BRANDSTOF IN FOKUS: rabat en die dieselrekening

Gepubliseer: 4 Junie 2025

222
Marguerite Pienaar,
landbou-ekonoom,
Graan SA, marguerite@grainsa.co.za
Mlibo Qotoyi,
landbou-ekonoom-intern, Graan SA

DIE PRYS VAN BRANDSTOF, VERAL DIESEL EN OLIE, IS VAN KARDINALE BELANG VIR MENIGE SUID-AFRIKAANSE VERBRUIKER EN BESIGHEID – VAN PRODUSENTE WAT HUL TREKKERS MOET VOLMAAK TOT LOGISTIEKE MAATSKAPPYE WAT VRAG OOR DIE LAND HEEN VERVOER.

Hierdie artikel ondersoek die faktore wat die prys van diesel en olie beïnvloed, met spesifieke fokus op hoe groothandelpryse saamgestel word en wat dit beteken vir eindverbruikers. Verder word daar aandag gegee aan hoe ’n tipiese dieselkar moet lyk om aan veiligheidsvereistes en regulasies te voldoen.

Die dieselrabat is ingestel om plaaslike sektore soos landbou teen internasionale mededinging te beskerm (in sommige ander lande ontvang produsente staatsubsidies) en om verbruikers wat nie die pad gebruik nie, ’n mate van verligting te bied. Afhangend van die bedryf, bied die rabat volledige of gedeeltelike terugbetaling van die brandstofheffing en die Padongelukkefondsheffing. Tydens die finale begro­tingsrede in Mei is aangekondig dat die algemene brandstofheffing met 15 sent/liter verhoog word, wat beteken dat die dieselrabat vanaf 4 Junie 2025 styg van R3,66 tot R3,72/liter. Hierdie rabat is tans die enigste vorm van ondersteuning wat produsente ontvang om hul insetkoste te verlig.

Hoe word die dieselprys bepaal?
Die aankoop van petroleumprodukte op die internasionale mark teen invoerpariteit en die vervoer daarvan is die grootste faktore wat die basiese brandstofprys opmaak. Hierdie twee faktore word sterk deur die internasionale olieprys en die rand/dollar-wisselkoers beïnvloed. Addisioneel tot die basiese brandstofprys (werklike koste van brandstof) word belasting en heffings deur die regering bygevoeg. Onder volg ’n uiteensetting van die groothandelprys van diesel 0,05% S teen R18,87/liter (soos aangeteken op 1 Mei 2025).

In Suid-Afrika word die petrolprys deur die regering gereguleer en elke maand aangepas. Hierdie aanpassing is gebaseer op die gemiddelde internasionale olieprys en die rand/dollar-wisselkoers van die vorige maand – wat beteken daar is ongeveer ’n maand se vertraging in aanpassing. Die sogenaamde basiese brand­stofprys (BBP) dek die koste om brandstof na Suid-Afrikaanse hawens in te voer. Daarna word belasting, heffings en vasgestelde winsmarges bygetel om by die finale kleinhandelprys uit te kom.

Diesel werk anders. Die regering reguleer nie dieselpryse op kleinhandelsvlak nie. Die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie (DMRE) publiseer slegs ’n riglyn-groothandelprys, wat beteken dat dieselpryse meer direk op marktoestande reageer.

In Mei 2025 het die groothandelprys van diesel bestaan uit die volgende komponente:

  • Basiese brandstofprys: R10,41 (55%)
  • Belasting en heffings: R6,09 (32%)
  • Marges en ander koste: R2,38 (13%)
  • Totaal: R18,87/liter

In April 2025 het die prys van Brent-ruolie gemiddeld $65,62/vat beloop, wat gelei het tot ’n afname in brandstofpryse in Mei. Die basiese brandstofprys van diesel het gedaal van R13,90 na R10,41 jaar op jaar. Groothandelpryse het met 15% gedaal van R22,15 tot R18,87/liter tussen Mei 2024 en Mei 2025. Die persentasiebydrae van belasting en heffings het gestyg van 28% in 2024 na 32% in 2025. Marges en ander koste se bydrae het ook gestyg van 10% verlede jaar na 13% in Mei 2025.

Grafiek 1 wys hoe die dieselprys, Brent-ruolieprys en die rand/dollar-wisselkoers saam verander het van 2011 tot 2025. Oor die algemeen sien ons dat wanneer die rand teenoor die dollar verswak (wisselkoers gaan op), die dieselprys ook styg. Dieselfde geld andersom – as die rand sterker word (wisselkoers daal), dan sak die dieselprys gewoonlik ook. ’n Goeie voorbeeld hiervan is tussen middel 2023 en begin 2024, waar beide pryse saam beweeg het. Aan die begin van 2025 het die rand skerp verswak en die dieselprys het vinnig gestyg. Teen April 2025 het die rand weer begin versterk, maar die dieselprys het nie so vinnig gedaal nie, moontlik weens ander koste soos heffings.

