NAMPO-ervaring MET ’N KAAPSE GEUR

Louise Kunz, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 2 Julie 2024

271

Indien jy nie een van die 86 474 besoekers is wat die NAMPO Oesdag by Bothaville bygewoon het nie, is daar in September nog ’n geleentheid vir ’n NAMPO-ervaring.

NAMPO Kaap word van 11 tot 14 September op Bredasdorp Park in die Overberg aangebied. Dit is vanjaar die vyfde aanbieding van hierdie landbou-ekspo wat ’n blik bied op die verskeidenheid van dié provinsie se boerdery en landbou­besigheid. Die tema is “Landbou is die ruggraat van ekonomiese herstel”.

Graan SA en Bredasdorp Park NPC bied NAMPO Kaap aan en verskaf aan besoekers die ideale geleentheid om met die nasionale verteenwoordigers van maatskappye en insetverskaffers te gesels. Hierdie landbouskou is ’n unieke ervaring – al is daar van die uitstal­lers wat oorvleuel met dié by die Oesdag, verskil die twee geleent­hede op verskeie vlakke. “Dis NAMPO met ’n Kaapse flavour,” spot Henk Aggenbach, voorsitter van Bredasdorp Park NPC se direksie. “Dit is ’n versamelpunt vir almal vir wie landbou na aan die hart lê.”

NAMPO Kaap word op Bredasdorp Park aangebied.

Omdat daar in die winterreënstreek hoofsaaklik met kleingrane geboer word, word daar by NAMPO Kaap op die produksie van hierdie gewasse klem gelê. “Besoekers aan NAMPO Kaap sal nie maklik hier kom kuier en akkerbou uit dieselfde oogpunt as in die noorde sien nie,” vertel Aggenbach. Die uitstallings is egter nie net op graan gerig nie, maar ook op die nuutste werktuie en jongste tegnologie vir vee-, vrugte-, groente- en wingerdproduksie asook ander rolspelers in die landbousektor.

Produsente van vandag en môre kom kers opsteek
Graanprodusente kan meer kom uitvind oor die nuutste tegnologiese vorderings op die gebied van landboutoerusting, die jongste presisiesagteware of tendense rakende aangeplante weidings. Die landbou-ekspo is die ideale plek om verskillende produkte teen mekaar te meet.

Op die akkerboupersele sal gewasdemonstrasies, bewer­kingspraktyke, dekgewasmengsels en kultivarnavorsing gesien kan word. Verskeie verskaffers se saadpersele bied ’n geleentheid om die aangeplante gewasse te besigtig en meer inligting van die kundiges te bekom.

Kragtige 4×4-voertuie wys hul staal.

Veeprodusente word beslis nie afgeskeep tydens NAMPO Kaap nie en hulle kan uitsien na die rasuitstallings wat in ’n veetent agter die Voermol- en BKB-sale plaasvind. Die Merino Ope wat in die BKB-veesentrum aangebied word, is oop vir alle Merinostoet- en -kuddetelers. Die Suid-Afrikaanse Vleismerinoram-kompetisie waar vleismerino’s teen mekaar meeding, is ook weer op die program.

Die omvattende skoleprogram wat sedert 2022 deel van NAMPO Kaap is, wys dat die jeug baie belangrik is vir die organiseerders van die geleentheid. Dié program word aangebied vir leerders uit die Swartland met landbou as ’n skoolvak. Leerders kan hier hul akademiese klaskamerkennis aanvul met praktiese ervarings wat die kurrikulum ondersteun. Die nuutste tendense in vertikale boerderystelsels, akkerbou, diereproduksie en volhoubare landbou word hier bespreek. Spesiale klem word ook op die rol van die departement en loopbaangeleent­hede in die landbou geplaas.

Die jaarlikse Overberg-streeksjeugskou vind in die BKB-veesentrum plaas met ongeveer 250 deelnemers. Leerders skryf vir die volgende klasse in: suiwelbees, vleisbees, vleisskaap, wolskaap, veselbok, melkbok, vleisbok, pluimvee, perd, konyn, duif, kulinêre kuns en suiwelbereiding. Seuns en dogters tot 17 jaar neem deel in drie ou­derdomsgroepe: junior-junior (5 tot 9 jaar), junior (10 tot 13 jaar) en senior (14 tot 17 jaar).

Vir die kleinspan wat moeg word om na “grootmensdinge” te kyk, is daar ponieritte en ’n kinderpretpark met toesig waar kleuters na hartelus kan speel.

Kom geniet vertonings deur die beroemde Suid-Afrikaanse Lipizzaners.

Ou bekendes en ietsie nuuts op die lys
“By NAMPO Kaap is daar altyd iets nuut omdat tegnologie voortdurend verander en dus elke jaar nuut is,” sê Aggenbach. Vanjaar is daar egter ’n opwindende nuwe toevoeging tot die program waar besoekers die kampioenskaaphonde in aksie kan sien. Nog ’n nuutjie is Syngenta se tentrestaurant waar daar boerekos verkoop en ’n skaapkop-ete aangebied gaan word.

