NAMPO se werklike sukses lê in vennootskappe

Graan SA Kommunikasie
Gepubliseer: 4 Junie 2024

111

Graan SA se 56ste NAMPO Oesdag, wat van 14 tot 17 Mei 2024 op NAMPO Park net buite Bothaville aangebied is, word allerweë as ’n groot sukses be­skou. ’n Rekordgetal van 86 474 besoekers oor die vier dae – asook 865 uitstallers – bevestig die handelskou se gewildheid onder landbouers, uitstallers, meningvormers en almal in die samelewing wat ’n hart vir landbou het.

Kaartjieverkope vir NAMPO 2024 het uiters goed gevaar en ’n rekord­getal besoekers het deur NAMPO Park se hekke gestroom.

“Dit is vir Graan SA ’n groot voorreg om NAMPO aan te bied. Die werklike sukses van NAMPO gaan oor die noue vennootskappe en samewerking wat ons in die bedryf vestig – soos produsente wat sterker vennootskappe met hulle verskaffers en afnemers het en planne maak om volgende jaar nog beter te doen,” het dr Tobias Doyer na afloop van sy eerste NAMPO as HUB van Graan SA gesê.

’n Nuwe rekordbywoningsgetal op een dag in ’n normale jaar is vanjaar op Woensdag 15 Mei aangeteken met 25 505 besoekers. Die Donderdag se bywoning was ’n kortkop agter die vorige dag s’n met 24 021 besoekers, terwyl die Dinsdag en Vrydag ook goeie aftrek gekry het. NAMPO Park se vliegveld het gedurende die skoudae 290 vastevlerkvliegtuie en 82 helikopters ontvang.

“’n Merkbare rustigheid het die hele week op NAMPO Park geheers en alles het gevloei soos dit moet sonder enige ernstige voorvalle op die terrein. Ons was geseënd met ’n goeie NAMPO,” het Graan SA se dr Dirk Strydom, hooforganiseerder van NAMPO, gesê. “Met heerlike sonskynweer was dit die warmste NAMPO in jare, wat beslis ook tot die goeie bywoning bygedra het,” het hy bygevoeg.

Danie Minnaar, voorsitter van Graan SA se Oesdagkomitee, sê volgens die terugvoer wat hy van uitstallers ontvang het is hulle baie tevrede met die besigheid wat hulle by NAMPO gedoen het. Hy is ook in sy skik dat besoekers die geleentheid gehad het om NAMPO volwaardig te ervaar. “Die algehele vriendelikheid en spontaniteit van uitstallers en besoekers wat ’n mens oral op die terrein opmerk, is sommer net lekker,” het hy gesê.

Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD), Thoko Didiza, het NAMPO vinnig op Woensdag 15 Mei besoek. Ouder gewoonte het sy ’n paar sleutelgesprekke met vennote gevoer – alles in die ontspanne atmosfeer van die Oesdag.

In die Voorsitterslokaal op NAMPO Park het Dewald Olivier (hoof- uitvoe­rende bestuurder van RMIS), Jeremia Mathebula (Graan SA-visevoorsitter), Kallie Schoeman (Schoeman Boerdery), minister Thoko Didiza (DALRRD), Derek Mathews (Graan SA-voorsitter), Japie Grobler (oudvoorsitter van Graan SA) en dr Tobias Doyer (HUB van Graan SA) koppe bymekaargesit.
Dit is reeds tradisie om op die eerste dag van NAMPO ’n kranslegging by die muur van herinnering te doen. By dié geleentheid was Jeremia Mathebula, ds Hannes Haggard van die NG Gemeente Vredefort, Danie Minnaar (voorsitter van die Oesdag-komitee), Derek Mathews, Ramoso Pholo (Graan SA-raadslid) en dr Tobias Doyer.

NAMPO – ’n nasionale bate
“NAMPO is ’n nasionale bate waaraan die hele landbousektor deelneem. Dit is ’n heerlike geleentheid waar leiers kan skouers skuur en verhoudings gebou word wat ons gaan dra deur die volgende jaar se besluitneming en saamwerk om landbou in geheel suksesvol te maak,” het dr Doyer verder gesê.

