NAMPO se werklike sukses lê in vennootskappe

Gepubliseer: 22 Mei 2024

442

Graan SA se 56ste NAMPO Oesdag wat van 14-17 Mei 2024 op NAMPO Park net buite Bothaville aangebied is, word allerweë as ’n groot sukses beskou. ’n Rekordgetal van
86 474 besoekers oor die vier dae – asook 865 uitstallers – bevestig die handelskou se gewildheid onder landbouers, uitstallers meningvormers en almal in die samelewing wat ’n hart vir landbou het.

“Dit is vir Graan SA ’n groot voorreg om NAMPO aan te bied. Die werklike sukses van NAMPO gaan oor die noue vennootskappe en samewerking wat ons in die bedryf vestig – soos produsente wat sterker vennootskappe met hulle verskaffers en afnemers het en beter planne maak om volgende jaar beter te doen,” het dr Tobias Doyer na afloop van sy eerste NAMPO as HUB van Graan SA gesê.

‘n Nuwe rekordbywoning op een dag in ’n normale jaar is vanjaar op Woensdag, 15 Mei, aangeteken met 25 505 besoekers. Die Donderdag se bywoning was ’n kortkop agter die vorige dag s’n met 24 021 besoekers terwyl die Dinsdag en Vrydag elk goeie aftrek gekry het. NAMPO Park se vliegveld het 290 vastevlerkvliegtuie en 82 helikopters gedurende die skoudae ontvang.

“‘n Merkbare rustigheid het die hele week op NAMPO Park geheers en alles het gevloei soos dit moet sonder enige ernstige voorvalle op die terrein. Ons was geseënd met ‘n goeie NAMPO,” het dr Dirk Strydom van Graan SA en hooforganiseerder van NAMPO gesê. “Met heerlike sonskynweer was dit die warmste NAMPO in jare, wat beslis ook tot die goeie bywoning bygedra het,” het hy bygevoeg.

Danie Minnaar, voorsitter van Graan SA se NAMPO Oesdagkomitee, sê die terugvoer wat hy van uitstallers ontvang het, is dat hulle baie tevrede is met die besigheid wat hulle by NAMPO gedoen het. Hy is ook in sy skik daarmee dat besoekers die geleentheid gehad het om NAMPO volwaardig te ervaar. “Die algehele vriendelikheid en spontaneïteit van uitstallers en besoekers wat ‘n mens oral op die terrein opmerk, is sommer net lekker,” het hy gesê.

Die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, het NAMPO vinnig op Woensdag, 15 Mei besoek. Oudergewoonte het Minister Didiza ’n paar sleutelgesprekke met vennote gevoer maar bowenal die atmosfeer van die Oesdag terdeë geniet.

NAMPO! ‘n Nasionale bate
“NAMPO is ‘n nasionale bate waaraan die hele landbousektor deelneem. Dit is ’n heerlike geleentheid waar leiers kan skouers skuur en verhoudings gebou word wat ons gaan dra deur die volgende jaar se besluitneming en saamwerk om landbou in geheel suksesvol te maak,” het Doyer verder gesê.

“Produsente moet deurentyd gefokus wees, want daar is min spasie om te struikel. Ná ’n uitdagende produksieseisoen en met ’n nasionale verkiesing op hande, help skep NAMPO ’n atmosfeer van optimisme, maar met realistiese planne om dit uit te voer.

“Vanjaar se NAMPO-tema, Landbou in ’n digitale era, het tot sy reg gekom, want landbou is op ‘n draaipunt van groot dinge wat kom. Ek is verstom oor wat produsente vandag alles tot hul beskikking het om sake op produksievlak te beheer – van genetiese en chemiese tegnologie tot by ‘n geweldige hoeveelheid data danksy die outomatisering van landbou.”

Bly ingeskakel
Die NAMPO-toep, wat besoekers die geleentheid gebied het om uitstallers te soek, na stalletjies te navigeer en produkte en spesiale aanbiedinge na te vors, sal vanaf 1 Julie lewendig wees met relevante uitstallersinligting, sowel as virtuele toere van die 2024 NAMPO-stalletjies.

NAMPO Kaap & ALFA volgende
Graan SA sien ook uit na NAMPO Kaap wat op Bredasdorp aangebied word vanaf
11-14 September en NAMPO ALFA, die Lewende Hawe, Jag & Buitelewe ekspo wat vanaf 17-19 Oktober op NAMPO Park aangebied word. Kom geniet en gebruik NAMPO; dit is lekker as julle saam met ons op dié werf kom boer.

2025 NAMPO Oesdag
NAMPO se datums vir aanstaande jaar is reeds vasgestel op 13 – 16 Mei 2025 op NAMPO Park, buite Bothaville. Besoek www.nampo.co.za vir meer inligting of volg ons op sosiale media-platforms.