Bangmaakgeluide in die nag …

Gepubliseer: 29 Februarie 2024

306
Dr Tobias Doyer
HUB, Graan SA

“Wat laat produsente snags wakker lê? Produsente is planmakers” is die tema vir vanjaar se kongres. Produsente se bekommernisse is ons bekommernisse en ons sal diep delf om by die kern van die kwessies te kom wat produsente slapelose nagte besorg. En ons sal die oplossings vind – want ons is probleemoplossers.

Die denkreis van Graan SA se Hoofbestuur op pad Kongres toe het afgeskop met ’n interaktiewe sessie saam met Clem Sunter. Hy het sy veranderingsaandrywers of “merkers” gedeel wat ons gaan voortdryf na poten­siële toekomsscenario’s. Clem se twee hoofscenario’s is “People’s Economy” en “Cautionary Tale”. Hierdie twee scena­rio’s verteenwoordig onderskeidelik ’n inklu­siewe en suksesvolle toekoms waarin alle Suid-Afrikaners op een of ander manier aan die ekonomie kan deel hê of ’n droewige toekoms vol interne konflik, twis, armoede en ’n mislukte staat.

Ons het tyd spandeer om te besin oor die dryfkragte wat graanprodusente se lot bepaal. Gaan ons op die ou end op die Knersvlakte beland of in Hoopstad? (Ek hoop nie hierdie pragtige plekke met hul uiters beskrywende name neem aanstoot nie). Hierdie is ’n klompie aanvanklike ge­dagtes wat voortspruit uit ons beraadslaging en gesprekke met produsente gedurende die streeksvergaderings.

Die globale ekonomie is ’n groot skip wat ons almal in sy volgstroom saamsleep. ’n Sterk wêreldekonomie is altyd goeie nuus vir landbouprodusente aangesien ryker mense meer proteïenryke en komplekse diëte geniet, wat weer die vraag na graan stimuleer. Dit het ’n aansienlike invloed op Suid-Afrika se graanbedryf aangesien ons onderling verbind is met internasionale handelsdinamika en markskommelinge soos gesien word met die impak wat die Oekraïniese oorlog op graanpryse het. Die volhoubaarheid van die Chinese ekonomie, wat ’n groot deel van die laaste klompie dekades se ekonomiese groei en vraag aangedryf het, is besig om te verlangsaam.

Watter land sal verrys as die volgende aandrywer van groei? Dit lyk of Amerika goed vaar met ’n jonger bevolking en ontluikende kleinsakesektor. Europa bly konsekwent (’n belangrike woord) lusteloos en talle waarnemers toon groot belangstelling in die rigting wat die Indiese ekonomie inslaan. Wisselvallige kommoditeitspryse, aangevuur deur globale ekonomiese tendense, is iets anders wat produsente snags wakker hou aangesien dit ‘n beduidende invloed op hul winsgewendheid het.

Die omgewing (die E in ESG) versteur ook produsente se slaap, maar op ’n ander manier. Suid-Afrikaanse graanprodusente swoeg en sweet te midde van ’n weerverskynsel genaamd ENSO (El Niño Suidelike Ossillasie). Hierdie klimaatsverskynsel vertoon onreëlmatige kwasi-periodieke variasie in winde en see-oppervlaktemperature oor die tropiese Stille Oseaan. Dit beïnvloed die klimaat van groot dele van die tropiese en subtropiese streke. Ons worstel met herhalende droogtes, vloede en onreëlmatige weerpatrone wat ’n direkte uitwerking het op oesopbrengste en kwaliteit. Hierdie omge­wingsonsekerheid ontwrig plantskedules, vererger siekte- en plaagkwessies en dra by tot verhoogde pro­duksiekoste vir produsente.

Ons internasionale produsente-eweknieë in Europa het onlangs die strate ingevaar om op te staan teen wat hulle ’n radikale omge­wingsagenda noem wat lei tot EU-direktiewe en burokrasie wat “hulle in regulasies laat verdrink”. Produsente beskou omgewingsbewaring in ’n baie ernstige lig, aangesien dit die nalatenskap vir ons kinders is om ’n bestaan mee te maak. Omgewingsradikalisme en wisselvalligheid dra beslis by tot produsente se rustelose nagte.

Op plaaslike produksievlak is daar vir my drie merkers wat tans bo-aan die lys is – infrastruktuur, sosiale stabiliteit en (bio)tegnologie.

Infrastruktuur is ’n fundamentele merker in die graanbedryf, wat vervoer (beide pad en spoor), hawens, water, elektrisiteit en opber­ging insluit. Slaggate, vlak en stadige hawens, geplunderde spoorwegseine en beurtkrag veroorsaak vertragings, ondoeltreffendheid, addisionele koste en – glad nie verbasend nie – graanprodusente wat rondrol in die nag. Ek is bekommerd oor hoe plattelandse en landbou-infrastruktuur geprioritiseer word in die nasio­nale debat. Hawens en snelweë sal aandag op nasionale vlak geniet, maar die dinge wat werklik voedselkoste opjaag, is plattelandse paaie en sylyne, aangesien die grootste deel van landbouproduksie plaaslik verbruik en nie uitgevoer word nie. Elke slaggat dra by tot die koste van elke maaltyd van elke Suid-Afrikaner en ons sal hierdie koste-aandrywer moet dophou. Doeltreffende infrastruktuur is noodsaaklik vir ons mededingendheid in die wêreld, wat direk omgesit kan word in bekos­tigbare voedsel.

’n Produsent het onlangs vir my gesê dat ’n mens nie kan boer langs ’n gemeenskap wat honger en kwaad is nie. Die politieke klimaat sluit sosiale stabiliteit in asook beleid wat die graanbedryf noemenswaardig beïnvloed. Die komende verkiesing bring ’n element van onvoorspelbaarheid omdat dit moontlik kan lei tot leierskapverskuiwinge en die gevolglike veranderings. Plaaslike leierskap en aanspreeklikheid is deurslaggewend vir effektiewe bestuur en die implementering van beleid wat ’n omge­wing skep wat bevorderlik is vir die volhoubare ontwikkeling van die graanbedryf. Dienslewe­ring wat faal in die platteland raak ons almal omdat dit plaaslike produksie kortwiek en ons gemeenskappe arm en desperaat laat.

Biotegnologie is ’n transformerende merker in die graanbedryf, wat innovasies bied soos genoomredigering van gewasse om opbrengs te verbeter, plae te weerstaan en ongunstige omgewingstoestande te verdra. Biotegnologie kan “beter” oeste vinniger lewer op ’n volhoubare en veilige manier. Alhoewel biotegnologie belowende voordele bied, laat dit ook vrae ontstaan oor markaanvaarding en hoe ons regulatoriese raamwerk gaan tred hou om hierdie vooruitgang beskikbaar te stel vir graanprodusente.

Gradatim ferociter – “tree vir tree, onverskrokke” – is die leuse van Jeff Bezos se ruimte-onderneming. Ja, die aandry­wers van verandering is skrikwekkend en kan ’n mens soms laat wakker lê, maar ’n boer maak ’n plan. Tree vir tree, onverskrokke, stap ons aan in die rigting van Hoopstad en weg van ’n Knersvlakte af.