Die NAMPO Alfa Lewendehawe-, Jag- en Buitelewe-ekspo wat van 12 tot 14 Oktober op NAMPO Park aangebied is, het oor die drie dae meer as 8 600 besoekers gelok. Dit is amper 30% meer as in 2022 toe die skou sy debuut gemaak het.
Vanjaar het die getal uitstallers ook verhoog met 30 nuwe uitstallers wat die geleentheid aangegryp het om hul produkte by die ekspo te vertoon.
Die kombinasie van lewende hawe, jag en die buitelewe maak NAMPO Alfa uniek en ’n skou wat beloof om al hoe meer gewild te wees onder buitelewe-entoesiaste. Dr Dirk Strydom, hoof: Bemarking, NAMPO en Navorsingskoördinering by Graan SA, meen dat al drie komponente ’n integrale deel van die Suid-Afrikaanse landbougemeenskap vorm. “Wat hierdie ekspo uniek maak, is die ruim geleentheid wat vir besoekers geskep word om verskeie produkte en dienste self prakties uit te toets. NAMPO Park beskik oor die ideale terrein en fasiliteite in dié verband,” het hy bygevoeg.
Nuut by NAMPO Alfa in 2023 was die hengelkomponent waar besoekers aan verskeie aktiwiteite kon deelneem. ’n Kol-vergooibaan het geleentheid gebied om die nuutste reeks stokke en katrolle op die proef te stel. Hengelaars kon ook teen mekaar meeding om te kyk wie die grootste diepseevis sal kan uittrek. Volgens Raymano Venter, eienaar van Legends Pro Angling wat vanjaar vir die eerste keer by NAMPO Alfa uitgestal het, was daar groot belangstelling in die hengeltoerusting wat ten toon gestel is.
Die veekomponent van die ekspo is weer deur die African Livestock Trade Fair (ALFA) behartig en die propvol program het aan besoekers die geleentheid gebied om kampioendiere van naby te sien.