
SA Graan/Grain
redaksiespan
Ná ’n loopbaan van meer as 40 jaar in die saadbedryf, het John Odendaal, besigheidsbestuurder van Pannar Saad, amptelik die tuig in April vanjaar neergelê. Hy sal graag onthou wil word as iemand wat ’n bydrae gemaak het tot ’n suksesvolle landbousektor in Suid-Afrika.
Ervaring wys die pad vorentoe
Direk na die voltooiing van sy weermagdiensplig in 1985 het Odendaal sy pa, Chris, se voetspore na Pannar gevolg. Chris, wat destyds verkoopsdirekteur en aandeelhouer was, het in die vroeë 2000’s afgetree. Op die ouderdom van amper 90 speel hy deesdae steeds ’n ondersteunende rol in die gediversifiseerde boerdery van John se broer David.
Die feit dat John in sy aanvangsjaar by Pannar ’n kort tydperk in elke afdeling spandeer het, het ’n goeie grondslag gelê vir sy lang loopbaan in die saadbedryf. Hy het ondervinding opgedoen in omtrent elke afdeling, insluitend navorsing, verpakking, saadproduksie en uitvoere, maar het veral die verkope en bemarking van saad geniet. In dié tyd het hy as ’n alleskenner (jack of all trades) ontwikkel – iets wat handig te pas gekom het vir die tydperk toe hy algemene bestuurder van Pannar Zimbabwe geword het.

Odendaal en sy gesin was baie gelukkig in Zimbabwe, maar het na tien jaar in 2003 teruggetrek na Suid-Afrika nadat sy vrou, Lee, ernstig in ’n fratsongeluk beseer is. Terug in Suid-Afrika was sy passie vir die saadbedryf duidelik in die opgang wat hy in die maatskappyleierskap gemaak het. Hy het gevorder van verkoopsverteenwoordiger na advertensie-assistent en is ná twee jaar as advertensiebestuurder aangestel. In die daaropvolgende jare het hy verskeie bestuursposte in verkope en bemarking in die ooste van die land beklee. In sy Corteva-jare het hy as nasionale verkoopsbestuurder én later as bemarkingsbestuurder gewerk.
Odendaal is in 2023 as besigheidsbestuurder van Pannar aangestel. Hierdie aanstelling was een van die trotsste oomblikke van sy loopbaan. Pannar het sedert die oorname deur DuPont as ’n onafhanklike Suid-Afrikaanse saadhandelsmerk bly funksioneer, maar is sedertdien deel van die wêreldwye moedermaatskappy, Corteva Agriscience.
Buiten vir dié aanstelling is die tien jaar wat hulle in Zimbabwe spandeer het, ’n besliste hoogtepunt in sy lewe. “Ek is lief vir daardie land en het baie geleer in die tyd wat ek die onafhanklike besigheid daar moes bestuur.”
Nog iets wat vir hom uitstaan, was toe hy vroeër vanjaar – op die drumpel van sy aftrede – genooi is na ’n sessie waar terugvoer gegee is oor dieptemarknavorsing oor die Pannar-handelsmerk.
Dit het onder meer gehandel oor van die unieke bemarkingsveldtogte, soos die jaarlikse Pannar Ekstravaganza en Bonanza – iets waaraan hy vir jare gewerk het. Hy was nooit daarvan bewus dat so ’n opname gedoen is nie en was aangenaam verras met die uiters positiewe terugvoer wat die handelsmerk en inisiatiewe vanaf produsente ontvang het. “Dit is ’n wonderlike voorreg om af te tree op só ’n hoogtepunt en bevestiging te kry dat dit waarvoor jy gewerk het, vrugte afgewerp het,” deel hy trots.
As verteenwoordiger vir Pannar Saad was Odendaal vir agt jaar op die direksie van die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR). Hy het as voorsitter gedien van die Agronomie-afdelingskomitee en daarna van SANSOR self. Die SANSOR-kongresse was jaarliks ’n gebeurtenis in sy dagboek waarna hy besonder baie uitgesien het. Hier kon die saadbedryf bande bou en het Odendaal ook goeie verhoudings met van sy “kompetisie” in die saadmark gevorm; ’n unieke ervaring wat selde in ander bedrywe aangetref word. “Daar heers ’n gesonde, positiewe kompetisiegees in die saadbedryf tussen mense wat goed oor die weg kom. My pa het juis altyd gesê dat mense binne die saadbedryf ’n unieke kultuur het.”
Odendaal skryf sy suksesvolle loopbaan toe aan sy lojaliteit teenoor die maatskappy, kliënte en die landbousektor. Hy beplan om in die toekoms steeds ’n bydrae in landbou te lewer deur aan die gemeenskap terug te gee. Een van sy planne is om dalk nog voor die einde van die jaar weg te spring met ’n podsendingreeks wat op die saaibedryf (saad en tegnologie) fokus.

Meer oor die mens agter die “Pannar-man”
Odendaal is ’n gebore en getoë Nataller – gebore in Newcastle in die noorde van KwaZulu-Natal en grootgeword in die Natalse middellande in die Greytown-omgewing waar sy pa ’n plaas besit het. Hy glo dat dit sy belangstelling in die landbou geprikkel het. Ná die voltooiing van sy hoërskoolloopbaan het hy BAgric by die Universiteit van Natal, soos dit in daardie jare bekend gestaan het, se Pietermaritzburg-kampus gestudeer.
