Van ’n neutkraker tot ’n rotgeweer en Ouma se naaldwerkkassie wat jou papnat spuit – dit is maar enkele van die vindingryke planne wat vir die Boereplanne-kompetisie by die NAMPO Oesdag ingeskryf is. Daar was vanjaar 31 inskrywings van twaalf deelnemers.
Pa en dogter Bertus en Nicolene Goosen van Matlakeng in Botswana het vanjaar saam vir meer as die helfte van die inskrywings gesorg. Die Goosens is ou bekendes by die Boereplanne-kompetisie en hul inskrywings het weer nie teleurgestel nie.
By die prysuitdelingsgeleentheid het Richard Krige, voorsitter van Graan SA, gesê dit is ’n voorreg om by hierdie kompetisie betrokke te wees. Hy het die wenners gelukgewens en deelnemers vir hul inskrywings bedank. Op sy beurt het Louis Strydom, bemarkingsdirekteur van Omnia, die deelnemers bedank vir die moeite wat hulle met hul inskrywings gedoen het. Vanjaar se beoordelingspan het bestaan uit Chris Schoonwinkel, Tom van Rooyen, Andries Theron en Willie Marais.
Wenners
Kategorie A – Masjinerie, implemente en landboutoerusting (nuut)
1 André en Daleen Dippenaar – Spaarbandpomp
2 Riaan Claasen – Laagspanning-heining
3 Michris Janse van Rensburg – Grasplanter
4 Bertus van der Linde – Boorgatslot-en-grendel
Kategorie B – Masjinerie, implemente en landboutoerusting (gemodifiseerd)
1 Petrus Taljaard – Kalfkanteltafel
2 Bertus Goosen – Tussenpaal-valkerf (dropper notch)
3 Jedri Janse van Rensburg – Outomatiese skaap- of beesspuit
Kategorie C – Alle gereedskap, elektries en nie-elektries
1 Willem van den Berg – Rotgeweer
2 Bertus Goosen – Extension strong
3 Bertus Goosen – Kompakteerder
Kategorie D – Huis en tuin
1 Nicolene Goosen – Neutkraker
2 Bertus Goosen – 3-in-1-houtwerktoestel
3 Nicolene Goosen – Mikrosprinkelaar
Kategorie E – Ope afdeling
1 Nicolene Goosen – Wielopligtoestel (wheel lift)
2 Nicolene Goosen – Siekbed vir kleinvee
3 Bertus Goosen – Mikrosproeier-paalplanter
Kategorie F – Skole en tersiêre instansies
1 Jedri Janse van Rensburg – Vakuum-saaduitmeter
Kategorie G – Kommersiële afdeling
1 Jan van Sandwyk – Boorgatsluittoestel (bore secure)
Spesiale pryse
Michris Janse van Rensburg – Voertuigsaniteringstoestel (bek-en-klouprotokol)
Werner Dreyer – Skrumtoestel






















