Die impak van werklike VRAAG EN AANBOD op plaaslike graanpryse

Gepubliseer: 1 Oktober 2024

96
Heleen Viljoen,
landbou-ekonoom,
Graan SA,
heleen@grainsa.co.zaMarguerite Pienaar,
landbou-ekonoom,
Graan SA,
marguerite@grainsa.co.za

17/09/2024

Suid-Afrika se graanmarkte het eers in 1997 as ’n vrye mark begin funksioneer toe die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte uitgevaardig en markte gedereguleer is. Dit het beteken dat markdeelnemers soos produsente, handelaars en verwerkers moes reageer op fundamentele kragte wat prysbepaling beïnvloed.

Prysbepaling kan op twee ma­niere gemonitor word: tegniese analise en fundamentele faktore. Tegniese analises maak gebruik van grafieke, tendense en data. Fundamentele faktore fokus op wat fisies in die markte gebeur. Daar is heelwat dinge wat die fundamentele faktore van die mark beïnvloed, maar die heel belangrikste is internasionale en plaaslike vraag en aanbod.

Die 2024/2025-bemarkingseisoen sal onthou word as een met vele uitda­gings, veral weens die nagevolge van die midsomerdroogte. Hierdie artikel beoog om Suid-Afrika se vraag en aanbod in perspektief te plaas en die effek op pryse te verduidelik.

Werklike vraag-en-aanbod-scenario
In Suid-Afrika speel die vraag en aanbod vir mielies en sojabone ’n sentrale rol in die bepaling van pryse in die vrye­markstelsel. In ’n vrye mark word pryse bepaal deur die interaksie tussen kopers en verkopers, sonder inmenging van die regering. Wanneer die vraag na mie­lies en sojabone hoog is en die aanbod beperk, styg pryse as gevolg van die mededinging tussen kopers om die beperkte voorraad te verkry. Die teendeel is ook waar: As die aanbod groter is as die vraag, sal pryse daal omdat produsente mededingend moet bly en hulle pryse aanpas om hul produkte verkoop te kry. Hierdie dinamiek verseker dat pryse voortdurend aanpas volgens marktoestande, wat die belang­rikheid van vraag en aanbod in die vrye mark beklemtoon.

Hoe lyk die vraag-en-aanbod-scenario in ’n droogtejaar soos die 2023/2024 produksieseisoen?
In ’n droogteseisoen waarin mielie- en sojaboongewasse ernstig skade gely het as gevolg van uitermatige hitte en droogte, sal die aanbod van hierdie gewasse drasties verminder. Met ’n beperkte beskikbaarheid van mielies en sojabone asook ’n vraag wat relatief konstant bly, sal pryse waarskynlik skerp styg. Die skaarste van die kommoditeite skep verhoogde mededinging tussen kopers, wat verdere ondersteuning aan pryse bied. Hierdie situasie illustreer hoe nadelige weersomstandighede direk die vraag-en-aanbod-balans beïnvloed, wat uiteindelik tot hoër kommoditeitspryse kan lei.

Invloed op prysbepaling
Suid-Afrika se binnelandse graanpryse beweeg voortdurend tussen invoer- en uitvoerpariteit, wat bepaal word deur vraag en aanbod op beide ’n binnelandse en internasionale vlak. Pariteite dien as parameters vir opwaartse en afwaartse plaaslike prysbewegings. Plaaslik gebruik markdeelnemers die Suid-Afrikaanse Termynmark (Safex) se landbouprodukte-afdeling as die maatstaaf vir prysbepa­ling. Safex word gesien as die spot-mark van daaglikse handel in grane en reflekteer die prys waarteen grane gekoop en verkoop word. Om Safex-pryse met vraag en aanbod op beide ’n wêreldwye en plaaslike vlak in perspektief te stel, word pariteitsgrafieke gebruik (Grafiek 1 en Grafiek 2).

Grafiek 1: Pariteite vir geelmielies.
Bron: Graan SA
Grafiek 2: Pariteite vir heel sojabone.
Bron: Graan SA

Grafiek 1 beeld die pariteitspara­meters vir geelmielies uit. Dit is belangrik om in ag te neem dat vraag en aanbod op beide ’n internasionale en plaaslike vlak ’n rol speel. Dit is opmerklik dat pariteitsparameters (beide invoer en uitvoer) sedert Oktober 2023 geleidelik afwaarts beweeg het. Dié afwaartse druk is meegebring deur hoër wêreldproduksie en dus ’n hoër totale aanbod. In teenstelling hiermee het die Safex-geelmieliekontrakpryse sedert die einde van Januarie 2024 met skerp opwaartse tendense verhandel, meegebring deur ’n merkbare laer binnelandse produksie.

Grafiek 2 illustreer die pariteitspara­meters vir heel sojabone vanaf Brasilië en Argentinië. In die globale prentjie het sojaboonproduksie oor die afgelope paar seisoene aansienlik gegroei. Dit het tot gevolg gehad dat eindvoorraad begin opbou het wat druk op internasionale pryse geplaas het. Dit kan waargeneem word deur die invoerpariteite vir Brasilië en Argentinië wat geleidelik sedert die 2021-hoogtepunt begin daal het. Globale eindvoorraad het sedert 2021 alreeds met 52,3% toegeneem – dit is ongeveer 27,97 miljoen ton se oordragsojabone. Die effek hiervan kan waargeneem word in die pariteitsparameters in Grafiek 2 wat geleidelik afwaarts beweeg. As die fokus na die binnelandse mark geskuif word, is die effek van hierdie seisoen se knap voorrade duidelik. Safex-pryse het sedert die einde van Januarie na invoerpariteit toe begin beweeg. Omdat die mark lae voorrade voorsien, moes plaaslike pryse begin kompeteer met die realiteit van moontlike invoere en dit het pryse nader getrek aan invoerpariteit.

Samevatting
Hoewel plaaslike voorraadvlakke tans laag is, is dit belangrik om in gedagte te hou dat Suid-Afrikaanse markpryse steeds deur wêreldneigings beïnvloed word. Die internasionale vraag-en-aanbod-dinamika speel ’n deurslaggewende rol in die vasstelling van die invoer- en uitvoerpariteitspryse, wat weer die maatstawwe vir die plaaslike mark vorm. Dit is egter die wisselwerking tussen plaaslike vraag en aanbod wat uiteindelik bepaal hoe nou Suid-Afrikaanse pryse ooreenstem met hierdie globale pariteitsparameters. As sodanig, selfs met gelokaliseerde tekorte, bly die breër internasionale landskap ’n bepalende faktor in plaaslike prysing­strategieë.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.