Moet nooit ophou vrae vra en leer nie

Gepubliseer: 12 Desember 2025

912

Vyf geslagte se kennis en ervaring vorm die hoeksteen van Greyling van Niekerk van Makwassie se boerdery-onderneming.

Die oorspronklike akte van die plaas wat in die laat 1800’s aan sy ooroupagrootjie oorhandig is, dien as herinnering dat harde werk en toegewydheid die sleutel tot sukses is. As vyfde generasie op die plaas dien dit as aansporing om só te boer dat sy seuntjie wat nou nog klein is, eendag ook met trots na hom sal verwys as iemand wat visie gehad het en omgegee het vir die grond.

Van Niekerk boer op die plaas Greylingsrus. Sedert sy pa se dood sewe jaar gelede, staan hy op sy eie voete in die boerdery. Hoewel hy op die plaas grootgeword en saam met sy pa in die boerdery betrokke was, was dit steeds ’n groot aanpassing om dinge alleen te hanteer.

“Dit is nie elke dag maklik nie. Soos wat ek sekere dinge doen, hoor ek sy stem en die raad wat hy sou gee in my kop. Wanneer ek oor iets twyfel, onthou ek wat hy altyd gesê het. Deur die kennis wat hy oor jare aan my oorgedra het, tree hy nog steeds op ’n indirekte manier as my mentor op.”

Dit was die eerste keer dat Greyling van Niekerk van Makwassie aan die Groei vir Goud- nasionale opbrengskompetisie deelgeneem het. Hy het die eerste plek behaal in die afdeling vir sojaboonverbouing op watertafelgrond met die Agricol Don Mario-variëteit DM 6,8i RR.
In die eerste seisoen wat hy DM 6,8i RR geplant het, het hy ’n eerste plek behaal.

Sedert hy op sy eie boer, het hy nie veel groot veranderinge aangebring nie. Hy het egter baie van die trekkers vervang. “Ek het van die ouer trekkers verkoop en nuwer modelle aangeskaf wat met beter tegnologie toegerus is. Die trekkers en tegnologie help dat ek meer dinge betyds gedoen kan kry.”

Dit was die eerste keer dat hy aan die Groei vir Goud- nasionale opbrengskompetisie deelgeneem het. Hy het die eerste plek behaal in die afdeling vir sojaboonverbouing op watertafelgrond met die Agricol Don Mario-variëteit DM 6,8i RR.

Hy het vir die eerste jaar 300 ha van dié variëteit aangeplant, en reeds vroeg in die seisoen gesien dit lyk goed in die kommersiële toetsblok wat hy geplant het. Dié blok het nie teleurgestel nie en die wenopbrengs van 6,06 t/ha was 800 kg/ha meer as die opbrengs wat ’n tweede plek in die afdeling behaal het.

Van Niekerk het sy sojabone op 21 en 22 November 2024 met ’n John Deere-planter geplant en einde April 2025 met ’n Fendt 8t Ideal gestroop. Die sojabone word in 91 cm-rywydtes geplant. In die betrokke blok is die sojabone teen ’n plantestand van 280 000 plante/ha geplant en volgens hom het daar ’n uiters goeie stand gerealiseer. “Selfs die pitte wat die vorige seisoen op die wenakker geval het, het opgekom en peule gedra.”

Hy plant ’n pakket van produkte in beide sojabone en mielies. Verskillende groeiseisoenlengtes help om risiko te versprei.

Greylingsrus is ’n gemengde boerdery wat fokus op mielie-, sonneblom- en sojaboonverbouing. Dan is daar ook ’n kommersiële beeskudde waar Van Niekerk slegs geregistreerde Santa Gertrudis-bulle in die teelprogram gebruik.

Van Niekerk is baie tevrede met die Fendt-8t Ideal-stroper wat hy gebruik om sy sojabone mee te stroop.
Stoppels word op die land gelaat om te keer dat die wind die boonste laag grond wegwaai.

Nuwe tegnologie
Wanneer hy moet besluit oor enige nuwe tegnologie om te gebruik, doen hy eers deeglike huiswerk. Hy probeer soveel as moontlik inligting insamel deur te lees, boeredae by te woon en by kundiges navraag te doen. “Ek kyk na studiegroepproewe, hoe produkte by ander produsente doen en ook na resultate van maatskappy- en onafhanklike proewe. Wanneer ek dan op ’n produk besluit het, sal ek eers ’n groterige kommersiële proef van nagenoeg 60 ha plant om te bepaal hoe die produk op my grond onder my bestuursprogram doen.”

Opbrengs per hektaar is vir hom dié belangrikste eienskap waaroor ’n nuwe kultivar moet beskik. “Die opbrengspotensiaal is die nommereen-eienskap en daarna sal ek ook kyk na aanpasbaarheid. Ons is gelukkig dat ons nie groot las het van swamsiektes nie, hoewel aalwurm tog ’n groot probleem in die sanderige grond is.”

Die oorgrote meerderheid van die grond is sanderige watertafelgronde met ’n lae kleipersentasie.

