Hoër olieprys en swakker wisselkoers maak vuur onder dieselprys

Gepubliseer: 2 Oktober 2023

615
Christiaan Vercueil,
landbou-ekonoom,
Graan SA, christiaan@grainsa.co.za

Vir die maand van Augustus 2023 het oliepryse gemiddeld teen $85,13/vat verhandel. Dit het gelei tot ’n verhoging in die brandstofprys vir September 2023. Die basiese brandstofprys het in September na R14,97 gestyg vanaf R12,13 in Augustus (dit is die werklike koste van diesel). Hierdie stygende pryse volg op rekordpryse wat in 2022 gesien is, maar onlangs op ’n afwaartse tendens was weens laer oliepryse.

Werklike data vir die 2019/2020-seisoen toon dat brandstof naastenby 10% van produsente se totale produksiekoste uitmaak. Brandstofpryse het jaar op jaar vanaf September 2022 tot September 2023 met 4% gedaal. Kunsmispryse het jaar op jaar met ongeveer 45% gedaal, maar saadpryse het ’n styging van gemiddeld 13,2% getoon.

Hoe die dieselprys bepaal word
Die bepaling van die brandstofprys is nie ’n konsep waarmee die meeste Suid-Afrikaners bekend is nie. Die aankoop van petroleumprodukte op die internasionale mark teen invoerpariteit en die vervoer daarvan is die grootste faktore wat die basiese brandstofprys opmaak. Hierdie twee faktore word sterk deur die internasionale olieprys en die rand/dollar-wisselkoers beïnvloed. Bo-op die basiese brandstofprys (werklike koste van brandstof) word belasting en heffings deur die regering bygevoeg. Grafiek 1 toon ’n uiteensetting van die groothandelprys van diesel (0,05% S) teen R23,05/ℓ (soos aangeteken op 1 September 2023).

Grafiek 1: ’n Uiteensetting van die groothandelprys van diesel.
Bron: Sentrale Energiefonds en Graan SA

Die “Ander”-segment word saamge­stel uit opberging en distribusie asook die vervoer- en groothandelsmarge.

  • Basiese brandstofprys: R14,97/ℓ (65%)
  • Belasting en heffings: R6,04/ℓ (26%)
  • Ander: R2,04 (9%)

Grafiek 2 toon die prysverandering van die olieprys (indeksbasis), basiese dieselprys (werklike koste van diesel) en die groothandeldieselprys vanaf Februa­rie 2014 tot Augustus 2023. Die grafiek toon ’n duidelike korrelasie tussen die verande­ring in die olieprys en ’n gekorreleerde verandering in die basiese dieselprys. Die korrelasie tussen die olie- en groothandeldieselprys is 71% vanaf Januarie 2021 tot Augustus 2023. Die afwyking van die gelandedieselkoste en groothandel­dieselkoste kan verduidelik word deur die veranderinge in heffings, belasting, vervoer- en groothandelsmarges.

Grafiek 2: Grafiek wat die verandering in pryse van ru-olie, gelande diesel en groothandeldiesel in indeksvorm aandui vanaf Februarie 2014 tot Augustus 2023.
Bron: Graan SA

Belasting en heffings
Die twee grootste heffings is die algemene brandstofheffing en die Padongelukkefondsheffing (RAF).

Die algemene brandstofheffing is ’n heffing op elke liter brandstof en het in die 2019/2020- fiskale jaar R80 biljoen gegenereer wat gelykstaande is aan omtrent 6% van die totale nasionale belastinginkomste. Hierdie heffing vloei in die Nasionale Inkomstefonds in. ’n Gedeelte daarvan word geoormerk vir verdeling tussen Suid-Afrika se agt metromunisipa­liteite. In die 2019/2020- fiskale jaar is altesaam R13,2 biljoen aan die munisipaliteite oorbetaal.

Tans staan die Padongelukkefondsheffing op R2,18/ℓ – dit het vir die 2019/2020- fiskale jaar R41,2 miljard ge­genereer.

Grafiek 3 toon die verhouding van die beweging van gelande koste van diesel met die beweging van heffings en belasting. In die jaar 2000 was die groothandelprys R3,00/ℓ. Van hierdie R3,00 was slegs 26% belasting. Gelande koste speel in onlangse tye ’n heelwat groter rol in brandstofpryse met heffings en belasting wat ’n kleiner rol begin speel weens hoër oliepryse en ’n swakker wisselkoers.

Grafiek 3: Beweging van die gelande koste van diesel teenoor die totale heffing op diesel.
Bron: Graan SA

Grafiek 4 dui die toename in die basiese brandstofprys, die algemene heffing, die Padonge­lukke­fondsheffing en ander bydraende faktore as indekse ge­middeld jaarliks aan. Dit is duidelik uit die figuur dat die belas­ting en heffings konstant sterk toeneem ongeag die basiese brandstofprys. Die Padongelukkefonds­heffing het met 381% en die algemene brandstofheffing met 247% toegeneem vanaf 2008. Die basiese brandstofprys het met 80% toe­geneem in dieselfde tydperk. Dit wil sê dat die Padongelukkefondshef­fing 301% en die algemene heffing 167% vinniger toegeneem het as die basiese brand­stofprys.

Grafiek 4: Dieselprys as indeks voorgestel.
Bron: Graan SA

Gevolgtrekking
Met ’n groothandeldieselprys van R23,05/ℓ en heffings en belasting van R6,03/ℓ is laasgenoemde 26% van die totale koste per liter diesel.

Individue is dikwels onder die wanindruk dat brandstofpryse, uitgesluit belas­ting en heffings, nie korrek aangepas word nie. Dit is egter nie die waarheid nie. Soos gesien in Figuur 1 is daar ’n duidelike verhouding tussen die brandstofprys en die olieprys. Die groot teenstrydigheid is belasting en heffings en die groot effek wat dit op die groothandelprys van brandstof het. Hierdie effek kan deur produsente verminder word deur getrou boek te hou van brandstofverbruik en die dieselrabat vir produsente van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens af terug te eis. Die waarde van hierdie rabat wat teruggeëis kan word, is R3,66/ℓ.

Vir interessantheid
Suid-Afrika ervaar tans uiters hoë brandstofpryse. Dit is nie net ’n klip in die skoen vir produsente nie, maar vir die hele waardeketting tot by die eindverbruiker. Elke produk moet deur die waardeketting beweeg om in die finale vorm te kom waar dit uiteindelik verbruik word. Dit beteken dat hoë dieselpryse veroorsaak dat alle produkte se pryse styg, wat weer hoër inflasie tot gevolg het. Dit is ’n bose kringloop met die hele waardeketting wat die las moet dra.