Geen keer aan Reitz Landbou-akademie

Gepubliseer: 5 Junie 2024

108
Karina Muller,
SA Graan/Grain-medewerker

Reitz Landbou-akademie is soos ’n windpomp in ’n dor land – dit raak net groener en groener by dié akademie wat ’n inisiatief van verskeie rolspelers is om jongmense die nodige blootstelling, kennis en vaardighede te bied om landbou in die land te bevorder.

Die akademie is ’n niewinsgewende maatskappy en word deur Hoërskool Reitz gehuisves. Die doel van hierdie be­roepsgerigte akademie is om ’n unieke wêreldklaslandbou-opleidingsinstansie daar te stel.

Oorbrugging
Hulle is veral trots op hul oorbruggingsjaar, Agrifokus, waarvan die eerste groep studente verlede jaar ingeneem is. Daar het vanjaar reeds meer as dubbel soveel studente as in 2023 ingeskryf. Studente kom van so ver as Limpopo, Gauteng en Noordwes. Die akademie kan 30 studente per jaar hanteer.

Agrifokus is op skoolverlaters gemik en die doel is om hulle, met die hulp van borge, aan alle aspekte van die landbou bloot te stel.

Jors Kriek, voorsitter van die akademie se beheerliggaam en plaaslike produsent, sê deur die oorbruggingsjaar wil hulle aan studente die “ware prentjie van landbou” wys.

Studente kry die geleentheid om al die vertakkinge van landbou eerstehands te beleef en ook te besluit watter rigting hulle wil inslaan. “Ons leer vir hulle vaardighede soos sweis, instandhouding van trekkers en implemente, graanbemarking, die neem van grondmonsters, wolhantering, vuurwapenhantering en vele meer,” verduidelik Kriek.

Benewens die vaardighede wat studente aanleer, poog die akademie ook om aan hulle ’n aangename studente-ervaring te bied. So is die 2024-groep onlangs met die hulp van ’n borg na SuperSport-park in Centurion om te gaan krieket kyk.

Die Noordwes-Universiteit het onlangs ook ’n hand na die aka­demie uitgereik om besigheidstudies aanlyn aan die studente te bied. Na suksesvolle voltooiing ontvang hulle ’n NQF-vlak 5-akkreditasie hiervoor.

Agrifokus-studente het hul eie koshuis op die skoolterrein. Koste beloop R50 000 per jaar (sonder verblyf) of R80 000 per jaar in die koshuis met etes op weeksdae ingesluit.

Vakansieprogram
Nog ’n eerste vir die Reitz Landbou-akademie is die vakansieprogram wat vir leerders in graad 11 en 12 aangebied word om hulle aan die praktiese elemente van die vak landboutegnologie bloot te stel.

Wikus le Roux, oudonderwyser en tans produsent in die omge­wing wie se breinkind die vakansieprogram is, vertel dat skole in stedelike gebiede nie noodwendig die infrastruktuur het om die praktiese deel van die kurrikulum aan leerders te bied nie.

Die vakansieprogram ondervang hierdie leemte deur 20 leerders (in hierdie stadium) na ’n plaas in die Reitz-omgewing te bring en hulle in ’n kort tyd aan sillabuselemente soos vervaardigingsprosesse, tegno­logie, kalibrasie, berging en kommunikasie bloot te stel.

Die eerste groep leerders het die vakan­sieprogram deurloop vanaf 9 Mei en was besonder ingenome met alles waaraan hulle in die kort tyd blootgestel is. Koste hiervoor beloop R2 500 per leerder en sluit verblyf en etes in.

Jeug-en-Landboudag
Die akademie se Jeug-en-Landboudag vind vanjaar vir die derde keer op 26 Julie plaas en raak reeds ’n instelling in skool- en landboukringe.

Tydens dié dag kry jongmense asook die breër gemeenskap die geleentheid om meer oor die akademie en sy werksaamhede te wete te kom én kontak met groot rolspe­lers in die landbousektor te maak. Verder kom jongmense en kinders in aanraking met die akademie se diere wat konyne asook skape en beeste uit hul Merino- en Bonsmara-stoeterye insluit.

Belangstellendes kan Jors Kriek by 082 946 9263 skakel of ’n e-pos na info@reitzlandbouakademie.co.za stuur. Graan SA is ’n trotse borg van die Reitz Landbou-akademie.

Studente van Reitz Landbou-akademie kry die geleentheid om al die vertakkinge van landbou eerstehands te beleef.