In ’n tyd waar landbou toenemend onder druk funksioneer – van klimaatsverandering en stygende insetkoste tot mark- en beleidsonsekerheid – verskuif die fokus in 2026 na een kernbeginsel: veerkragtigheid.
Hierdie jaar se NAMPO Oesdag, wat van 12 tot 15 Mei op NAMPO Park buite Bothaville plaasvind, bring dié fokus tot lewe met die tema “Veerkragtigheid deur innovasie”. As die grootste landbouskou in die Suidelike Halfrond bly NAMPO die belangrikste ontmoetingspunt vir produsente, landboubesighede en die breër waardeketting – ’n platform waar tegnologie, kennis en praktiese oplossings bymekaarkom.
“NAMPO Oesdag bly die belangrikste ontmoetingspunt vir landbou in Suid-Afrika – veral in ’n tyd waar produsente onder toenemende druk funksioneer. Veerkragtigheid gaan nie meer net oor oorlewing nie, maar oor die vermoë om aan te pas, beter besluite te neem en volhoubaar winsgewend te bly. NAMPO bring die oplossings, tegnologie en gesprekke bymekaar wat produsente nodig het om hierdie uitdagings met vertroue aan te pak,” sê dr Dirk Strydom, besturende direkteur, Nampo (Pty) Ltd.

“Veerkragtigheid deur innovasie” verwoord presies waar landbou in 2026 staan. Produsente boer in ’n omgewing van toenemende druk – van klimaatsrisiko en insetkoste, peste en plae tot mark- en beleidsonsekerheid. Veerkragtigheid beteken vandag meer as om bloot hierdie uitdagings te oorleef; dit beteken om aan te pas, doeltreffendheid te verbeter, risiko beter te bestuur en winsgewendheid deur praktiese innovasie te beskerm. Dit is wat hierdie tema so relevant vir NAMPO maak. As platform bring NAMPO die landbouwaardeketting op een plek bymekaar om tegnologie ten toon te stel, kennis te deel en produsente met idees en oplossings te verbind wat landbou vir die toekoms kan versterk.
NAMPO 2026 weerspieël die werklikhede van moderne boerdery, naamlik kleiner marges, groter risiko’s en ’n groeiende behoefte om slimmer en meer presies te boer. Veerkragtigheid hang toenemend af van die vermoë om aan te pas en vorentoe te beweeg, met innovasie as dryfveer – van presisietegnologie en gevorderde meganisasie tot verbeterde genetika, navorsing en datagedrewe besluitneming. NAMPO skep die ruimte waar hierdie oplossings tasbaar word en waar produsente eerstehands kan ervaar wat die toekoms van landbou moontlik maak.
Nuut by NAMPO 2026
NAMPO 2026 bou voort op sy gevestigde reputasie, maar bring terselfdertyd nuwe energie en ontwikkeling na die terrein. Besoekers kan uitsien na nuwe produkbekendstellings, insluitend voertuie (tesame met ’n poging om ’n wêreldrekord te verbeter) en verskeie nuwe trekkers, terwyl tegnologie ’n sterk fokus bly met beplande demonstrasies van spuithommeltuie en ander praktiese oplossings.
Die terrein self groei verder met nuwe geboue, addisionele standplase aan die noordekant en ’n groter verskeidenheid uitstallers, insluitend internasionale deelname deur ’n Chinese en Italiaanse paviljoen. ’n Nuwe ontspanningsarea met verversings, saam met die Six Gun Grill Country Hall, skep verdere geleentheid vir besoekers om te ontspan en die NAMPO-ervaring ten volle te geniet.
Die Santam Landbou-vroueprogram, in samewerking met rooi rose, bly een van die hoogtepunte van NAMPO en vind weer plaas in die gewilde rooi rose-tent. Die program beloof ’n dinamiese mengsel van inspirasie en vermaak met kunstenaars, produkte en persoonlikhede soos Hannon, Willem Botha, Amanda Strydom, Carmién Tea, Reandi Grey, Lizz Meiring, Susan Coetzer, John Rock Prophet en Hannes van Wyk.
Praktiese verbeterings sluit ook die beskikbaarheid van vliegtuigbrandstof op NAMPO Park in asook ’n uitbreiding van die pendeldiens met bykomende waentjies om beweging oor die terrein verder te vergemaklik.

Ou gunstelinge en ervarings
Benewens nuwe ontwikkelings bly die kern van NAMPO se sukses die bekende elemente waarna besoekers jaar na jaar terugkeer. Die gewilde Standard Bank-4×4-baan en Avontuur-4×4-baan bied steeds aksiebelaaide demonstrasies, terwyl die saadplotte aan die oostekant waardevolle insig bied in die nuutste genetika en gewasopsies.
