Met tegnologie bou ons ’n toekoms

Gepubliseer: 4 Junie 2024

182
Dr Tobias Doyer
HUB, Grain SA

Graan SA se onlangse NAMPO Oesdag, met sy fokus op die nuutste tegnologiese vooruitgang in landbou, het weer eens die beslissende rol van tegnologie uitgelig om suksesvolle en volhoubare graanproduksie te verseker. In ’n tyd waar klimaatsverandering en internasionale markvereistes beduidende uitdagings stel, is die vermoë van produsente om deur innovasie en tegnologie by veranderende omstandighede aan te pas, van kardinale belang.

Dit beklemtoon die noodsaaklikheid daarvan dat graanprodusente hul tegnologiese kennis en vaardighede op ’n deurlopende grondslag ontwikkel in ’n uiters kompeterende landbou-omgewing waar landbouteg­nologie met rasse skrede vooruitgaan.

Wanneer ons na produsente-ontwikkeling verwys, dink ons dikwels dat dit net van toepassing is op ontwikkelende produ­sente. Graan SA het wel ’n volledige program om nuwe toetreders in die graanbedryf te ondersteun. Produsente-ontwikkeling strek egter veel verder aangesien ons ’n holistiese benadering volg wat alle vlakke van graanprodusente insluit – van bestaansboere en nuwe toetreders tot by kommersiële graanprodusente. Alle produsente gebruik en het tegnologie nodig en die meeste van die tegnologie is bruikbaar ongeag die grootte van die produsent. Graan SA het ’n verantwoor­delikheid om hierdie ontwikkelingsproses deur opleiding, blootstelling en toegang vir al ons lede te fasiliteer.

Dit is dus ’n riem onder die hart om te weet dat Graan SA se navorsingsafdeling aan die voorpunt staan van die nuutste tegnologiese landbou-ontwikkeling vir graan- en oliesaadproduksie in Suid-Afrika. Hierdie afdeling bevorder strategiese vennootskappe tussen openbare instellings, privaatsektorentiteite en navorsingsinstansies wat die gesamentlike vooruitgang in landboutegnologie dryf.

Hierdie toegewydheid het uitsluitlik ten doel om landboutegnologie te bevorder met die oog daarop om die winsgewendheid en volhoubaarheid van Suid-Afrikaanse graan- en oliesaadprodusente te verhoog. Graan SA is ook goed gerat om ons lede ingelig te hou oor die nuutste landbou- tegnologiese ontwikkelings aan die hand van die SA Graan/Grain-tydskrif en gereelde streeksvergaderings.

Veertig seisoene
Die gemiddelde graanprodusent het net ongeveer veertig seisoene om te besluit om die beste nuwe tegnologie vir hulle boerdery te identifiseer en te integreer. Gedurende hierdie tydperk moet die produsent staatmaak op duur tegnologiese landbounavorsing wat deur gespe­sialiseerde landbounavorsingsinstansies onder­neem is. Daar word verder van hulle verwag om ingeligte en moeilike tegnologiese besluite te neem wat inherente risiko’s vir hul winsgewende en volhoubare voortbestaan as graanprodusente inhou. Mense sê dikwels dat produsente konserwatief is, maar hulle is eerder uiters omsigtige besluitnemers gegewe die beperkte aantal geleenthede wat hulle het om foute reg te maak of te kapitaliseer op goeie besluite.

Verskeie lande se regerings ondersteun hulle produsente deur omvattende regeringsbefondsing en -kapasiteit beskikbaar te stel om die grootste gedeelte van die finansiële impak van volhoubare ontwikkeling in landboutegnologie te buffer. Die voordele van aanwending van staatshulpbronne vir die ontwikkeling van landbou­tegnologie bevorder nie net die belange van die produsent nie, maar syfer ook deur na alle vlakke binne ’n samelewing.

Deur produktiwiteit en voedselsekerheid te bevorder, dra tegnologiese vooruitgang by tot ekonomiese groei en sosiale stabili­teit. Dit skep ook ’n verbeterde groei van skaal vir produsente wat gevolglik meer bekostigbare voedsel op die verbruiker se tafel sit. Sodoende het Jan Publiek meer besteebare inkomste tot sy beskikking wat aangewend kan word vir sy eie maatskaplike vooruitgang tot voordeel van die breë samelewing.

Dit is ongelukkig so dat daar met die jare gapings ontstaan het met die ondersteuning en befondsing vanaf regeringskant ten opsigte van navorsing in landboutegnologie in Suid-Afrika. Graan SA bly egter daarna streef om hierdie gapings te vul deur effektiewe en langtermynverhoudinge met regeringsinstansies soos die Departement van Wetenskap en Innovasie en die Landbounavorsingsraad te bou. Hierdie strewe na samewerking met die regering het al verskeie suksesvolle vennootskappe tot gevolg gehad.

Gegewe die groot verantwoordelikheid wat Graan SA teenoor sy lede het ten opsigte van produsente-ontwikkeling, is ons vasberade om aan die voorpunt van tegnologiese ontwikkeling te bly en enige tekortkominge in dié verband te takel.

Hierdie verantwoordelikheid strek egter nog verder as daar in ag geneem word dat landbou die fondament van ons samele­wing is. Deur die suksesvolle en innoverende toepassing van landboupraktyke tree produsente op as bewaarders van ’n toekoms waarop ons nageslag kan voortbou.

Wees verseker dat ons as orga­nisasie on­verpoos daarna streef om hierdie doelwit te bereik.