapasiteit van Suid-Afrika se hawens om produkte in te voer kom onder skoot as ’n mens in gedagte hou dat daar 750 000 ton kunsmis ingevoer is in 2009 vergeleke met die 2,3 miljoen ton in 2021. Invoere het dus verdriedubbel in twaalf jaar, het Louis Strydom, bemarkings­direkteur by Omnia gesê. “Daar was egter min ontwikkeling wat aflaai- en bergingskapasiteit by hawens betref. Logistieke koste en veral die petrolprys plaas verdere druk op die bedryf,” meen hy.

“Ons grootste geleentheid is om spoorvervoer weer op dreef te kry: Ons moet kompeteer teen die res van die wêreld waar vervoer per spoor geskied. Dan is dit ook belangrik dat ons soveel as moontlik plaaslik produseer. Suid-Afrika het die rykste fosfaatbronne in die wêreld en die geleenthede wat dit bied, moet meer effektief aangewend word,” het Strydom bygevoeg.

Meesterplanne
Ncumisa Mxhalisa van die DHNM het tydens die bespreking gesê die regering is bewus van die risiko’s wat hoë insetkoste vir produ­sente inhou en werk daarom saam met Graan SA om industriële intervensies daar te stel. “Daar word tans aan verskeie meesterplanne gewerk, soos die landbou-en agriprosesseringsmeesterplan en die chemikalieëmeesterplan.

Volgens Mxhalisa is die meesterplanne belangrik om samewer­king tussen die bedryf, produsente en die regering te bewerkstellig sodat produsente winsgewend en volhoubaar kan boer. Sy het verder gesê dat daar aandag gegee moet word aan infrastruktuur soos paaie, spoorweë en hawens om seker te maak dat die koste om kunsmis op plase te kry so laag as moontlik gehou word.