UITVOER VAN ROOIVLEIS: Wat moet in plek wees?

Dr Frikkie Maré, uitvoerende hoof, Rooivleisprodusente-organisasie
Gepubliseer: 4 Junie 2025

349

2024 was ’n uitsonderlike jaar wat Suid-Afrikaanse rooi­vleisuitvoer betref. Tabel 1 dui aan hoe bees- en skaap­vleisuitvoer onderskeidelik jaar op jaar met 36% en 84% gestyg het. Uitvoer het gedurende 2024 ongeveer 5% en 11% onderskeidelik van die plaaslike slaggetalle uitgemaak het (gegewe sekere aannames oor gemiddelde karkasgewig).

Gegewe die data, kom die vraag onmiddellik op: “Hoekom die geweldige styging?” Die kort antwoord is dat daar van ’n relatief lae basis af gekom is wat uitvoere betref. Die uitvoer van rooivleis vanaf Suid-Afrika was sekerlik een van die mees riskante ondernemings die afgelope klompie jaar weens die gesondheidstatus (spesifiek met betrekking tot bek-en-klouseer) van die Suid-Afrikaanse kudde.

Alhoewel daar voorheen al soortgelyke hoeveelhede beesvleis uitgevoer is, het uitvoere baie afgeneem met die uitbreking van bek-en-klouseer aan die einde van 2018. Sporadiese uitbrekings daarna het geensins gehelp nie en uitvoere het wisselvallig gebly met sekere lande wat hul grense vir Suid-Afrikaanse produkte gesluit het of invoer tydelik opgeskort het.

Die afgelope jaar se goeie vertoning in uitvoere is meegebring deur die samewerking van organisasies soos die Rooivleisabattoirvereniging (RVAV), die Rooivleisbedryfsdienste (RMIS), die Departement van Landbou en die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO). Verder het privaat abattoirs wat gesertifiseer is vir uitvoere miljoene rande aan bemarking spandeer in lande waarvan die grense weer oopgestel is om kopers vir plaaslike produkte daar te vind.

Bilaterale ooreenkomste
Indien gekyk word na die vereistes om rooivleis na ’n ander land uit te voer, kan ’n mens nie anders as om die werk wat gedoen is te bewonder nie. In die afwesigheid van ’n erkende bek-en-klouseer-status soos deur die Wêrelddieregesondheidsorganisasie (WOAH) bepaal, is die eerste stap om ’n bilaterale ooreenkoms te onderhandel met elke land waarheen Suid-Afrika wil uitvoer. Daar is egter heelwat uitdagings in hierdie verband. So ’n ooreenkoms het dan spesifieke voorwaardes waaraan voldoen moet word, byvoorbeeld dat die diere net van sekere provinsies af mag kom of dat al die plase en voerkrale waarvan die diere kom apart geregistreer moet wees. Suid-Afrika het nie regtig ’n sê wat die vereistes betref nie. Die vernaamste vereistes met rooivleisuitvoer het te make met die beheer van dieresiektes en dié vereistes of voorwaardes word gewoonlik saamgevoeg in die invoerpermit.

Uitvoersertifisering
Dit is die uitvoerder se verantwoordelikheid om eerstens as ’n uitvoerfasiliteit gesertifiseer te word. Daarna moet die uitvoerder ook sertifiseer dat die besending rooivleis aan die invoerland se vereis­tes of gesondheidstoestande, soos uiteengesit in die invoerpermit, voldoen. Hierdie taak word deur ’n staatsveearts van die uitvoerland gesertifiseer.

Die uitvoersertifisering is ’n provinsiale funksie en word gedoen deur die provinsiale staatsveeartse wat deur die Direkteur: Dieregesondheid en die Departement van Landbou gemagtig is. Hulle kan slegs inligting sertifiseer wat hulle kan verifieer, waarvan hulle persoonlike kennis dra en kan bewys of wat gesertifiseer is deur ’n ander veearts.

Moets en moenies vir die uitvoerder
Een van die belangrikste aspekte wat ’n voornemende uitvoerder in ag moet neem is die identifikasie van individuele diere vanaf geboorte en stelsels om die beweging van hierdie slagdiere te bestuur tot by die punt van slagting. Dit is ’n belangrike deel van die deelname en uitbreiding van Suid-Afrikaanse rooivleisuitvoere.