“Produsente moet deurentyd gefokus wees, want daar is min spasie om te struikel. Ná ’n uitdagende produksieseisoen en met ’n nasionale verkiesing op hande, help NAMPO ’n atmosfeer van optimisme skep, maar met realistiese planne om uit te voer.

“Vanjaar se tema – “Landbou in ’n digitale era” – het tot sy reg gekom, want landbou is by ’n draaipunt van groot dinge wat kom. Ek is verstom oor wat produsente vandag alles tot hul beskikking het om sake op produksievlak te beheer – van genetiese en chemiese tegnologie tot by ’n geweldige hoeveelheid data danksy die ou­tomatisering van landbou.”

Altesaam 290 vastevlerkvliegtuie en 82 helikopters het gedurende die skoudae op NAMPO Park se vliegveld geland.

Bly ingeskakel
Die NAMPO-toep, wat besoekers die geleentheid gebied het om uitstallers te soek, na stalletjies te navigeer en produkte en spesiale aanbiedinge na te vors, sal vanaf 1 Julie lewendig wees met relevante uitstallersinligting sowel as virtuele toere van die 2024 NAMPO-stalletjies.

NAMPO Kaap & ALFA volgende
Graan SA sien ook uit na NAMPO Kaap wat vanaf 11 tot 14 September op Bredasdorp aangebied word en NAMPO ALFA, die lewendehawe-, jag- en buitelewe-ekspo wat vanaf 17 tot 19 Oktober op NAMPO Park plaasvind. “Kom geniet en gebruik NAMPO; dit is lekker as julle saam met ons op dié werf kom boer,” lui die uitnodiging van Graan SA.

2025 se NAMPO Oesdag
NAMPO se datums vir aanstaande jaar is reeds vasgestel op 13 tot 16 Mei 2025 op NAMPO Park, buite Bothaville. Besoek www.nampo.co.za vir meer inligting of volg Graan SA op sosialemedia-platforms.

Daar was iets vir almal by NAMPO 2024 en vir baie was dit ’n heerlike gesinstyd.
Derek Mathews vergesel landbouminister Thoko Didiza op ’n toer van NAMPO Park.
Die volgende generasie se produsente – studente van die Phoka-studenteprogram – het tydens NAMPO die beste van hul geleentheid gemaak om met landbourolspelers te skakel.
By die NAMPO-saadplotte het saadverskaffers die geleentheid gehad om gewasproewe te plant en besoekers kon hul produkte hier van naby bekyk.
Op hulle pos by die Graan SA-inligtingstoonbank was Graan SA-personeellede Elray de Klerk, Wim Venter en Rialeen Lombard.
Die gewilde NAMPO-padstal het vanjaar effens anders daar uitgesien met ’n koffiekroeg en barista in die nuwe kuierarea.
Die Graan SA-ledelokaal het gesorg dat moeë voete ruskans kon kry.

Goudkop Laerskool van Klerksdorp het seker gemaak die jongspan kry ook die geleentheid om NAMPO te beleef.
Die Standard Bank-4×4-baan het oudergewoonte vele voete gelok. Besoekers het die geleentheid gekry om tydens demonstrasies saam te ry.
Landboujoernaliste het van oor die hele land na NAMPO Park gekom om die storie te vertel.
Soos elke jaar het die NAMPO-hekprogram gesorg dat besoekers nie verdwaal nie.
Die OFM-span het regstreekse uitsendings tydens NAMPO behartig deur met uitstallers, landbourolspelers en leiers in georganiseerde landbou te gesels.
Crazy Werrie, wat bekend is vir sy video’s op sosiale media en “Welcome to da bush”, het besluit ’n beeskrip sal lafenis bied teen die hitte.
TUKS Landbou het seker gemaak hulle loop niks van die landboupret mis nie.
Graan SA-personeel het douvoordag al reggestaan om besoekers te ontvang.
Dr Dirk Strydom, hoof: NAMPO, Bemarking en Navorsings­koördinering by Graan SA, gesels met die media op die laaste dag van NAMPO.