Die Nasie in Gesprek-reeks bring weer hoëvlakgesprekke oor plaaslike en internasionale landboutemas. In die lig van die onlangse uitbrekings van bek-en-klouseer en die besluit dat geen gespletehoef-diere vanjaar by NAMPO 2026 toegelaat sal word nie, sal die TAU Rollermeule-vee-area ’n aangepaste en innoverende ervaring bied. Nierisiko-diere, soos perde, honde en pluimvee, sal steeds teenwoordig wees onder streng biosekuriteitsmaatreëls.
Telersgenootskappe doen groot moeite om die waarde van hul rasse deur kreatiewe uitstallings uit te beeld, en besoekers kan uitsien na ’n nuwe ervaring wat verder strek as slegs die fisiese dier. Kom leer meer oor die wetenskap en prestasie van lewende hawe – nie net die voorkoms van die dier nie. Benewens kreatiewe uitstallings deur telersgenootskappe, kan besoekers uitsien na ’n sterkman-kompetisie, saam met verskeie ander verrassings wat beplan word om die arena steeds ’n dinamiese trekpleister te maak. Die Graan SA-museum, met trots geborg deur Santam, bied besoekers die geleentheid om die ryk geskiedenis van Graan SA en NAMPO te beleef. Geleë langs die voorsitter se onthaalarea aan die westekant van die terrein, vertel die museum die verhaal van die organisasie se ontwikkeling en die groei van NAMPO oor die jare – ’n betekenisvolle herinnering aan die wortels van Suid-Afrikaanse graanproduksie.
’n Slimmer en meer toeganklike ervaring
Die NAMPO 2026-app speel ’n sleutelrol om besoekers se ervaring te verbeter. Met toegang tot meer as 900 uitstallers, verbeterde navigasie en interaktiewe funksies kan besoekers hul roetes vooraf beplan, uitstallings maklik opspoor en die terrein in detail verken. Dié toepassing bring alle noodsaaklike inligting, van programme tot video-inhoud, saam op een platform.
Beweging op die terrein bly eenvoudig en doeltreffend. OFM saai weer regstreeks uit vanaf NAMPO Park en deel belangrike verkeers- en roete-opdaterings. Die gewilde Mieliehop-pendeldiens verbind Bothaville en NAMPO Park daagliks, terwyl addisionele roetes vanaf OR Tambo en omliggende dorpe toegang verder vergemaklik.
Daar is ook opnuut ondersoek gedoen rakende die vloei van verkeer en aanpassings is gemaak om die toegang tot NAMPO Park te vergemaklik. In teenstelling met vorige jare is die waarskynlikheid groot dat die grondtoegangroetes weer in werking sal wees tydens NAMPO, wat verkeer sal vergemaklik.
Vir lugreisigers bied Century Avionics weer ’n lughawesitkamer met ’n pendeldiens na die terrein. Binne NAMPO Park vervoer trekker-en-waentjies besoekers tussen uitstallings, en addisionele bushaltes is bygevoeg om toegang tot alle areas van die terrein te verbeter.
Verblyf en kos
Om in die groeiende vraag na akkommodasie te voldoen, bly die karavaanpark suid van Hek 2 ’n gewilde opsie met 100 staanplekke met krag en twee ablusieblokke. Dit bied ’n gerieflike oplossing vir besoekers wat naby die aksie wil bly. Die koservaring by NAMPO word verder versterk deur die terugkeer van die Syngenta Boerekos Plaaskombuis, wat weer topgehaltedisse in ’n ontspanne plaasstylomgewing bied. Saam met NAMPO se tradisionele kosstalletjies, wat deur plattelandse, niewinsgewende organisasies aangebied word, skep dit ’n diverse en eg Suid-Afrikaanse kulinêre ervaring.
Kaartjies en besoekersinligting
Kaartjies vir NAMPO 2026 is sedert vroeg April beskikbaar via OpenTickets (www.opentickets.co.za), met afslag vir aanlyn aankope. Hekke open daagliks om 07:00 en sluit om 17:00. Volledige rigtingaanwysings, parkering en inligting oor die privaat landingstrook is beskikbaar op die NAMPO-webwerf en via die NAMPO-app.
Besoekers word herinner dat troeteldiere, fietse, selfaangedrewe karre en motorfietse nie op die terrein toegelaat word nie, en dat die beskikbare pendel- en vervoeropsies die maklikste manier is om die terrein te verken.
NAMPO Oesdag bly die belangrikste ontmoetingspunt vir landbou in Suid-Afrika – ’n plek waar idees, innovasie en mense bymekaarkom. In ’n tyd waar produsente onder toenemende druk funksioneer, bied NAMPO 2026 nie net inspirasie nie, maar praktiese oplossings wat help om landbou meer veerkragtig, meer doeltreffend en meer winsgewend te maak.
Vir meer inligting, besoek www.nampo.co.za of laai die NAMPO-app van jou gunsteling- aanlyn winkel af.

















