Toekomstige produsente leer slim boer

Gepubliseer: 9 Junie 2026

30
Valerie Cilliers,
SA Graan/Grain-medewerker

Daar is verlede jaar in SA Graan/Grain verslag gedoen oor Reitz Landbou Akademie en die innoverende opleidingsprogram wat leerders van graad 8 tot 12 op ’n loopbaan in landbou voorberei. Sedertdien het die akademie nie stilgesit nie. Twee splinternuwe kortkursusreekse in bewaringslandbou en presisielandbou is amptelik op die been gebring en die eerste groep studente het reeds met aanlyn modules begin.

’n Kurrikulum wat gegrond is op bedryfsteun
Die ontwikkeling van enige kwaliteitkursus vra tyd, kundigheid en geld, en dit is presies hier waar die bedryf ingespring het. Die Sasol-landboutrust het befondsing bewillig wat dit vir die akademie moontlik gemaak het om die aanvanklike kurrikulum op die been te bring.

“Sonder hierdie aanvanklike steun sou die projek nie van die grond af gekom het nie. Die Sasol-landboutrust se bydrae het verseker dat die kurrikulum behoorlik nagevors, geskryf en vir aanlyn aflewering ontwerp kon word. Ons is opreg dankbaar teenoor Graan SA en die trust,” sê Sumaré Müller, koördineerder van die kort kursusse by die Reitz Landbou Akademie. “Hulle het in ’n idee belê voordat dit ’n produk was, en daardie vertroue maak ’n reuseverskil.”

Studente kry ’n praktiese les by die planter. Korrekte kalibrering en saadplasing is die fondament van ’n suksesvolle oes.

Vennootskap met Peritum Agri Institute
Die akademie het hande gevat met Peritum Agri Institute, ’n gevestigde landbou-opleidingsinstansie in Bloemfontein met jare se ervaring in beroepsgerigte landbou-onderrig en -akkreditasie.

Hierdie samewerking met Peritum verseker dat die kurrikulum aan erkende standaarde voldoen, dat die aanlyn aflewering professioneel hanteer word en dat studente ’n opleidingservaring kry wat in die praktyk en in die mark gerespekteer word.

Vir die bewaringslandboukursus dien Asset Research as ’n verdere kennisvennoot wat tegniese inhoud raken­de landbou-ekostelsels, biodiversiteit en grondgesondheid help vorm. Dit is ’n area waarop daar wêreldwyd nuwe klem geplaas word.

Praktiese ervaring begin by die grond self. Reitz Landbou Akademie-studente ondersoek die ontkieming en grondtoestand op die land.Praktiese ervaring begin by die grond self. Reitz Landbou Akademie-studente ondersoek die ontkieming en grondtoestand op die land.

Bewaringslandbou-kortkursusreeks
Die bewaringslandboukursus bestaan uit vier aanlyn modules én ’n praktiese ervaringsweek op Reitz.

  • Module 1: Inleiding tot Bewaringslandbou. Die grond­liggende beginsels en hoe dit van konvensionele praktyke verskil.
  • Module 2: Landbou-ekostelsels, biodiversiteit, grond­gesondheid en klimaatsverandering, insluitend moniteringstegnieke en risiko’s vir Suid-Afrikaanse biome.
  • Module 3: Bewaringslandboupraktyke met fokus op gewasrotasie, dekgewasse, integrasie van gewasse en vee, plaagbeheer en watergebruik.
  • Module 4: Integrasie en besigheidsbestuur van presisieboerdery. Bewaringslandbou as ’n finansieel lewensvatbare model.

Vir die praktiese ervaringsweek in Reitz is daar twee opsies beskikbaar: een mét koshuisverblyf en een daarsonder. Studente kry hier blootstelling aan werklike plaas­toestande, toerusting en bestuurspraktyke.

’n Student kry sweisklasse onder kundige toesig.

Presisielandbou-kortkursusreeks 2026
Hierdie kursus met vier aanlyn modules is spesifiek ontwerp vir produsente wat tegnologie wil benut om opbrengs en doeltreffendheid te verhoog sonder om in die slaggate van ondeurdagte beleggings te trap.

  • Module 1: Inleiding tot presisieboerdery.
  • Module 2: Presisie-veeboerdery. Tegnologie vir dieregesondheid, welstand, genomika en rekordhouding.
  • Module 3: Presisie-gewasproduksie. Intelligente toestelle, implemente en afstandwaarneming vir data-insameling, -analise en -toepassing op die plaas.
  • Module 4: Presisieboerdery, integrasie en besigheidsbestuur. Sakeplanontwikkeling, rekordhouding, koste-optimalisering en omgewingsimpakevaluering.

Meer inligting word binnekort vrygestel oor die ervaringsweek wat by hierdie kursus aansluit.

’n Les in weidingsbestuur, kuddegesondheid en die kuns om diere én grasland saam reg te bestuur.

Waarom dit saak maak
Bewaringslandbou en presisielandbou is sentraal tot die volhoubaarheid en winsgewendheid van die Suid-Afrikaanse graanbedryf. Grondgesondheid, watergebruik, klimaatsrisiko en kostedoeltreffendheid bepaal toenemend wie kan voortboer en wie nie.

Wat hierdie kursusse onderskei, is dat hulle nie net teorie aanbied nie. Die kombinasie van gestruktureerde aanlyn modules met ’n praktiese week op die plaas beteken dat studente nie net wéét wat bewarings- of presisielandbou is nie, maar dat hulle dit ook kan toepas. Dit is opleiding waarby produsente, agronome en jongmense in die bedryf landswyd baat sal vind.

Met kundige leiding leer die studente hoe om ’n kalf reg te hanteer.

’n Span agter die akademie
Soos in die geval van die hoërskoolakademie self, geniet die kortkursusreekse aktiewe steun van ’n wye groep bedryfsvennote. Naas die Sasol-landboutrust se aanvanklike kurrikulumbefondsing en Peritum Agri Institute as opleidingsvennoot, is Standard Bank, VKB, Sernick Group en John Deere ook betrokke. Asset Research dra spesifiek by tot die bewaringslandbou-inhoud.

Hierdie netwerk van vennootskappe gee aan Reitz Landbou Akademie die finansiële, tegniese en akademiese rugsteun om kwaliteitopleiding aan te bied.

Studente besoek ’n appelboord en leer hoe kommersiële pluk werk.

Kontakbesonderhede