Van Niekerk glo in presisieboerdery. Al sy lande is gekarteer en dit word jaarliks ontleed – sy boerdery is rondom sy grondprofiel gebou. Die uitslae van die grondontledings bepaal die hoeveelheid kalk en ander voedingstowwe wat toegedien word – kalk en kunsmis word variërend toegedien na gelang van die grond se behoefte. “Die pH van die grond word voortdurend gemeet,” sê hy. Hy het verder ’n 4:9:18-mengsel van Omnia teen 100 kg/ha toegedien.

In sy wisselbouprogram speel die grondpotensiaal ook ’n groot rol. “My stelsel wissel elke jaar. Ek probeer wel om nie twee jaar na mekaar dieselfde gewas op dieselfde grond te plant nie.”

Die sojabone en mielies word in rotasie op die hoëpotensiaalgronde geplant terwyl mielies en sonneblom op die gronde met ’n laer potensiaal afgewissel word.

Dekgewasse sal op die laerpotensiaalgrond geplant word na strooptyd. In die winter plant hy ’n mengsel van Agricol wat bestaan uit vier tipes hawer en in die somer bestaan die dekgewasmengsel uit radyse, weiwieke en stoelrog. Die beeste benut hierdie dekgewasse as weiding.

Die beeste word ook op die lande gesit na stroop en afhangende van die grondtipe van die land, die gewas wat daarop geplant was en die hoeveelheid plantmateriaal, sal hulle tussen een en drie maande op die stoppels wei. Van Niekerk glo die beesmis en urine is goed vir die grond en dra by tot die opbou van die grondprofiel. “Die plantreste wat grond bedek speel ’n groot rol in die maande wat die wind erg waai. Dit help om winderosie te bekamp. Ek sal dus nooit toelaat dat die beeste ’n land te kaal wei nie.”

Wat grondbewerking betref, doen hy jaarliks ’n diep skeurtandbewerking nadat die stronke en ander plantmateriaal gekap is. “Die lande word jaarliks ongeveer 750 mm diep dwars gerip. Dit is dus elke jaar in ’n ander rigting. Dit is al manier waarop ek kompaksie kan keer.”

Na die diep bewerking doen hy ’n algehele onkruidbespuiting en plant dan in die stoppels. Op sommige van die lande sal hy die saadbed voorberei met ’n rolstaaf en op daardie lande spuit hy nie vir onkruid voor plant nie. Agter die planter spuit hy ’n vooropkomsonkruiddoder.

Nodulering op sojabone belangrik
Die sojabone word twee keer geënt. Van Niekerk doen eers ’n saadbehandeling en probeer so gou as moontlik na die saadbehandeling te plant. Dan sal hy weer van die entstof in die voor plaas met plant. Nodulering op sojabone is vir hom belangrik. “Ek gebruik MBFI se entstof vir die sojabone, maar ook hul biologiese swamdoder wat ek later na plant toedien.”

Hy het die blok wat ingeskryf is gespuit vir bolwurmbeheer. Dit was die enigste addisionele praktyk wat op die betrokke variëteit toegepas is. Verder het hy presies dieselfde praktyke gevolg vir al die sojaboonaanplantings.

Die seisoen se weersomstandighede het gesorg vir ’n paar dae van benoudheid. Aan die begin van die seisoen het hulle goeie reën gekry en kon hulle betyds plant. Daarna het hulle vir bykans ses weke geen neerslag ontvang nie. Hy glo sy bewerkingspraktyke en die watertafelprofiel het daartoe bygedra dat die sojabone net aanhou groei het. “Natuurlik was daar ook ’n hele klomp genade betrokke. Ek is baie dankbaar vir die opbrengs wat ons kon stroop ten spyte van die moeilike midseisoentydperk wat geheers het.”

Wanneer hy droom oor wat hy nog wil doen in die boerdery, handel die drome hoofsaaklik oor presisieboerderytegnieke. “Ek sal baie graag vir my ’n nuwe planter wou koop wat met die nuutste tegnologie toegerus is asook ’n moderne kunsmistoediener. My droom is om al meer te fokus op variërende toediening van voedingstowwe en ook om teen ’n variërende plantestand te plant. So glo ek kan ’n mens elke meter in die land benader en bestuur volgens daardie stukkie se grondpotensiaal.”

Sy raad aan jong produsente is om seker te maak hulle win soveel as moontlik inligting in voordat hulle ’n besluit neem. “Dit maak nie saak wat jy ry en saam met wie jy gesien word nie. Al wat saak maak is wat die stroper aan die einde van die seisoen sê. Dit is ook belangrik om te onthou dat niks vir ewig hou nie. Jou ouers is nie vir altyd daar nie. Droogte hou nie vir altyd aan nie. Maak dus seker dat jou prioriteite op die regte plek fokus. Waardeer die mense om jou. Die belangrikste mense in die lewe is jou gesin.”

Van Niekerk sê hy neem aan die Groei vir Goud-kompetisie deel omdat dit hom blootstel aan die praktyke van ander produsente, al boer hulle in ander omgewings en in ander omstandighede. “’n Mens kry die geleentheid om vrae te vra en uit te vind wat hulle doen. Dalk is daar een bestuursaspek wat jy op jou plaas kan toepas wat beter is as wat jy tans doen en wat gaan werk.”