Daar is egter ook baie fynere punte wat in ag geneem en sorgvuldig nagekom moet word. Dit sluit onder meer die volgende in:

  • Die oorsprong en geboorte van die slagdiere in Suid-Afrika moet beskikbaar wees. Daarom word daar soveel klem gelê op volhoubare naspeurbaarheidsprogramme wat ingestel en gevolg moet word.
  • Diere moet van Suid-Afrikaanse oorsprong wees ten einde te verseker dat hulle aan die Suid-Afrikaanse standaarde en regulasies voldoen.
  • Dokumentasie van enige diere na en van die plaas moet beskikbaar wees sodat die beheer van diere­siektes ook gesertifiseer kan word.
  • Goeie veterinêre praktyke moet in plek wees vir die gebruik van veemedisyne of enige ander chemiese middels waarmee diere behandel is.
  • Groeihormone word nie deur die meeste lande verbied nie, maar dit moet onderhewig wees aan goeie veterinêre praktyke met nakoming van onttrekkingsperiodes.
  • Die veearts en gesondheidsbeampte moet kan bevestig dat die rooivleis van gesonde diere afkomstig is en nie blootgestel was aan enige siektes soos gelys deur die WOAH wat deur vleis oorgedra kan word nie.
  • Die produk mag nie afkomstig wees van diere wat enige dierlike proteïen gevoer is nie. Hierdie praktyk is verbode volgens die Dieresiektewet.
  • Slegs natuurlike voer mag gebruik word as ’n plaasvervanger vir veldweiding.
  • Voer moet in ’n droë plek gestoor word en nie naby chemikalieë of kunsmis nie. Die stoorfasiliteite van die voer moet verseker dat dit vars bly en nie vergiftig kan word nie ten einde die risiko van enige verwante siektes of vergiftiging te verminder.
  • Hierdie diere moet amptelik geregistreer wees.
  • Die plase van oorsprong en enige beweging van die diere moet beskikbaar wees vir sertifiseringsdoeleindes.
  • Daar word van die plaaseienaar verwag om ’n gedetailleerde plan van sy plaas, geboue en infrastruktuur beskikbaar te stel sodat owerhede seker kan wees dat die produsent volhoubaar karkasse kan voorsien.
  • Met betrekking tot bek-en-klouseer moet daar bevestig kan word dat die skape 30 dae voor slagting in ’n area gehou is waar daar in ’n radius van ten minste 10 km geen kliniese voorkoms van bek-en-klouseer is nie. ’n Soortgelyke voorwaarde vir drie maande is van toepassing by beesvoerkrale.
  • Slagdiere wat na die goedgekeurde uitvoerabattoir vervoer word, moet volgens ’n voorgeskrewe program skoongemaak en ontsmet word. Die voer- en waterhouers van die diere moet ook gereeld skoongemaak word.

Vereistes aan die uitvoerabattoir
Daar is baie lande wat belangstel om karkasse vanaf Suid-Afrika in te voer, maar daar is ook vereistes wat aan die abattoir gestel word wat die diere slag.

In die eerste plek moet die abattoir geregistreer wees volgens die Wet op Vleisveiligheid. Die uitvoerabattoir moet ook aan verdere bepaalde minimum vereistes voldoen en as sodanig geregi­streer wees. In sommige gevalle moet ’n abattoir ook by die in­voerland geregistreer word. Hierdie registrasie is dikwels onderhewig aan inspeksies deur die invoerland self.

Dit sluit sekere strukturele vereistes in. Daar moet ook onafhanklike vleisinspeksies onder toesig van ’n veearts gedoen word. Vasgestelde voedselveiligheidsprosedures en voedselveiligheidsbestuursprogramme is verder verpligtend.

Residumoniteringsprogramme en mikrobiologiese analises is ook deel van hierdie voorwaardes waaraan die abattoir moet voldoen. Voorts is alle karkasse onderhewig aan ’n matura­sieproses vir 24 uur waarna die pH onder ses moet wees.

Kulturele voorwaardes
In die uitvoerbedryf is daar ook kulturele en godsdienstige voorwaardes waarna die abattoir moet oplet.

In die geval van uitvoere na die Midde-Ooste, stel hierdie invoerlande ook addisionele vereistes waarvolgens onafhanklike, geregistreerde halaal-organisasies verantwoordelik sal wees vir die bloei van die dier en waarvolgens hierdie produk as sodanig gemerk word.

Hierdie sertifiseringsriglyne verskil van land tot land, maar dit berus hoofsaaklik op riglyne van die WOAH of soortgelyke waarborge soos onderhandel deur veterinêre dienste in die onderskeie lande.

Pligte van die staatsveearts
Die staatsveearts is verantwoordelik vir die uitvoersertifisering en die evaluering van die goedgekeurde uitvoerabattoirs.

Dieregesondheidsveeartse is natuurlik ook verantwoordelik vir die algemene bestuur van dieregesondheid in die onderskeie streke. Die uitvoersertifisering berus grootliks op die inligting van hierdie veeartse, maar ook op die verifiëring van inligting deur privaat veeartse wat betrokke is by die plase, voerkrale en abattoirs. Die veeartse by die abattoir mag hierdie dienste slegs deur goedgekeurde vleisinspeksie-agentskappe laat verrig wat deur die nasionale Departement van Landbou aangestel is.

Hoewel daar geen regulasie is wat privaat persone verbied om ’n abattoir te besit nie, moet die uitvoerabattoirs aan alle vereistes van die Wet op Vleisveiligheid en addisionele vereistes soos ge­noem, voldoen.