
Graan SA se jaarlikse streeksvergaderings het vanjaar vanaf 24 Januarie tot 6 Maart geduur. Hierdie vergaderings speel ’n sleutelrol in die ondersteuning en bemagtiging van graanprodusente oor Suid-Afrika heen. Met landbou as ’n dinamiese sektor wat voortdurend aan veranderende uitdagings en geleenthede blootgestel word, bied hierdie streeksbyeenkomste ’n platform vir produsente om ingelig te bly en direk met Graan SA te skakel.
Die streeksvergaderings dien as ’n belangrike skakel tussen Graan SA en sy lede. Dit bied produsente die geleentheid om terugvoer te gee oor beleidskwessies, insette te lewer oor die rigting van die organisasie en om op hoogte te bly van die jongste ontwikkelings in die graanbedryf.
Kernfokusareas van die vergaderings sluit die volgende in:
- Grondwetaanpassings wat by Kongres bespreek gaan word
- Graan SA se strategiese fokusareas en rigting
- Opdatering oor beleids- en regulatoriese veranderinge wat die sektor raak – veral rakende die landbouchemiebedryf
- Terugvoer rakende veranderinge in die markte, insluitend beplanning rakende logistiek en verwagte voorrade
- Bemarkingsgeleenthede en ekonomiese vooruitsigte vir graanprodusente
- Biosekuriteit en die fokus van navorsing
- Nuwe saamgestelde, eksklusiewe ledevoordele
Hoogtepunte tot dusver
Sedert die afskop op 24 Januarie het verskeie sleutelinsigte en sake na vore gekom. Produsente het besondere belangstelling getoon in nuwe tegnologiese oplossings soos presisieboerdery en verbeterde produksiestelsels. Verder is daar indringend besin oor insetkoste en die impak van internasionale markneigings op plaaslike pryse. Die verwagte beleidsverandering binne die landbouchemiebedryf het gesorg vir heelwat dieptegesprekke asook bekommernisse.
Samewerking tussen Graan SA en ander bedryfsvennote soos navorsingsinstansies en landboumaatskappye word verder versterk om volhoubare oplossings vir die bedryf te verseker.
Hoe graanprodusente baat vind
Vir graanprodusente bied hierdie vergaderings ’n waardevolle platform om direk met bedryfskenners en medeprodusente te netwerk. Deur toegang tot die jongste inligting en strategieë te kry, kan produsente beter besluite neem oor hul bedryfsbeplanning en risikobestuur. Verder help hierdie vergaderings om ’n sterker, verenigde stem vir die graanbedryf te bou, wat noodsaaklik is om beleidsbesluite en marktoegang te beïnvloed.
Graan SA bly daartoe verbind om volhoubare groei in die graanbedryf te bevorder en produsente te ondersteun in ’n uitdagende ekonomiese en klimaatsomgewing.