Buiten vir sy pa is sy mentors vorige bestuurders soos Douw Steyn en meer onlangs Abraham Vermeulen (Corteva se kommersiële direkteur: Midde-Ooste) wat altyd vir hom ’n voorbeeld van integriteit, professionaliteit en toegewydheid was.
Vir Odendaal is positiwiteit een van die waardevolste vaardighede om die lewe se uitdagings te trotseer. “Die lewe stel jou soms voor onverwagte uitdagings. Jy kan nie verander wat met jou gebeur nie, maar hoe jy dit hanteer is belangrik. Ons is immers baas van ons eie toekoms.” Hy het dít eerstehands geleer tydens die versorging van die huishouding en kinders na sy vrou se ongeluk. Hy het in daardie tyd probeer om nie op die uitdagings te fokus nie, maar eerder op die uitkoms. Dié moeilike pad het ’n positiewe ingesteldheid in hom gekweek.
’n Toegewyde leier groet die saadbedryf
Odendaal se leierskap het beslis ’n sleutelrol gespeel in Pannar Saad se groei en ontwikkeling deur ’n tydperk van beduidende veranderinge in Suid-Afrika se saaibedryf. Hy was daar van die bekendstelling van nuwe basters en genetika in verskeie gewasse, tegnologieë en nuwe gevorderde teeltegnieke tot die versterking van die maatskappy se produkportefeulje en markposisie.
Hy sal dit beslis mis om deel te wees van dié dinamiese span. Al was hy nie direk betrokke by die ontwikkeling van nuwe tegnologieë en GMO’s nie, was hy deel van die span wat daarvoor gesorg het. “Ek het alles ervaar en deel uitgemaak van die uitrol van die prosesse deur die nuwe tegnieke en bestuurspraktyke aan produsente bekend te stel,” vertel hy.
Op ’n vraag hoe die landbou-omgewing verander het tydens sy jare in die bedryf, antwoord hy: “Baie – amper alles het verander.” Odendaal glo dat dit vir produsente jare gelede waarskynlik minder uitdagend was om byvoorbeeld finansiering te bekom en dat veranderings soos die vrye mark, wisselvallige kommoditeitspryse en wisselkoers asook klimaatsveranderings bygedra het tot groter finansiële druk. Dit het oor die jare gelei tot ’n vermindering in die getal kommersiële produsente wat steeds aktief plant.
Ander veranderinge wat hy in sy tyd gesien het wat ’n positiewe invloed op die saaibedryf gehad het, is die impak van tegnologie en presisieboerdery, byvoorbeeld iets soos onkruid- en plaagbeheer. “Die manier van boer het vir die land se kommersiële produsente verander. Mieliebasters, genetika en nuwe teeltegnieke het bygedra tot ’n verhoogde gemiddelde opbrengs. Jare gelede was die gemiddelde opbrengs ongeveer 2 t/ha, waar dit vandag oor 6 t/ha is.”
Maar dis nie net saad wat die rede hiervoor was nie. Vernuwing van die tegnologie in meganisasie en presisieboerdery het ’n groot rol gespeel, al is dit iets wat die jonger generasie produsente dalk makliker in die boerdery omarm. Natuurlik moet produsente se kundigheid ook nie onderskat word nie. Odendaal is opgewonde oor die toekoms van die saadbedryf met ’n pyplyn van nuwe eienskappe, genetika en teeltegnieke op die horison waarna produsente kan uitsien.
In Pannar se huldeblyk aan Odendaal is hy vir die afgelope 40 jaar se visie en onwrikbare toewyding aan die maatskappy en Suid-Afrikaanse landbou bedank. Hy is geloof vir die feit dat hy meer as net ’n sterk, waardegedrewe fondament agterlaat, maar ’n nalatenskap van mentorskap, innovasie en ’n blywende impak op almal wat die voorreg gehad het om saam met hom te werk.
Dit was vir hom ’n prioriteit om die maatskappy se kernwaardes uit te leef – eerlikheid, integriteit en professionaliteit. Omdat verhoudings vir hom uiters belangrik is, het hy ook altyd daarna gestreef om produsente met betroubare advies en praktiese ondersteuning by te staan.
Hy hoop dat Suid-Afrika die vangnet vir voedselsekerheid in Suidelike Afrika sal bly, met ontwikkelende produsente wat sal aanhou groei en nog meer suksesvol sal produseer. Sy wens is ook dat hy in sy leeftyd sal ervaar dat die staat meer ondersteuning aan die landbousektor bied.
Odendaal se droom vir Suid-Afrikaanse landbou in geheel is dat produsente sal bly voortbestaan en vooruitgaan, ten spyte van al die uitdagings wat hulle moet trotseer – van die wisselvalligheid van die klimaat tot by die prysskommelings van insetkoste – want “Suid-Afrika het die beste boere in die wêreld”.

