Ander trekpleisters op Bredasdorp Park sluit die volgende in:

  • Daaglikse vertonings deur die beroemde Suid-Afrikaanse Lipizzaners waar dié spogperderas besoekers gaan vermaak met hul passies. Perdeliefhebbers kan verder uitsien na ’n optog deur ’n verskeidenheid perderasse.
  • Dié wat hul kennis wil uitbrei, kan kom leer oor toeka se dae by die museumtent waar 19 van die Wes-Kaapse museums demonstrasies uit die geskiedenis aanbied. Kom leer meer oor bye en heuning by die heuningskou wat deur die Suid-Kaap Byebedryf­vereniging aangebied word. Demonstrasies van ’n volledige akwaponiese en hidroponiese kweekstelsel kan besoek word. As jy lief is vir planne maak, maak gerus ’n draai by die Boereplanne-uitstalling.
  • As die honger of dors knaag: Eetplekke is oor die terrein versprei en volledige etes, handeetgoed, peuselhappies, snoeperye, koeldranke, sappe, boeretroos en alkoholiese verversings kan geniet word.
  • Vir die skoner geslag: Terwyl manlief na die nuutste tegnologie kyk, kan vroulief na die uitstallings in die sale kyk, die vroueprogram bywoon óf ’n draai maak by die NAMPO Kaap-instapskoonheidsalon in die Santam-ouditorium waar ’n span skoonheidsterapeute gereed staan om dames te bederf.
  • Blommeprag: NAMPO Kaap is bekend vir sy uitsonderlike blommeskouspel. Vanjaar kuier Marjolin Malan, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Blomme-unie se nasionale onderwyspaneel en lid van die Wes-Kaapse Blommerangskikkersvereniging, weer by NAMPO Kaap met ’n paar unieke uitstallings. Die fynbos- en veldblomme-uitstalling in die Neptun-saal is ’n moet en die span is geheimsinnig oor wat vir vanjaar beplan word.
  • Sake van die dag: Vir diegene wat belangstel in sake van die dag wat die landbou raak, vind die gewilde Nasie in Gesprek-reeks met Theo Vorster daagliks in die Santam-ouditorium plaas. Die organiseerders is nog besig om die program te finaliseer.

Kry jou kaartjie betyds
Van ’n klein begin in 2018, het die besoekerstal tot ongeveer 23 000 gegroei in 2019 – en toe staan alles stil met die Covid-19-pandemie. In 2022 het meer as 32 000 opgewonde besoekers deur die hekke van Bredasdorp Park gestap en in 2023 het die belangstel­lendes gegroei tot meer as 35 000, ondanks gure weerstoestande. Die feit dat besoekers ook Saterdag op Bredasdorp Park kan kom kuier, beteken dat diegene wat nie gedurende kantoorure kan rond­loop nie, in die opwinding kan deel.

Die organiseerders en die mense van Bredasdorp en die Overberg-streek maak tans gereed om besoekers van oraloor te verwelkom. Kaartjies is reeds van 1 Julie af aanlyn beskikbaar teen R80 per volwassene en R50 per skoolgaande kind per dag. Kinders onder ses se toegang is gratis. Jy kan ook jou kaartjie by die hek aankoop teen R100 per persoon en R50 per skoolgaande kind per dag. Die hekke open om 08:00 en sluit om 17:00, behalwe vir Saterdag 14 September wanneer dit reeds om 15:00 sal sluit.

Lede van Graan SA, die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) asook die Melkprodusente-organisasie (MPO) sal by die Graan SA-ontvangs in die Absa-sentrum verwelkom word. Hulle kan hier kom ontspan en met ander landbou-entoesiaste gesels. Daar is spesiale parkering aan­grensend tot die ingang na die saal vir alle lede.

Indien jy oornagakkommodasie benodig, kontak gerus die Kaap Aghulhas-toerismekantoor by 028 424 2584/082 896 2225 of besoek www.overberg-info.co.za vir verblyf in Bredasdorp of omliggende dorpe – Napier, Struisbaai, Waenhuiskrans, L’Agulhas, Swellendam, Caledon, Stanford en Hermanus.

Borge maak dit moontlik
Borge maak hierdie groot gebeurtenis in die Overberg-distrik moontlik. Vir 2024 maak die volgende borge die verskil: AB InBev, Absa, BBF Safety, Bester Graan en Voer, BKB, Engen, FNB, Ford, Hollard, Landbank (veetent), Nedbank, Neptun, Old Mutual, Overberg Agri, Packtown, Plaas Media (hoofmediaborg) Santam, Sew Euro Drive, Shell SA, Spar Bredasdorp, SRS Roofing,­ Standard Bank, Total Energies, Toyota, Voermol, Western Cape Lubricants asook die Wes-Kaapse Departement van Landbou.

’n Skouspel van Kaapse blomme wag op NAMPO Kaap-besoekers.