Die Sasol-landboutrust het sedert 2012 ’n impak gehad op die graanbedryf deur verskeie projekte, navorsing en programme te finansier. Die trust het aan die einde van Februarie 2026 tot ’n einde gekom aangesien dit nie ’n immergroen trust was nie.
Kunsmismoniteringsprojek
Een van die projekte wat die grootste impak gehad het op die graanbedryf is die kunsmismoniteringsprojek. Die projek se deelnemers het bestaan uit Graan SA, Fertasa en die Departement van Landbou. Kunsmis- en kalkmonsters is deur die departement by produsente en ook by kunsmisaanlegte geneem. Dit is gedoen in die noorde van die land tydens die someraanplantingseisoen en in die Suid- en Wes-Kaap tydens die winteraanplantingseisoen.
Nadat die ontledings gedoen is, is die data deur Graan SA verwerk. Die organisasie het ook die aanlegte besoek waar ontledings nie binne die parameters geval het nie. Die probleme is met die betrokkenes bespreek en aksies is geneem om te sorg dat die mengsels meer akkuraat is. Oor tyd is daar ’n duidelike tendens dat die afwykings al hoe minder word.

Stikstofbemesting in die Wes-Kaap
Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het verskeie projekte aangepak waarby die trust betrokke was. Die belangrikste hiervan was navorsing oor die gebruik van stikstof in bewaringsboerdery en die daarstel van riglyne oor die gebruik van stikstof by koring en kanola in die bewaringsboerdery-omgewing.
Landbou-ontwikkeling
Graan SA se ontwikkelingsprogram vir kleinboere, wat nou onder Phahama Grain Phakama val, is ook jaarliks deur die trust ondersteun. Hierdie projek is een van die enkele ontwikkelingsprogramme wat enigsins suksesvol is. Verskillende landboumaatskappye ondersteun die projek en insette word voortdurend van hulle verkry. Na ’n paar jaar is die boere op ’n plek waar hulle geld kan leen by ’n bank met die hulp van Graan SA en dit weer terugbetaal aan die kredietverskaffer. Hulle word dus bygestaan op die pad om kommersiële produsente te word.
Sclerotinia
Sclerotinia-navorsing het baie baat gevind by die trust. Beurse is toegeken aan studente wat hulle toegespits het op die siekte en wat besig was met hulle M- of PhD-grade. Die trust het Sclerotinia-projekte ondersteun en bygedra tot die vestiging van die Sclerotinia-navorsingslessenaar (konsortium) by die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein.
Reitz Landbou Akademie
Reitz Hoërskool het begin om landbouvakke aan te bied en die Sasol-landboutrust het hulle ondersteun met die skryf van ’n kurrikulum vir landbou. Die Reitz Landbou Akademie is nou al ’n klompie jare aan die gang.
DIFM-projek
Die DIFM-navorsingsprojek (Data Intensive Farm Management) is ook ondersteun. Die rolspelers is die Universiteit van Illinois, die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), Graan SA, die Proteïennavorsingstigting en produsente in Suid-Afrika. Die projek is daarop toegespits om die hoogste effektiewe wins te behaal met die veranderde kunsmishoeveelhede en saadstande.
Belê in mense
Internskappe is ook deur die trust aangebied om kapasiteitsuitbreiding in die graanbedryf te bewerkstellig. Organisasies wat voordeel hieruit getrek het, sluit in Graan SA, AgriSA en BFAP. Die internskappe is gebied aan jongmense wat pas hul graad ontvang het. Dit was uiters suksesvol, omdat hulle hul horisonne kon verbreed en later meer aan die bedryf kon bied.
Die Sasol-landboutrust het vele ander projekte ook ondersteun, maar dié wat hier genoem word, het moontlik die grootste impak gehad.
















