’n Praktiese gids tot die JSE HANDELS­KALENDER

Gepubliseer: 4 Junie 2025

195
Heleen Viljoen,
landbou-ekonoom,
Graan SA,
heleen@grainsa.co.za

22/05/2025

IN DIE GRAANMARK KAN TYDSBEREKENING DIE VERSKIL TUSSEN WINS EN VERLIES BETEKEN. OF PRODUSENTE NOU VERSKANS, LEWERING BEPLAN OF MARKSEINE DOPHOU, OM DIE JOHANNESBURGSE AANDELEBEURS (JSE) SE HANDELSKALENDER TE VERSTAAN, IS NIE NET NUTTIG NIE MAAR OOK NOODSAAKLIK.

Termynmarkte soos die JSE werk doelgerig met ’n vasgestelde handelska­lender: Dit bring orde, deursigtigheid en belyning tussen fisiese aflewering en termynkontrakte. Vir graanprodusente beteken dit om te weet presies wanneer kontrakte oopmaak, verval of oorgerol moet word. Dit is deurslaggewende kennis vir ’n besigheid wat afhang van slim bemarking en maklike lewering. Hierdie artikel verduidelik hoe die JSE se handelskalender werk.

Wat is ’n handelskalender?
Enige termynkontrak (future) kom tot ’n einde. Die sluiting van ’n bestaande termynposisie word gewoonlik bereik deur óf die posisie te verreken óf deur die kommoditeit fisies te lewer aan ’n geregistreerde silo voordat die spesifieke kontrak verval.

Die meeste graanprodusente neem termynkontrakte uit om pryse te verskans deur middel van fisiese lewering. So ’n termynkontrak word dan gesluit deur die fisiese graan te lewer. Byvoorbeeld, as ’n verkoper vyf Julie-geelmie­liekontrakte (100 ton per kontrak) uitgeneem het, kan die verkoper enige tyd voor die laaste leweringsdag vir die Julie-kontrak, 500 ton se geelmielies lewer om sy posisie toe te maak. Die verkoper sal wel eers kennis van lewering moet gee. Indien die verkoper nie die fisiese graan kan lewer nie, of dit nou is as gevolg van ’n vertraging in die stroopproses of ander redes, kan die posisie verreken word. Die verrekening van die posisie behels die uitneem van ’n teen­oorgestelde termynkontrak om die oorspronklike termynkontrak te laat verstryk. Byvoorbeeld, die verkoper wat vyf Julie-geelmieliekontrakte gekoop het (om uiteindelik die kontrak toe te maak deur middel van lewering), kan sy posisie enige tyd voor die vervaldatum sluit deur vyf Julie-geelmieliekontrakte te verkoop. Om hierdie transaksies te orden en standaardiseer het die JSE ’n vasgestelde kalender vir graankontrakte. Tabel 1 bevat die be­langrike komponente wat verskyn in dié handelskalender.

Eerste posisiedag: Die eerste dag waarop die kortposisiehouer (verkoper) die JSE in kennis mag stel van sy voorneme om die kommoditeit te lewer. Die eerste posisiedag word gedefinieer as vier besigheidsdae voor die laaste besigheidsdag van die maand voordat die spesifieke kontrak verval.

  • Eerste kennisgewingsdag: Die eerste dag waarop ’n kortposi­siehouer (verkoper), wat graan wil lewer teen ’n oop termyn­kontrak, sy afleweringskennisgewing aan die JSE kan voorlê deur ’n verhandelaar. Die JSE ken dan op dieselfde dag die afleweringskennisgewing toe aan ’n langposisiehouer (koper) op ’n ewekansige basis.
  • Laaste kennisgewingsdag: Die laaste dag waarop ’n kort posisiehouer (verkoper), wat graan wil lewer teen ’n oop termynkontrak, sy afleweringskennisgewing aan die JSE kan voorlê.
  • Laaste verhandelingsdag: Die laaste dag waarop die koop en verkoop van termynkontrakte (en opsies) mag plaasvind met betrekking tot ’n spesifieke kontrakmaand.
  • Eerste leweringsdag: Die eerste toelaatbare dag waarop lewering mag plaasvind deur die verkoper.
  • Laaste leweringsdag: Die laaste toelaatbare dag waarop lewering mag plaasvind deur die verkoper.
  • Opsievervaldatum: Die dag waarop ’n opsie uitgeoefen moet word.

Die Desember 2025-mieliekontrak word as voorbeeld gebruik: Die eerste belangrike datum is alreeds op 24 November wanneer die opsiekontrakte op die Desember-termynkontrak verval. Tot en met 24 Desember is daar belangrike datums om van kennis te neem. Die laaste dag waarop die verkoper kan verhandel is op 22 Desember, waarna die laaste dag van lewering op die Desember 2025-kontrak dan 24 Desember is. Figuur 1 vertoon visueel die verskillende komponente van die handelskalender vir die Desember 2025-geelmieliekontrak. Tabel 2 en 3 bevat die handelskalender vir die res van 2025 en 2026.

Figuur 1: Komponente van die handelskalender vir die Desember 2025-geelmieliekontrak.
Bron: JSE

Samevatting
Om die graanmark effektief te gebruik vir prysverskansing is dit belangrik om die regte ding op die regte tyd te doen – en daarvoor is dit nodig om te weet wanneer kernbesluite geneem moet word. In 2025 het die oormatige reën gelei tot ’n vertraging in die stroopproses en sodoende kon sekere posisies nie deur middel van fisiese lewering gesluit word nie. Aan die einde van beide die April 2025- en Mei 2025-mieliekontrakte was plaaslike voorrade steeds knap, en dit het pryse ondersteun soos wat die laaste verhandelingsdag nadergekruip het. Hierdie artikel verduidelik nie net die verskillende komponente van die handelskalender nie, maar bemagtig ook produsente met die belangrike datums vir die res van 2025.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheidvan hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.