Bekendes kuier saam in die wit tent

Louise Kunz, SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 4 Junie 2024

109

Met kykNET as die nuwe hoofborg van die vroueprogram, is ’n paar bekende gesigte op die terrein van NAMPO Park opgemerk. Dames kon heerlik ontspan en saam met dié sterre in die groot wit tent kuier.

Amore Bekker, bekende stem van RSG, het haar twee passies in die lewe – gesels en kos – gekombineer en die gehoor geïnspireer aan die hand van lesse wat sy uit haar eie ervarings geleer het. Haar “Griekse tragedie” het vertel van haar eie Griekse romanse jare gelede. Die les wat sy uit dié ervaring wou tuisbring, is dat jy jou intuïsie moet vertrou en daarvolgens optree. Sy het ook gesels oor die verlies van haar lewensmaat en hoe dit haar laat besef het dat daar altyd perfekte orde is – ten spyte van die pyn en verwoesting van trauma.

Dag 3 se gesprek het gehandel oor die “sielkunde” van eet. Sy het gedeel oor haar eie stryd met die skaal en hoe sy tot die besef gekom het dat dit ’n leemte in haar binneste was wat sy met kos wou vul – dat daar ’n konneksie tussen eet en emosies is. Amore se NAMPO-kuier is afgesluit met goeie raad om hoop in ’n uitdagende wêreld te soek: “Werk met die kaart wat vir jou gedeel is.”

kykNET, die nuwe hoofborg van die NAMPO-vroueprogram, het ’n kuierarea opgeslaan waar Oesdagbesoekers van die sepiesterre kon ontmoet.
Een van Binnelanders se geliefde karakters, suster Naomi (Je-ani Swiegelaar), gesels met Ewan Strydom oor van haar interessantste oomblikke op stel.
Amore Bekker, voormalige radio-omroeper van RSG wat deesdae as “raakprater” optree, het die vroue (en ’n paar manne) aan haar lippe laat hang.

Ander items op die program
Corli Prinsloo, wenner van die tweede reeks van Koekedoor, en Leon Gropp, wat ’n lid was van die kitaarduo CH2, is deesdae bekende gesigte op ontbytSAKE. Dié twee het kos, komedie en kuns verweef vir ’n treffende program, KOStelik. Met Corli se maklike en vinnige resepte is vroue se vaardighede in die kombuis uitgebrei terwyl Leon vir die musikale vermaak gesorg het.

Plaasjapie-aanbieder Ewan Strydom het ook met ’n klompie sterre gesels en die gehoor het dit ooglopend geniet om die mense agter die sepiekarakters van nader te leer ken. Dit was duidelik dat Sanet van Diepe Waters (Nadia Valvekens) baie aanhangers het. Die span van Binnelanders het Oesdagbesoekers meer vertel oor komiese (en moeilike) oomblikke op die stel: Kate Roothman (dr Nicolette Nortje), Je-ani Swiegelaar (suster Naomi) en Germandt Geldenhuys (Louis Koster). Germandt het boonop Vrydag die skoner geslag met sy fluweelstem bekoor.

Nadine Vosloo is al ’n bekende gesig in die groot wit tent en het weer eens kom demonstreer waarom Tjhoko Paint ’n topverkoper bly. Met min moeite kan jy iets van vaal tot vrolik omskep. Vir Nadine is dit belangrik dat dames “vreesloos en dapper” moet wees as hulle iets kreatief aanpak. Haar raad is dat niks wat oud is weggemaak hoef te word nie – kry net ’n houer Tjhoko Paint.

Borge
’n Groot dankie aan die borge wat die program moontlik gemaak het: Graan SA, Afgri, FNB, Swartland Winery, GL Events, M4 Events en Tjhoko Paint.