Nog meer te sien by NAMPO 2024

SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 3 Mei 2024

255

Met 865 uitstallers wat regmaak om besoekers te ontvang, kan jy uitsien na vier volgepakte dae van die nuutste, grootste en beste landbou-aanbiedinge by NAMPO 2024. “Landbou in ’n digitale era” is die tema van Graan SA se 56ste aanbieding van dié gewilde landbouskou wat van 14 tot 17 Mei op NAMPO Park net buite Bothaville plaasvind.

Wat is nuut?
Om die groeiende getal uitstallers te akkommodeer is bykomende uitstalruimtes voor die Omnia-standplaas opgerig. Een van die broodnodige opgraderings wat gedoen is, is die aankoop van ekstra kragopwekkers om te verseker dat uitstallers en besoekers nie met die frustrasie van beurtkrag gekonfronteer hoef te word nie. Verskeie paaie is ook geplavei sodat besoekers die uitstalruimtes maklik kan bereik.

Die splinternuwe Midas-saal (naby Hek 2) bied uitstalruimte vir 60 stalletjies wat van landbouprodukte tot meubels en produkte vir dames gaan huisves.

Buiten vir lugtyd op geselsprogramme wat groot blootstelling aan die Oesdag gaan gee en ’n advertensie wat NAMPO bemark, borg kykNET ook vanjaar die vroueprogram. In kykNET se uitstalruimte gaan ’n leefstylarea wees waar Oesdaggangers kan kom bladskud en foto’s neem saam met van die bekendes wat gereeld op die skerm verskyn. Dames sal deur die splinternuwe kruietuin kan stap na die wit tent (wat vanjaar weer terugskuif na sy ou staanplek agter die Shell-saal) om die vroueprogram by te woon.

As jy nie vir die tradisionele NAMPO-kos lus is nie, bied die nuwe Syngenta Boerekos Plaaskombuis die antwoord. In die Six Gun-saal gaan Arina du Plessis van Landbouweekblad smulpape onder meer bederf met meer eksklusiewe happies.

Die NAMPO-toep, terreinkaart en hekprogram is belangrike navigasiehulpmiddels tydens die Oesdag.

NAMPO sonder ’n lekker koppie koffie is nie NAMPO nie. Kyk ge­rus uit vir verskeie plekke op die terrein waar baristas gereed gaan staan om jou te bederf met ’n eksklusiewe beker boeretroos. Die terreinkaart en hekprogram sal meer inligting verskaf, maar die Agri-Alert-saal, NAMPO-padstal en die koffiekroeg voor Tubestone se standplaas is van die plekke waar die koffie-aroma jou gaan oorweldig. Buiten dat die NAMPO-padstal uitbrei met ’n koffiekroeg en barista, gaan die nuwe kuierarea ruimte bied vir moeë voete om te rus terwyl daar gesmul word aan padstalinkopies.

Wat die NAMPO-ervaring in ’n hoër rat plaas, is die NAMPO-toep se skattejag- en beplannerfunksies. In plaas van die gewone interaktiewe kaarte, stel die toepassing ’n opwindende skattejagfunksie bekend wat deelnemers deur die terrein lei op soek na versteekte juwele en eksklusiewe aanbiedinge. So kan deelnemers die wonders van NAMPO 2024 op ’n unieke en onvergeetlike manier verken en ontdek.

Met meer uitstalruimtes is daar genoeg vir elke lid van die gesin om te sien.

Ou gunstelinge
Adrenalienverslaafdes kan weer uitsien na ’n paar aksiebelaaide dae by die Standard Bank-4×4-baan. Besoekers het die geleent­heid om tydens demonstrasies saam te ry – hulle kan vooraf by die uitstalplek van die spesifieke handelaar daarvoor bespreek. Oesdaggangers kan elke dag na twee demonstrasies uitsien – om 10:00 en 14:00. Elke demonstrasie duur sowat 80 minute.

Soos gewoonlik bring die gewilde Nasie in Gesprek-forum rolspelers in die landbousektor byeen om plaaslike en internasionale onderwerpe te bespreek. Dit word tydens NAMPO verfilm, met die sessies wat regstreeks op verskeie platforms uitgesaai word.

Die vee-afdeling, wat beeste, skape, varke en bokke insluit, verteenwoordig byna 100% van die plaaslike groot- en kleinveerasse, met ’n daaglikse stamboom-veeparadeprogram wat in die TAU Rol­lermeule-vee-arena geskeduleer is waar biosekuriteit en protokolle toegepas sal word.

Kom geniet die aksie by die Standard Bank-4×4-baan.

Jaarliks wek die Boereplanne-kompetisie groot belangstelling by die NAMPO Oesdag en vanjaar is geen uitsondering nie. Die totale prysgeld op die spel is R50 000. Hierdie kompetisie van Graan SA, Omnia en Landbouweekblad, wat bykans vier dekades lank reeds bestaan, het verlede jaar ’n rekordgetal inskrywings gelok.

Beoordeling vind op Dinsdag 14 Mei plaas en die prysuitdeling is om 12:00 op Donderdag 16 Mei.

Kry jou kaartjie by die hek of aanlyn

  • Kaartjies is weer vanjaar by die hekke én aanlyn te koop.
  • Die webadres vir aanlyn aankope is www.ticketpros.co.za.
  • Aanlyn kaartjies is sedert 1 April 2024 beskikbaar.
  • Aanlyn kaartjies kos R110 per persoon en dié by die hekke R130 per persoon.
  • Kaartjiepryse is dieselfde vir al die NAMPO-dae.
  • Voorskoolse kinders het gratis toegang.
  • Hekke open om 07:00 en sluit om 17:00.
  • Aanlyn kaartjies kan by toegangshekke van selfone af skandeer word, mits die foon se skerm nie gekraak is nie.