Die laaste bladsy

Gepubliseer: 12 Desember 2023

375

Beste Grootneef

Die laaste bladsy van die almanak hang aan ’n repie. Al die verjaarsdae, veilings, troues en komiteevergade­rings is verby. So drup die jare se sandkorrels een vir een deur elkeen se uurglas, met elke sonsondergang wat die mens aan sy geleende tyd op aarde herinner.

Ou Neef, Oujaar is terugkyktyd. Die bollie, spanning en stres mymer nie eintlik in die gedagtes nie. Wie wil nou terugdink aan daardie oomblik toe die taxi die bakkie se enjinkap opgefrommel het? Dis die geleenthede met vervulling wat staanplek kry. Soos toe Rassie en sy span ’n Wêreldbeker omhoog gehou het. Koue wintersoggende in die jagveld. ’n Kabeljou aan die hoek of jou gesin se saamwees om ’n kampvuur. Dis dáárdie herinneringe wat sorg vir kooltjies vir die oudag se kaggelvuur.

Wat hou 2024 vir ons in? Dis die groot vraag. Een ding is seker, politiek gaan ons ore laat tuit. Dit is mos maklik om uit te deel wat nie joune is nie.

’n El Niño? Die weerprofete praat almal bang met ’n midsomerdroogtespook.

Dieselpryse? Insetkoste? Met die randwaarde is daar nie eintlik enige waarskynlikheid dat dit goedkoper gaan raak om mielies te plant nie.

Rondlopers wat ysterpale en skape steel? Waarskynlik meer van hulle – hul lewenskoste styg ook en ’n man moet ’n plan maak as die hongerte aan die deur kom klop.

Nog ’n korrupsieskandaal? Met ons huidige span ministers is dit heel waarskynlik. As iemand uitgevang word, is hy jammer daaroor. Nie oor wat aangevang is nie, maar dát hy uitgevang is – want dan moet hy ’n diplomaat in Holland word.

Ou Neef, die dinge wat ’n mens laat wakker lê sal altyd met ons wees. Maak nie saak in watter land nesgeskrop word nie. Hou maar dop – daar is nie ’n plekkie op die aardbol waar daar tans nie ’n kwelling oor die dag van môre is nie.

Môre is Oujaarsdag. Die nuwe jaar is een sons­opkoms en een sonson­dergang weg.

Is daar raad van ’n wyse man vir 2024? Stellig nie. Bly glo in die goedheid van die mensdom, maar sluit jou hek. Hou ’n kan diesel in die stoor gereed, net vir ingeval. Jy weet jy gaan ook jou beurt kry met beurtkrag – hou maar die kerse en vuurhoutjies op dieselfde plek om maklik in die donker raak te vat. Hoor wat politici kwytraak, maar vat dit met ’n knippie sout. Praat minder, luister meer. Gee meer tyd om met jou kinders deur te bring. Wees daar vir jou wederhelf. Vat ’n biertjie in die aand en braai ’n vleisie. Luister na die naggeluide. Verwonder jou aan die hemelruim. Gaan kyk hoe lyk die Weskus. Beleef Stormsrivier se groot branders. Kyk met nuwe oë wanneer ’n aandblom vir
’n enkele nag mooier is as Salomo in al sy prag en praal.

Maak 2024 ’n jaar van leef en beleef. Want sommer gou trek jy weer by die laaste bladsy op die almanak.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.