Die veteraantrekker-uitstalling by NAMPO is elke jaar ’n besonderse ervaring. Met glimmende gerestoureerde Fords, Massey Fergusons en statige John Deeres en
Internationals uit die verlede, bied die uitstalling ’n viering van die meganisasie van landbou deur die eeue heen.
Baie van hierdie trekkers is sorgvuldig herstel en onderhou deur toegewyde versamelaars wat ’n passie het vir die bewaring van landbougeskiedenis. Die uitstalling gee besoekers ’n geleentheid om nie net die trekkers van nader te bekyk nie, maar ook om die stories agter hierdie masjiene te hoor.
Noordwes-veteraantrekker-en-enjinklub
Die Noordwes-veteraantrekker-en-enjinklub is al sedert 2012 ’n trotse deelnemer aan die uitstalling in die Engen-museum. Hierdie klub, wat deel is van die Suid-Afrikaanse Federasie van Veteraantrekker-en-enjinklubs (SAVTEC), speel ’n belangrike rol in die bewaring van Suid-Afrika se landbou-erfenis.
Die klub se betrokkenheid by NAMPO dateer terug na die laat 1990’s, toe hulle begin uitstal het op die standplaas waar Omnia nou gevestig is. Sedertdien het hulle hul uitstalling uitgebrei en verbeter. Vandag bevat die versameling, wat in die Engen-museum gehuisves word, 25 trekkers wat aan Engen behoort en deur skenkings verkry is, terwyl nog 18 trekkers in privaat besit is.
Volgens Johan Gouws, sekretaris van die klub en van SAVTEC, het hulle gevind dat ’n statiese uitstalling nie dieselfde impak as ’n dinamiese demonstrasie het nie. Daarom is die meeste van hul trekkers in ’n lopende toestand sodat besoekers dit in aksie kan sien.
’n Reis deur landboutegnologie
“Tegnologie in trekkers het oor die jare ongelooflik ontwikkel,” sê Gouws. “Hedendaagse trekkers is vol gevorderde elektroniese komponente, selfs outomatiese, selfgedrewe trekkers is nie meer iets vreemds nie. Dit is egter belangrik om vir die nageslag te wys hoe ons voorvaders gewerk het.”
Sommige van die uitgestalde trekkers het staalwiele en is ontwerp voor bande algemeen vervaardig is. Ander het geen elektriese toebehore nie en moet met die hand aangeskakel word – dus geen batterye of moderne aansitters nie! “Dit is ’n wonderlike ervaring vir besoekers, en veral vir kinders om te sien hoe die landbousektor oor die dekades verander het,” vertel Gouws.
Een van die hoogtepunte van die uitstalling is ’n seldsame Lanz Bulldog-trekker, wat in privaat besit is. Hierdie unieke eensilinder-masjien het ’n kenmerkende geluid wanneer dit luier, en ’n interessante aanskakelproses – dit moet met ’n blou vlam verhit word voordat dit aan die gang kan kom.
Die uitdaging van vervoer
Om die trekkers by NAMPO te kry, is ’n storie op sy eie. Groter trekkers kan nie op ’n gewone sleepwa vervoer word nie en benodig ’n laebakvragmotor. NAMPO voorsien ’n bydrae per trekker wat uitgestal word, en Engen borg brandstof vir die masjiene.
Mielietoerusting en demonstrasies
Benewens die indrukwekkende versameling trekkers, poog die klub ook om ou mielietoerusting uit te stal en te demonstreer. “Vir iemand wat op ’n plaas grootgeword het, is hierdie toerusting ’n nostalgiese blik op die verlede. Vir die stadsjapies is dit ’n seldsame geleentheid om te sien hoe mielies in die ou dae gemaal en verwerk is. Dit is ’n leersame ervaring vir jonk en oud,” sê Gouws. Die uitstalling sluit handmasjiene in wat mielies vir huishoudelike gebruik gedors en gemaal het.
Hierdie uitstalling is nie net ’n huldeblyk aan ons landbou-erfenis nie, maar ook ’n viering van die tegnologiese vooruitgang in die sektor.