As jy vanjaar by NAMPO Oesdag se rooi rose-tent ingeloer het, sou jy gou agtergekom het daar gebeur iets besonders. Tussen al die groot trekkers en besige stalletjies was dit ’n plek waar ’n mens kon asemhaal, lag en sommer net weer ’n bietjie mens wees.
Wat vooraf soos ’n lekker program gelyk het, het in werklikheid nog meer geword. Dit was nie net aanbiedings en opvoerings nie, maar die program het lekker lag-en-gesels-oomblikke gebied wat mense bymekaargebring het.
Vir Susan Coetzer was dit juis daardie saamwees wat uitgestaan het. Sy het aan SA Graan/Grain vertel hoe lekker dit vir haar is om met soveel verskillende vroue te kan connect. Die dames het heerlik gelag vir haar staaltjies terwyl sy hulle aangemoedig het om verby die klein irritasies in ander te kyk en te fokus op die beginsels wat regtig saak maak. “Vriende slyp mekaar, juis omdat ons verskillend is,” het sy gesê, en ’n mens kon sien hoe baie vroue hulself daarin herken.
Hannon Bothma het dit op sy eie, unieke manier gestel: NAMPO voel vir hom soos familie. “Ek het grootgeword in die Noordwes, ek ken die mense hier se voorkoms-
uitdagings,” het hy aan SA Graan/Grain gesê voor sy vertoning. Sy sessies was nie net oor skoonheid nie, maar oor hoe jy jouself sien. Met sy kenmerkende humor het hy vroue aangemoedig om daardie voorkomsirritasies wat hulle elke oggend in die spieël pla, aan te pak. “Skoonheid kom van binne – van binne botteltjies en buisies,” het hy geskerts.
En dan was daar Lizz Meiring, wat dit dalk die mooiste opgesom het terwyl sy met skoene in die hand op die grasperk voor die mediasentrum haar ervaring by NAMPO met ons gedeel het.
“Dit is my tweede jaar hier en ek is net weer verstom oor hoe groot NAMPO is, maar terselfdertyd hoe persoonlik dit steeds voel. Dit voel nie gejaag nie, dit voel nie soos ’n fabriekslyn nie,” het sy gesê. “Al is daar soveel om te sien en te doen, bly die atmosfeer warm en verwelkomend – die organisering is ongelooflik. Dit is altyd lekker om by NAMPO te wees,” het sy gesê.
Vanjaar se vroueprogram was ook vol musiek en vermaak. Kunstenaars soos Amanda Strydom en Willem Botha het gehore gelok, terwyl jonger stemme soos Tamlyn Wessels ’n meer kontemporêre element gebring het.
Produksies soos Hartsbriewe met Hannes van Wyk en Coenraad Rall het ’n ander tempo gebring wat hul gehoor in vervoering gehad het. Aan die ligter kant het Groet die Grotman 2 vir genoeg lag gesorg om die program gebalanseerd te hou.
Wat wel duidelik was, is dat die vroueprogram nie net ’n “vinnige inloer”-belewenis was nie. Mense het doelbewus daarvoor opgedaag en gebly. Dit het ’n eie gehoor, en dit groei.




