Die grafiek toon verder hoe die ru­olieprys (in rand per vat) ’n bepalende rol speel in die vasstelling van die dieselprys. Wanneer ruolie duurder word, verhoog dit die basiese brandstofkoste wat die grootste deel van die dieselprys uitmaak. Soos gesien in 2022 en 2023, het die ruolieprys skerp gestyg en die dieselprys het gevolglik saam opwaarts beweeg. Selfs al versterk die rand of bly dit stabiel, kan hoë ruoliepryse steeds die dieselprys opwaarts druk. Die grafiek beklemtoon dus hoe beide internasionale faktore (soos oliepryse) én plaaslike faktore (soos die wisselkoers) ’n direkte invloed op plaaslike brandstofpryse het.

Grafiek 3 wys hoe die gelande koste van brandstof (wat dit kos om dit in te voer) en die totale heffings en belasting van 2000 tot 2025 gestyg het. Wat duidelik uitstaan, is dat die belasting en heffings (groen lyn) jaar na jaar redelik konstant en geleidelik gestyg het. Die gelande koste (blou lyn) daarenteen, het baie meer gewissel – dit het skerp gestyg in sekere jare soos 2008, 2012 en 2022, en toe weer gedaal. In onlangse jare (na 2021) het die koste van ingevoerde brandstof vinnig toegeneem, maar daarna weer begin afneem teen 2025. Hierdie grafiek toon dat selfs al wissel internasionale oliepryse, die belasting en heffings aanhou styg, wat ’n groot en toenemende deel van die brandstofprys uitmaak.

Grafiek 1: Dieselprysbeweging teenoor die rand/dollar-wisselkoers en die Brent-ruolieprys.
Bron: Graan SA
Grafiek 2: Samestelling van die groothandelprys van diesel in Mei 2025.
Bron: Sentrale Energiefonds
Grafiek 3: Beweging van gelande koste van diesel teenoor die totale heffings op diesel.
Bron: Graan SA

Hoe moet ’n dieselkarretjie lyk?
Die vervoer van diesel word streng gereguleer deur wetgewing, onder meer die Nasionale Padverkeersregulasies en die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaard (SANS). Volgens die wetgewing is diesel met UN-nommer 1202 onder sekere omstandighede vryge­stel van hierdie vereistes. Spesifiek word dieselvragte tot en met 1 000 liter vrygestel van die vereistes van SANS 10231. Op bladsy 15 van SANS 10231 staan: “If the total quantity loaded is less than the quantity (in kilograms or litres, as appropriate) given in table C.1 in the EXEMPT QUANTITY column, the requirements of this standard do not apply.” Volgens Tabel C.1 in die regulasies word diesel dus slegs gereguleer as die hoeveelheid meer as 1 000 liter is. In die geval van petrol is die vrystelling beperk tot 500 liter.

Verder spesifiseer Regulasie 276 van die Nasionale Padverkeerswet op bladsy 181: “The dangerous goods listed in code of practise SABS 10232-1…” wat verwys na verdere uitsonderings op die regulasies. Nog ’n belangrike uitsondering word op bladsy 15 van SANS 10231 genoem onder artikel 7.4: “the goods are transported by a bona fide farmer or an employee of the farmer and are intended for use in farming operations, provided that… the quantity of classified dangerous goods in liquid form does not exceed 1 000 L…”

Dit beteken dat ’n dieselkarre­tjie wat minder as 1 000 liter diesel vervoer en slegs vir boerderydoel­eindes gebruik word deur ’n pro­dusent of sy werknemer, nie aan die vol regulasies van gevaarlike goedere onderhewig is nie. Dit is belangrik dat die diesel nie vir herverkoop bestem is nie en dat die rit nie langer as 250 km is nie, waarvan nie meer as 50 km op ’n nasionale pad mag wees nie.

’n Dieselkarretjie word agter ’n bakkie gesleep.

Samevatting
Die aanpassing van die dieselrabat vanaf R3,66 tot R3,72/liter is belang­rik vir produsente om van kennis te neem. Soos dié artikel uitwys, bestaan die dieselprys uit verskeie komponente. Van internasionale oliepryse en die wisselkoers tot plaaslike belasting en heffings beïnvloed alles saam die eindprys by die pomp. Die groothandelprys reflekteer hierdie faktore direk en verander maandeliks. Vir produ­sente is dit verder belangrik om die regulasies rakende die vervoer van diesel te verstaan: Vragte onder 1 000 liter is vrygestel van die strengste vereistes, mits dit aan sekere voorwaardes voldoen. In ’n uitdagende ekonomiese klimaat is dit van kardinale belang om ingelig te wees oor hoe elke sent van die dieselrekening saamgestel word – én waar daar verligting moontlik is.